Ouers ‘hel toe en terug’ ná baba en ouma sterf

Theo en Tanya Lombaard (Foto: Facebook)

Wat veronderstel was om een van die gelukkigste tye in die Lombaard-egpaar van Johannesburg se lewe te wees, het in ʼn hartverskeurende nagmerrie ontaard nadat dié egpaar onlangs ʼn kind én ʼn ouer aan die dood moes afstaan.

Theo en Tanya Lombaard het Woensdag aan Maroela Media vertel hulle is “hel toe en terug” nadat hul lewe die afgelope twee maande in stormwaters gedompel is toe hul tweeling vroeggebore is.

Vir nóú is hulle mekaar se kruk – hulle probeer dié stormagtige tye trotseer deur vas te klou aan mekaar én aan hulle geloof.

Die egpaar se tweeling, Mila en Lené – hul eerste kinders, is op 11 Augustus vanjaar op 31 weke vroeggebore. Die plasenta het by geboorte losgeskeur, maar beide dogtertjies se lewe was buite gevaar ten spyte van die feit dat hulle enkele minute sonder suurstof was.

Theo sê hulle was veral bekommerd oor breinskade, maar toe die dokters hulle met toetse gerusstel dat hul dogtertjies gesond was, het hul harte “gebons van vreugde”.

Dit was egter minder as twee dae of die gesin se donkerste nagmerrie het ʼn werklikheid geword. Die hospitaalsusters het die Sondag begin om albei babas te voer omdat Tanya nog in die hoësorgeenheid was, waarna hulle ʼn bakterie opgedoen het.

Volgens Theo het hul gesondheidstoestand drasties agteruitgegaan. Mila is die Maandagoggend in afsondering geplaas om behandeling te begin ontvang. Die bakterie wat sy opgedoen het, het haar dunderm aangeval. Lené, wat ʼn bakterie bekend as klebsiella pneumoniae opgedoen het, is die Maandagaand in afsondering opgeneem.

“Dit was ʼn geweldige skok; ons het net ʼn dag of twee voor dié diagnose nog gedink dat hulle oukei gaan wees. Lené se toestand het baie vinnig versleg. Die dokters was genoop om op haar te opereer en van haar dunderm te verwyder om te probeer om van die bakterie te verminder. Die bakterie het intussen van haar dermkanaal na haar maag versprei. Dit het nie beter gegaan nie, sy het nie gesonder geword nie en die dokters se verdoemende woorde was vir ons baie erg,” sê hy.

Lené het sepsis opgedoen. Volgens Theo was haar lewe tóé in geweldige gevaar. “Dit is geweldig seer. Dit is die seerste seer. Haar hele magie het begin opswel as gevolg van die sepsis. Selfs die voutjies in haar ore was weg as gevolg van die swelling. Ons kon nie eens aan haar raak nie, omdat haar vel sou skeur omdat dit styf getrek is as gevolg van die swelling. Dis enige ouer se donkerste nagmerrie; niemand kan daardie seer beskryf as jy nie self daardeur is nie.”

Lené is op 25 Augustus, twee weke ná haar geboorte, oorlede. “Die hospitaal het my Vrydagoggend 03:00 gebel. Hulle het gesê sy het ʼn episode gehad, maar dat die dokter daar is en dat hulle na haar kyk. Hulle het gesê ek hoef my nie te bekommer nie. Ek het hulle net voor 06:00 weer gebel en volgens die mediese personeel was die dokter pas weg en sy was stabiel. Ek het rondom 08:00 Vrydagoggend weer gebel en gevra hoe dit gaan, en hulle het gevra waar ek is. Ek het gesê ek is op pad hospitaal toe en dat ek op die hoofweg klim, en hulle het gevra hoe lank ek sou neem. Ek het gevra: ‘Hoeveel tyd het ek?’ En toe antwoord hulle: ‘Baie min.’

Klein Mila (Foto: Candystick)

“In my lewe het ek nog nie dié tipe seer geken nie. Toe ons by die hospitaal kom, het ons ingegaan om haar te sien. Haar hart het gaan staan en ons moes buite wag sodat die dokters haar kon probeer bybring. Die dokter het ná ʼn rukkie uitgekom, haar kop geskud en dit toe laat sak. Die dokters het gesê: ‘Gaan in om die laaste oomblikke saam met jou dogtertjie deur te bring – daar is niks wat ons kon doen nie.’ Dit was verby. Ons kon haar vashou sonder al die pype en die toerusting en moes toe ons dogtertjie groet.”

