Ouers haas na dagsorg oor video’s op sosiale media

‘n Skermgreep uit een van die video’s.

Die ouers van sowat 40 kleuters het vanoggend inderhaas hul kroos by ʼn dagsorgsentrum in Randfontein aan die Wes-Rand gaan haal nadat video’s op sosiale media versprei is waarin kindertjies hardhandig by dié sentrum hanteer word.

Ryno van Vollenhoven het Donderdag aan Maroela Media gesê sy dogtertjie van ʼn jaar en sewe maande het die afgelope vier maande by verskeie geleenthede met kneusplekke aan haar gesig, ore en lyf van die Myne Maatjies-dagsorgsentrum in Culemborgpark by die huis aangekom.

Hy vertel dat hy elke keer vir die eienaar van die dagsorgsentrum oor dié kneusplekke gevra het waarop sy nie ʼn bevredigende antwoord kon gee nie. “Sy het óf die kinders die skuld gegee óf bloot gesê dat sy nie weet nie. Nou wéét ek,” sê Van Vollenhoven.

Daar kan in die video’s gesien word hoe verskeie personeellede kinders herhaaldelik oor die kop slaan. Ander word weer met ʼn besem of ʼn mop verjaag.

Van Vollenhoven vertel dat al die kinders vanoggend by die dagsorg afgehaal is nadat die video’s aan die lig gekom en soos ʼn veldbrand begin versprei het.

‘n Skermgreep uit een van die video’s.

“Ek het dadelik daarheen gejaag en ingestorm,” vertel ʼn woedende Van Vollenhoven. “Op daardie oomblik is jy ʼn ander mens.”

Polisiebeamptes het later ook by die dagsorgsentrum opgedaag.

Van Vollenhoven was vanmiddag saam met talle ander ouers by die plaaslike polisiestasie om sake van kindermishandeling teen die bestuur van die dagsorgsentrum aanhangig te maak.

Die eienaar kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Maroela Media het navrae aan die polisie asook die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling gestuur. Albei partye het gesê hulle ondersoek die saak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

84 Kommentare

jongste oudste gewildste
JJ

Ek sal mos heeltemal mal raak.

Bittergal

10 uit 10 vir die fotograaf!

Vintcent

Baie versorgingsoorde (kinders en bejaardes) word bedryf uit pure optimisme en geldgierigheid. Synde dat hierdié groepe, vanweë ons land se omstandighede, aan die genade van ander oorgelaat word, maak die situasie nie enigsins beter nie.

Genieve

Wat is dit met die kleuterskool opvoeders wat is dit met julle??????

Aletta

Dis verby wreed,en so gebeur dit onder ons neuse,my hart was so seer toe ek op die videos sien,hoe die kindertjies geslaan en gestamp word,en die eienaar klaar op borg uit