Ouers gewaarsku teen onwettige, onveilige karstoeltjie

‘n Foto van die karstoeltjie (Foto: Verskaf)

Die Wheel Well-organisasie het ouers in ʼn dringende verklaring gewaarsku teen ʼn sogenaamde motorstoeltjie wat na bewering onwettig is en nie strook met die veiligheidsbepalings wat dié stoeltjie behoort te hê nie.

Die organisasie het vroeër vandeesmaand in ʼn verklaring gesê ouers wêreldwyd wend hul tot dié motorstoeltjie, wat in wese eerder ʼn harnas is, omdat dit glo aansienlik goedkoper as ander stoeltjies is.

“Alle ouers wil hul kinders so goed as moontlik beskerm,” lui die verklaring. “Wanneer dit by jou kind se veiligheid in ʼn motor kom, kan die regte motorstoeltjie baie duur wees en sommige ouers is daarom in die versoeking om die goedkoper alternatief aan te skaf.”

Duisende ouers wêreldwyd het volgens die verklaring reeds dié “stoeltjie” aangeskaf.

“Ons wil ouers inlig oor die gevare daarvan om dié goedkoper alternatief aan te skaf in plaas van ʼn behoorlike motorstoeltjie wat strook met Europese veiligheidsregulasies. Owerhede van die Verenigde Koninkryk het ná veiligheidstoetse bewys dié sogenaamde harnasse is uiters onveilig. In ʼn laespoedongeluk van so min as 60 km/h word die baba uit die stoeltjie na voor geslinger.”

Wheel Well sê ʼn EU-goedgekeurde motorstoeltjie is egter veilig vir kinders teen ʼn spoed so hoog as 100 km/h.

“Met die hoë impak wat met ʼn ongeluk gepaardgaan, is dit belangrik dat ouers motorstoeltjies koop wat by huidige standaarde en regulasies hou. In Suid-Afrika is dit Europese veiligheidstandaarde.”

Ouers wat nie ʼn goedgekeurde stoeltjie kan bekostig nie of bekommer is oor die veiligheid van hul huidige stoeltjies, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Francois le Cochon ·

‘n Goeie maatstaf om ouers se leifde teenoor hul kinders te meet, is of hul babas, peuters, kleuters, tieners, asook hul volwasse kinders, vasgemaak is in hul motor. Dit is nogal skokkend om te sien hoeveel ouers nie lief is vir hul kinders nie, en nie omgee vir hul lewens nie.

Net feite reg kry. ·

My volwasse broers WEIER om hul karsitplek gordels te dra. Al praat en smeek en dreig my BAIE liefdevolle ouers hulle hoe veel keer op n rit van 1000km. Dit help niks. Tieners, kleuters, peuters ens kan mens dalk iets aan doen.
Maar n grootmens wat nie wil luister nie kan mens niks aan doen nie.
Groete jongste van 5 (almal eem ouer paar se kinders

Helizna ·

Net Feite… as almal nie vas is nie, start my kar vir een of ander rede nie… ;) Maar ek stel voor: vra grootmense vir die boetegeld vooraf, sodat ek nie vir hulle sotlikheid hoef te betaal as ek afgetrek sou word nie.

Sonja ·

Ek stem saam Francois, te veel ouers maak nie gebruik van karstoeltjies nie, veral as hulle vinnig winkel toe ry en reken dat dit mos nie ver is nie. En soveel kere het ek al opgelet dat ma of pa vasgegordel is, maar kleinding staan op die voorste sitplek. As jy met hulle daaroor praat, word hulle woedend en vertel so maklik dat dit niks met jou te doen het as buitestaander nie. Tragies verby!!!

Willem ·

Kyk, as jy genoeg geld het om ‘n kar te koop EN ‘n kind het, dan MOET JY genoeg geld hê vir ‘n veilige kinderstoeltjie.

Piet Pompies ·

Veiligheid in ons motor was van dag 1 nie onderhandelbaar en die reel is nog steeds staande, daar word nie gery voordat almal vas gegordel is. Ons kleinkind se motor stoel is permanent in die motor en hy is ook van geboorte in die stoel gesit. Selfs die 5 jare soldaat beskou die goeie gewoonte as deel van motor ry.

MET DIE MAAT WAARMEE JULLE MEET! ·

Duidelik leef julle in ‘n ander wereld as die armes in SA. Maroela weier om my post te plaas, maar ek sal nie ophou om te se ons Afrikaners is SNOBS nie. Daar is mense wat nog met ou karretjies aankarring wat nie sitplekgordels het nie, wat nog te se karstoeltjies? Dit is hoeveel ons vir mekaar omgee, want ons ry ‘n 4 x 4 en kyk uit die hoogte die ou met die karrretjie wat so rook aan. Ten minste is daar darem mense wat MEER omgee en karstoeltjies skenk vir diegene wat dit nie kan bekostig nie. Hou op in ‘n bubble te leef en kyk bietjie om julle hoeveel ARM mense is daar wat moet sukkel net om ‘n petroltjie in hulle kar te kan gooi om hulle kind skooltoe te vat. Mense is steeds lief vir hulle kinders, maar kan ook net soveel bekostig. Mens meet nie liefde hieraan nie, sommige mense probeer net oorleef.

