Ouers gewaarsku oor skoleaansoeke-slenter

Die valse kennisgewing wat versprei word. (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het inwoners van Kaapstad gewaarsku teen ʼn vals kennisgewing wat die ronde doen waarin ouers genooi word om hul kinders te registreer vir plek in graad 1 en graad 8 in skole volgende jaar.

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie van die provinsiale departement van onderwys, sê sover die departement se kennis strek, word die vals kennisgewing tans in Dunoon versprei.

Die kennisgewing dui aan dat aansoeke vir graad 1 en graad 8 vir 2020 tans oop is en dat ouers net tot 15 Maart kans het om hul kinders in te skryf.

Ouers word aangesê om nie hul kind direk by die betrokke skool in te skryf nie, maar die kind se geboortesertifikaat, laaste rapport en die ouer se ID na Silulo Ulutho Technologies te bring om die kind in te skryf. ʼn Bedrag van R50 word vir elke aansoek gehef.

“Die kennisgewing is vals. Daar is slegs een amptelike kennisgewing vir aansoeke en dit is die departement se amptelike toelatingskennisgewing,” sê Hammond. “Ouers moet hul kinders by die betrokke skool inskryf óf deur die Wes-Kaapse departement van onderwys se webtuiste. Ons is nie bewus van enige amptelike of goedgekeurde inskrywingstasie by enige maatskappy soos op die kennisgewing genoem nie.”

Hammond sê verder ouers word nie geld gevra om hul kinders by ʼn skool in te skryf nie. Sy sê dit is ook kommerwekkend dat die departement se handelsmerk sonder toestemming op die kennisgewing gebruik word.

Hierdie is die enigste amptelike kennisgewing wat deur die Wes-Kaapse departement van onderwys uitgereik is. (Foto: Verskaf)

“Ons grootste kommer is egter dat ouers betaal vir ʼn diens wat nie voor betaal hoef te word nie,” sê Hammond.

Sy sê die departement het Silulo Ulutho Technologies gekontak nadat die kennisgewing onder hul aandag gekom het. “’n Man van die Dunoon-kantoor het bevestig hulle moedig ouers aan om by hulle aanlyn te registreer. Hy sê hy is deur ʼn Wes-Kaapse skool gevra om dit so te doen sodat hulle ouers kan help met die aanlyn inskrywing. Hy het aangedui die R50 is die koste om internettoegang te verskaf.”

Hammond sê die departement het egter navraag by die betrokke skool gedoen en die skoolhoof sê die skool het geen verbintenis met die maatskappy nie en dra geen kennis van die “versoek” om ouers met aanlyn inskrywings te help nie.

“Dit is jammer dat iemand probeer om armes deur hierdie proses uit te buit. Ons wil daarom alle ouers waarsku dat hierdie ʼn slenter is. Jy het nie toegang tot digitale hulpbronne nodig om jou kind in te skryf nie. Jy kan by enige skool versoek om ʼn papier-aansoekvorm in te vul.”

Sy het bevestig dat aansoeke vir volgende jaar wel op 15 Maart 2019 sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GM ·

Weet iemand wanneer Gauteng se skoleregistrasies begin en eindig?

Onnie ·

Die taalfoute en sinskonstruksie lyk soos die smse wat ek kry as ek die UK Lotto gewen het en ek moet Mr. Peter by die en dai nommer bel. What a joke, ek hoop nie Afrikaners val vir die slenter nie.

Abe ·

Dit is uiters belangrik dat baie strenger opgetree moet word teen die verspreiding van vals nuus van enige aard selfs al moet ingrypende wetgewing ingestel of geproklameer word om dit te vermag. Dit is tog in almal se belang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.