Ouers groet kinders finaal ná gru-ongeluk

Die Slabber-gesin. Foto: Facebook

Die Wes-Kaapse egpaar wat albei hul kinders aan die dood moes afstaan toe die gesin op 30 Julie in ʼn motorbotsing betrokke was, sal hul seun en dogter hierdie naweek ter ruste lê.

Ryno en Michelle Slabber was saam met hul kinders, Kendre (8) en Mia (6), in ʼn trompop botsing buite Piketberg betrokke. Kendre en Mia het in die ongeluk gesterf en Ryno en Michelle het albei ernstige beserings opgedoen. Die bestuurder van die ander voertuig het ook in die botsing gesterf.

Michelle is met onder meer ʼn gebarste dunderm, gekneusde long, gekraakte borsbeen en bekken en gebreekte sleutelbeen in die waakeenheid van ʼn private hospitaal opgeneem. Ryno het erge skade aan sy regterbeen opgedoen wat op twee plekke gebreek het en waarop daar later ʼn veloorplanting gedoen moes word. Sy sleutelbeen is ook gebreek en sy long gekneus.

Die ouerpaar moes in hul hospitaalbeddens die verpletterende nuus aanhoor dat albei hul kinders in die ongeluk gesterf het.

Terry Render, ʼn goeie vriend van Ryno wat as woordvoerder vir die familie optree, het aan Maroela Media gesê Ryno is eers verlede week uit die hospitaal ontslaan en Michelle reeds die vorige week. “Dit gaan fisiek goed met hulle,” het hy gesê.

“Ryno moet oor twee weke weer teruggaan hospitaal toe sodat daar op sy voet geopereer kan word. Dit lyk asof hy sy voet ook in die ongeluk gebreek het, maar dit is nie met die eerste x-strale waargeneem nie. Die voet is dus nou bietjie skeef, maar hy kan stadig rondbeweeg,” het Render gesê.

Hy het gesê Ryno en Michelle kry albei fisioterapie om hulle te help om van hul beserings te herstel. “Hulle het nog nie 100% herstel nie en daar lê nog ʼn lang pad voor, maar die dokters is baie tevrede.”

Intussen ontvang die egpaar berading om hulle te help om die trauma en verlies van hul kinders te verwerk. “Ryno is ʼn vegter en hy kan ʼn dapper gesig opsit, maar dít is vanselfsprekend ʼn verskriklike moeilike ding om deur te gaan. Dit is vir hulle baie swaar,” het hy gesê.

Ryno en Michelle Slabber by hul kinders, Kendre en Mia.

“Ek dink die volgende hekkie wat hulle moet oor, is Saterdag wanneer hulle hul kinders ter ruste moet lê. Daarna begin ʼn hele hoofstuk van hul herstelpad wat net so moeilik gaan wees.”

Render het vroeër gesê die begrafnisreëlings is teruggehou totdat die Slabber-egpaar genoeg herstel het om ʼn besluit daaroor te neem. ʼn Gedenkdiens vir Kendre en Mia sal Saterdag in Durbanville gehou word waarna hulle tydens ʼn private geleentheid begrawe sal word.

Render het bygevoeg hy is stomgeslaan deur mense se welwillendheid en goedheid teenoor die egpaar sedert die ongeluk. Meer as R600 000 is al vir die egpaar ingesamel om hulle te help met hul mediese onkoste, rehabilitasiekoste en ander onvoorsiene uitgawes.

“Die hospitaal waar hulle behandel is, het hulle tegemoetgekom deur ʼn groot afslag op Ryno se behandeling te gee omdat hy nie ʼn mediese fonds het nie. Fisioterapeute het hul dienste gratis aangebied, begrafnisondernemers het hul dienste gratis verskaf – dit is net ongelooflik hoe vrygewig mense is.”

Render het gesê die ondersoek na die ongeluk is steeds aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Bets Bothma ·

N mens is so bang om deesdae op die paaie te gaan, want jy bestuur binne reëls en regilasies, en dan is daar n ander voertuig wat kanse vat met vreeslike gevolge, of n fratsongeluk gebeur soos vanoggend in Koebergweg, Kaap. N vraghouer skuif en jy ry veilig aan jou kant van die pad en binne sekondes gebeur n ongeluk, maar nou ja, die lewe gaan aan en n mens kan nie dat vrees jou gevange hou nie. Ons moet Saterdag Durban toe ry via Bloem (net rêrig te bang om deur Transkei en Ciskei te ry) en kan net bid dat God ons sal beskerm en al die ander voertuie, want dit is dan skoolvakansie. Mag God ons almal beskerm op die paaie.

Hennie ·

Ai ek wens die paartjie alle sterkte toe voorentoe op hulle pad. Ek weet dis n pyn wat niemand wil deurgaan nie. Hou moed en bly bid. Die kinders is op n beter plek saam Jesus. En ek wil net dankie se vir almal wat hulle bystaan. Al ken ek hulle van geen kant af nie. Ek is n tow trok drywer en ek sien dit elke dag en weet waardeur hulle gaan. Sterkte!!

m ·

Baie sterkte aan die ma en pa dis nie n maklike pad hierdie om te loop nie. Dis baie hartseer..