A ·

Ek verstaan van die arm mense wat dit regtig nie kan bekostig nie. Maar die mense met hulle 4X4 en duur BMW’s wie se kinders tussen dit sitplekke sit of op die passasier se skoot sit slaan my dronk. Jy het die geld, maar waar is jou verantwoordelikheid wanneer dit kom by die beskerming van jou kinders.

Arm mens kan elk geval nie vinnig ry met hulle skedonkies nie en daarom kan mens net hoop die beserings sal nie dodelik wees nie. Maar die wat die geld het en steeds nie ‘n karstoeltjie gebruik nie is nie geskik om ouers te wees nie.

Estelle ·

As jy te arm is om selfs net ñ gemiddelde motortjie vir jou eie en mede padgebruikers te koop, dan is jy te arm om kinders te hê.

Kinders kom onskuldig die wêreld binne. En is dan uitgelewer aan hul ouers se beperkinge.

Oud, jonk, arm of welgesteld… kinders hoort veilig vasgemaak. Hou net een keer ñ vlenter lyfie vas in jou arms wat uit ñ motorwrak uitgehaal is, dalk gaan jou oë dan oop.

Willem ·

Geen verskoning nie. ‘n Tenk petrol kos R500, jy kan tweedehands dan by Baby Exchange ‘n stoeltjie koop. En as ‘n kar nie sitplekgordels het nie is dit nie padwaardig nie en MAG NIE op ‘n openbare pad bestuur word nie. So vergeet van “snobs”, bloot wetsgehoorsaam en lief vir my kind

Snobber ·

Grootste snert wat jou nou praat. Dit is dieselfde veskoning om te gebruik as ek gesteel het. Ek is arm nou steel ek. Maak jou kind veilig vas en hou op veskonings uitdink.

E ·

Die Wheel Well organisasie se maatskappye wat aan hul behoort het seker geval in sales nadat iemand die nuwe stoeltjie ingebring het?

Sonofchamp ·

Wheel well is ‘n NPO. Hulle help mense wat nie kar stoeltjies kan bekostig nie. Hulle is nie ‘n vervaardiger nie en be sitting nie maatskappye nie.

vra net ·

Nou hoe nou gemaak, soms vat of gaan haal ek die klein goed, soms doen my vrou. Moet ons nou vir beide motors stoeltjies kry, of moet ons eers na mekaar se werksplek ry om stoeltjies te kry?

Voorstel ·

Ons kind se kleuterskool het geen probleem daarmee dat ons die stoeltjie daar los nie. Dus help dit selfs as beide ouers vas brand en ouma kan haar gaan haal. Ek hoop julle skool sal die oplossing ook kan tegemoed kom. Groete

Willem ·

Los by die skool, of ruil bloot in die oggend, dit vat 30 sekondes

Fires ·

Ek is seker daar is baie sulke stoeltjies wat in motorhuise le en stof opgaar omdat die kinders al groot is. Kan dit nie aan ‘n organisasie geskenk word om dit te versprei aan die wat dit nie kan bekostig

SARIE VAN HEERDEN ·

Insittendes wat nie hul veiligheidsgordels in ‘n motor gebruik nie is ‘n baie groot gevaar vir die ander passasiers want ten tye van ‘n ongeluk is hy los en val hy op almal in die motor. As jy saam met MY ry maak jy jou gordel vas of klim uit en loop waarheen jy wil gaan.

Ronell ·

Sedert ek kan onthou het ons ouers ons geleer om regop te staan, loop en sit. Hierdie stoeltjies veroorsaak dat ‘n pasgebore pap baba soos ‘n konsertina inmekaar gedruk word, ruggie en nekkie krom getrek. Die enigste mense wat al die pad bank toe lag, is die ontwerpers en ortopediese chirurge, hoekom?, want hul weet oor 15 tot 20 jaar gaan hulle ‘n stormloop hê van pasiënte wat sukkel met rug en nek probleme. Ja, die stoeltjie is ‘n veilige opsie, maar ontwerp dan ten minste een wat geskik is vir ‘n pap baba wat hom/haarself nog nie regop kan hou nie. Telkens wanneer ek ‘n kleuter in so ‘n stoeltjie kop onderstebo sien slaap, gaan my hart uit na die arme bloedjie wat so ongemaklik moet slaap. Die stoeltjies mag wel veilig wees, maar in werklikheid word die baba verniel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.