Mila is intussen na ʼn hospitaal in Sandton geneem vir behandeling waar sy steeds in afsondering is. Sy het reeds verskeie operasies ondergaan om aan haar dunderm te sny. Net sowat 9 cm van dié ingewande is nou oor.

Volgens Theo gaan Mila minstens tot op 10 maande in die hospitaal moet aanbly om aan te sterk. Hulle sal haar tot dán nooit huis toe kan neem nie.

“Die dokters wil haar in die hospitaal hou sodat haar dunderm nog kan groei. Volgens die personeel verwag hulle ʼn groei van sowat 5 cm waarna hulle ʼn klomp verskillende operasie oorweeg om die dunderm te verleng. Indien sy kan aansterk en een van dié operasies kan ondergaan, sal sy ʼn normale lewe kan lei – intussen sit ons net en bid en dra mekaar deur hierdie ongelooflike moeilike tyd.”

Mila het weer infeksie en bakterie opgedoen en moet nou fyn deur mediese personeel gemonitor word. “Ons is bekommerd – enige terugslag is baie sleg. Ons weet die dokters doen wat hulle kan en ons weet God is die heeltyd daar, maar steeds loop mens met hierdie gat in jou hart rond; jy is konstant doodbekommerd.”

Die egpaar moes intussen met die verlies van Theo se ma ook vrede maak. “Ek het in my lewe nog nooit so baie gehuil nie. Ons huil konstant. Ons vra vrae. Ons bid en ons smeek. My ma se afsterwe was vir ons ʼn groot skok. Sy het ná Lené se dood aan geweldige depressie begin ly. Sy het geweier om te eet en haar gesondheid het baie versleg.

“Sy en my pa was een oggend by die huis. Hy is vinnig winkel toe om ʼn koerant en melk te koop en is is daarna weer terug huis toe. My ma het snaakse roggelgeluide gemaak, byna asof sy wou opbring. Sy het gevra vir water en pynpille en het gesê sy wou weer lê. Sy het pyne op haar bors ervaar. My pa het na die telefoon gestap om die ambulans te ontbied, en toe hy terugkom in die kamer, was sy oorlede. Dit was vir haar ook verby. Dit was nóg ʼn einde vir nóg iemand vir wie ek lief is.”

Sy is Woensdag begrawe. Volgens Theo klou hy en Tanya nou vas aan mekaar om staande te bly. Hy sê hy glo hulle sal dié moeilike tyd kan trotseer.

“Wat kan ‘mens doen? Wat kan mens sê? Dis seer. Ons vertrou maar op die Here en ons bid konstant dat klein Mila ten minste gesond sal word. Ons bid dat ons mekaar regop kan hou en dat ons genoeg krag kan hê om die stryd aan te sê. Ons het wonderlike vriende en ons het mekaar. En as ons hierdeur ander ouers kan bemoedig of ʼn lewe kan aanraak, is dit goed genoeg.”

ʼn Skarefinansieringswebwerf is intussen begin om fondse vir die egpaar in te samel om onder meer te help met die mediese en ander onkostes. Die fondse sal vir Mila se behandeling en herstel help betaal. Vir meer inligting, besoek hul skarefinansieringswebwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Penellope Jones ·

Ek kan aan absoluut niks dink om te se wat julle beter kan laat voel nie, net dat ek verskriklik jammer is met wat gebeur het met julle dogtertjie en haar Ouma en dat ek net kan bid vir julle ander dogtertjie. en ook vir julle vir krag, sterkte en rustigheid.
Baie, baie sterkte.

Christine ·

Dis ook met trane in my oe dat ek die berig lees. Ai, my innige simpatie ek dra julle en klein Mila op aan die Here vir volkome genesing en vir krag vir julle twee om hierdeur te kom. Julle is in my gebede.

Annemarie ·

Baie baie sterkte, ek is self deur iets soortgelyks onlangs. Klou vas aan mekaar en julle geloof. Sterk staan.

Marianne ·

Baie sterkte aan die ouerpaar in hierdie seer en onseker tyd. Ek bid dat Jesus hul sal beskerm en bewaar en dat hul kleine dogtertjie volkome sal herstel.

KLIPPIE ·

My hart gaan uit na julle. Die pyn word nooit minder nie en jy het nie ‘n keuse nie – jy moet daarmee saam leef ! Ek het my pa, ma, my suster, haar man asook my seun in 5 jaar verloor. Ek huil nog daagliks….! Sterkte

Han ·

Klippie, ek bid vir jou, dat die Here jou sal dra en versterk

Ann Esterhuizen ·

So jammer om van julle geweldige verlies te hoor. Net ons Liewe Vader kan haar lewetjie red! Ek bid vir haar en ek glo sy gaan herstel.