Ron ·

Ek het skoon hoendervleis na die lees van die berig . . . hoe mense se harte aangeraak was deur soveel geld te kon skenk. Dankie julle , mag GOD hierdie 2 ouers seen met NOG MEER genade en hul lot verander nes toe JOB al sy kinders verloor het! STERKTE

Karma ·

Dit wys jou: as ons mense wíl, dan kan ons saamstaan. Kan ons mense nie ook nóg meer saam staan vir ons boere in die Groot Karoo (Merweville, Calvinia, Beaufort Wes), in die Hantam en Kou’ Bokkeveld waar dit so verskriklik, verskriklik, verskriklik droog is en die vee geen voer het nie? Dankie aan daardie maatskappy wat die 22 (?) trokke met vee afgestuur het Vredendal toe. Die Here seën almal wat bygedra het.

Denise ·

Hennie beter kon jy dit nie gestel het nie dit is Hartseer!!!!! Sterkte aan die ouers!!!!

Linda ·

Dit bring trane in my oë om te lees van die goeie dade wat gedoen word. Mag die Here elke gewer en weldoener ryklik seën. Sterkte aan almal vir die pad vorentoe. Jesus seën!

Nakkie ·

Ai ek is so bitter jammer! Dis baie sleg as kindertjies sterf. Hierdie jaar is ons self geraak deur die dood van twee liewe kindertjies wat oppad met vakansie oorlede is. Baie sterkte, en ons bid vir julle!

Hannelie ·

WOW!! Baie dankie aan almal wat geld ingesamel het en hul dienste gratis aangebied het vir hul herstel. Dis so hartseer dat hul beide hul engeltjies verloor het. Mag God hul vertroos en met hul die hartseerpad loop. Sterkte. My hart sommer seer

Lollie ·

Sterkte aan die ouers, ons kan ons nie daarin dink nie! Dankie dat almal so vrylik gee en help. In hulle omstandighede is die finansieële kommer darem nie daar nie wat dinge darem bietjie beter maak. Dankie vir elkeen se bydrae. Mens weet nooit of jy dalk ooit in dieselfde bootjie gaan ry nie.

Annelie ·

Hulle albei is opregte Jesus kinders, daarom sal hulle heel anderkant uitkom! God sal hulle styf vashou Saterdag en Hy sal verder mense se harte oopmaak om finansies in plek te kry!

Duifie ·

Sterkte liewe dapper Pappa en Mamma. Die liefde vergaan nooit. Kyk maar net op…

Dankie ·

Uit al die slegte dinge kom daar tog iets so moois, soos mense wat hulle harte oopmaak vir ‘n ouerpaar wie se wonde rou en seer is, nie net fisies nie maar ook emosioneel. Baie sterkte aan die ouerpaar met die verlies van die twee pragtige kinders en BAIE dankie aan almal wat vir hulle geld ingesamel het om hulle mediese koste te dek, so ook die fisioterapeute en almal wat hulle dienste gratis aangebied het. Dit is in die ware gees van menswees, hoe dit bedoel is om te wees . om mekaar in nood te help. STERKTE~

Adel ·

Baie liefde en sterkte vir julle pad na herstel…….. en natuurlik vir Saterdag, ai dit is soooo verskriklik hartseer. ons dra jul op in ons gebede.

Christa ·

Sterkte mense, ons harte gaan uit na julle in julle hartseer en beproewing. Die son sal weer skyn, al neem dit lank. Ons as familie ook deur sterfte van babatjie gegaan. God genees en vee trane af. Staan sterk in julle geloof!!!!!!!!!!!

Bernadette ·

My hart breek vir julle…..dit is verskriklik hartseer. Ek dink aan julle in hierdie vreeslike moeilike tyd.

Suzanne ·

So mooi om te hoor van die begrafnis ondernemers. Hulle het n goed hart!
Saterdag word so so swaer. Ek het nie woorde nie net trane en hartseer.

Magda ·

My hart gaan uit na die ouerpaar want dit is die vreeslikste hartseer en leemte wat gelaat word. Bid vir julle. Groete

Veertjie ·

Liewe Ryno en Michelle, hierdie ouma het nie woorde vir jul groot eina nie. Ek kan jul net by Jesus se voete kom neersit vandag en vir julle bid. My hart is seer vir julle. Liefde vir julle.

Verstom ·

Ek het hierdie boodskappie op Whatts App ontvang en ek glo dit sal bemoedigend wees vir die ouerpaar. “God se Genade is soos sneeuvlokkies wat die ou voetpaadjies van gister spierwit bedek, al die hartseer en onsuiwerhede wegneem. Hy maak elke liewe dag ‘n nuwe begin met nuwe Krag en met nuwe Genade. Hy het vir gister gesorg, en sal vir vandag en verseker ook vir more en elke ander dag sorg!” Mag elke dag vol van Sy krag en en Sy helende genade wees.

Gesiggie ·

Woorde sal nie kan beskryf… hoe om die ouers se seer weg te neem. Ek is woordeloos… al wat ek kan doen is om aan jul vertroosting te bring, met die wete, Boet en Sus is nou verewig saam, daar waar geen Pyn of seer hul ooit sal kan aanraak. Veilig by Jesus se voette. So jammer aan die Ouers en Familie… Mag God jul beskerm en vertroos.. om afskeid te neem is die ergste. maar hul sal verewig in jul hart en gedagtes bly.

Merissa ·

Ai soooo jammer vir julle, baie sterkte en spoedige 100% herstel vir julle. En baie baie dankie aan àl die wonderlike barmhartige Samaritane.

Wolfie ·

Hartseer en wat kan mens se. Sterkte en jammer oor jul verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.