Liefie ·

Daar is nie woorde om te beskryf hoe oneindig jammer ek is vir julle nie. Maar een ding is seker dat daar NIKS onmoontlik is vir God nie. Dit is ook nie God se Wil om geliefdes(veral ons kinders) van ons af weg te vat nie. Hy is nie daardie tipe God nie. Hy sal wel vir julle die krag, leiding, liefde en wysheid gee wat julle benodig. Baie sterkte.

Veronica ·

Theo & Tanya . . .
Ek besef net dat my ” worries ” NIKS is teenoor julle sin nie
Dit laat my met n slegte gewete dat ek so kla!!!
As julle storie my hart kan verander dan was dit nie verniet nie . . .
BID vir julle

Illoon ·

Ek wil net se ek weet presies hoe jul voel, my eie prem tweeling ook so verloor. Alles wat jul beskryf sien ek nog voor my afspeel met my eie babas.
Maar die Here dra mens in hierdie tyd en as dit verby is, sien mens eers hoe jy dit nooit sou maak, as dit nie was dat hy jou krag gegee het nie.
Ek sal bid vir klein Mila, ek bid dat sy sal aansterk en dat sy ‘n pragtig normale dogtertjie sal word wat sal leef in die LIG!

elna ·

Bid vir julle en julle klein dogtertjie, het nie woorde nie.

Carin ·

Mag God jul vashou in die palm van Sy hand! Ek weet presies waardeur jul gaan. Oms het twee jaar terug deur soortgelyke situasie gegaan. Ons dogtertjie was volterm maar sy het gesukkel om asem te haal en was amper n maand in nicu. My pa is presies ñ week na haar geboorte oorlede. Alle sterkte vir julle!

madels ·

O dit moet so verskriklik wees :-( ek huil saam met julle… het nie woorde nie…

Susan ·

Ek stem saam met Veronica. My klagtes en worries is niks. Ek kan wel sê dat my babatjie 2 maande te vroeg gebore is. Maand in NICU gewees. Maar mens kom daardeur. Myne kom nie naby waardeer julle gaan nie, maar ek belowe julle, op die Heer se genade kom mens daardeur. Klein stappies, een dag op ‘n slag. Moet nie te ver vooruit dink nie. Vat elke dag soos dit kom. Sterkte vir die pad vorentoe.

MW ·

In watter hospitaal? My vraag is net Hoe kon altwee babas n bakterie opdoen? Was iemand nalatig of bloot net onnosel Ons weet almal wie deesdae in die hospitale werk Ek was ook onlangs n pasient Vuil hande vuil toerusting minus mediese maskers Of was dit n “don’t care” geval

Pieter B ·

Niks en niemand kan hierdie hartseer van julle wegvat nie my innige meegevoel vir julle maar bly glo Onse Vader sal julle deur hierdie moeilike tyd dra!!!

net ek ·

Ek sit en lees met trane in my oë. Huil in my hart. Ek bid vir julle. Daar is geen woorde wat ooit daai pyn sal wegvat nie. Sterk wees.
Is daar n facebook blad vir skenkings

Connie ·

Ek kan nie ophou huil. Ek kan nie meer die ellende van die wereld hanteer nie.

Engela ·

My hart gaan uit na julle. Ons hele familie is 13 jaar gelede deur hierdie klebsiella-hel met die dood van my eerste kleinseun. Hy het twee en ‘n half maande geleef. Ons kon hom ook vir die eerste keer vashou na die masjiene afgeskakel was en al die pypies uitgehaal was. Grootste hartseer ooit. Sterkte.

Gesiggie ·

As woorde Troos kon bring… sou dit soveel maklikker gewees het, aan die ouers wat soveel seer moet ervaar my hart ruk in stukke vir jul? hoe kan n mens soveel hartseer ervaar waar daar 2 bondel liefde was, is daar nou net een… en dan nog hartseer om n Ma ook te verloor. Mag Jesus jul stuif toevou Mag die Engele klein Mila mooi oppas soos wat Ouma nou vir Lene in die Hemel sal oppas… Alle sterkte aan jul deur die hartseer tyd , ek hoop om spoedig n opvolg te kan lees van klein Mila se 100% herstel… Dink aan jul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.