Ouers het naamsverandering van Pta-skool versoek

Hoërskool Hendrik Verwoerd (Foto: Maroela Media)

“As skool en gemeenskap is ons gelukkig met die naamsverandering. Rietondale was die naam wat ouers voorgestel het tydens ʼn algemene jaarvergadering en ons is tevrede dat die onderwysdepartement die voorstel goedgekeur het.”

Só het Olga Veldsman, voorsitter van die beheerliggaam van Hoërskool HF Verwoerd wat voortaan as Rietondale Secondary School sal bekendstaan, gesê.

Veldsman het Woensdag aan Maroela Media bevestig die skool het nog geen formele kommunikasie van die Gautengse onderwysdepartement oor die skool se naamsverandering ontvang nie.

“Ek vertrou egter ons sal terugvoer voor die einde van die dag hieroor ontvang. Sodra ons van die departement hoor, sal die beheerliggaam besluit oor wanneer die naam amptelik verander sal word,” het Veldsman bygevoeg.

ʼn Storm het op sosiale media gewoed nadat Panyaza Lesufi, die LUR vir Gautengse onderwys, Dinsdagmiddag op Twitter foto’s geplaas het van waar sy departement die papierwerk vir die skool in die Deerness-woonbuurt in die Moot-omgewing van Pretoria goedgekeur het.

Sommige sosialemediagebruikers het die besluit verwelkom, maar ander het weer die naamsverandering bevraagteken.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê die burgerregte-organisasie is nie gekant teen ʼn skool wat besluit om sy naam te verander nie mits dit die skool se eie besluit is.

“In hierdie geval het die skool se beheerliggaam en ouers self die besluit in 2017 geneem. ʼn Mens moet in gedagte hou dat die skool se demografie in die afgelope paar jaar drasties verander het, dermate dat dit nou hoofsaaklik ʼn Engelse hoërskool met meestal swart leerders is.

“In dié geval is die nuwe naam, wat baie neutraal is, dalk in elk geval meer gepas omdat die leerder geen verbintenis met die geskiedenis van Verwoerd het nie,” het sy gesê.

Bloem het gesê AfriForum het ook geen klagtes oor die naamsverandering ontvang nie.

“Wanneer ʼn skool by so ʼn kruispad kom, die verandering wil maak en die departement ondersteun die finansiële implikasies van die besluit, is daar beslis ruimte vir so ʼn verandering.”

Bloem het bygevoeg dat die burgerregte-organisasie beslis sal optree as die onderwysdepartement skole sou druk om hulle name te verander of ʼn politieke agenda steun waar skole se name na struggle-ikone en huidige presidente se name moet verander.

Terwyl talle oudleerders van die skool gister op sosiale media gesê het hulle is teleurgesteld oor die besluit om die hoërskool se naam te verander en dat hulle in hul harte altyd Woeries sal bly, het ander oudleerders gesê sprake van ʼn naamsverandering by die skool het reeds in die vroeë 2000’s gereeld begin opduik.

“As leerder van die skool kan ek onthou hoe ons eendag op aantreeblad bymekaargekom het om te stem of die skool se naam moet verander en dit was in 2001. Swart leerders het toe gesê die naam van die skool pla hulle nie regtig nie,” het ʼn oudleerder, wat anoniem wil bly, gesê.

Aanval op Afrikaans

Sosialemediagebruikers wat gekant is teen dié naamsverandering, het Dinsdag gesê die besluit om die Hoërskool Hendrik Verwoerd se naam te verander is net nog ʼn stap in Lesufi se lang lys van aanvalle teen Afrikaans.

Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, het die uitgaande LUR egter in ʼn onderhoud op 702 Talk Radio verdedig. Hy het die beweringe dat Lesufi Afrikaanssprekendes teiken as “pure nonsens” afgemaak.

Lesufi het ook in reaksie op Twitter gesê hy het nog nooit gesê Afrikaans moet “doodgemaak” word nie. “My kind het self ʼn Afrikaanse skool bygewoon en my middelnaam is Henrick, so julle beskuldigings is ongegrond.

“Ek vra net dat alle tale gelyk behandel word en dat al ons kinders in al die hulpbronne van hierdie land moet deel,” het hy gesê.

Bloem het benadruk dat Afrikaanse enkelmedium-skole beslis nie eksklusief ten opsigte van ʼn sekere ras is nie. “Dit is wat ʼn mens moet onthou: enigiemand kan na ʼn Afrikaanse skool gaan indien hulle die taal as onderrigmedium verstaan.”

Johan Kruger, operasionele direkteur van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het op sy beurt gesê die LUR moet eerder sy uitlatings op sosiale media beteuel en fokus op dit wat die belangrikste is, naamlik gehalte-onderwys.

“Die argument oor naamsverandering is oud en afgesaag. Die SAOU wil Lesufi herinner dat dit die reg van alle skole is om hulle voorkeurnaam te bepaal.

“As Lesufi se motiewe inderdaad nie deur politiek en opportunisme voortgedryf is nie, sou hy eerder die skool se selfgedrewe naamsveranderingsproses geloof het,” het Kruger bygevoeg.

Borsbeeld van Verwoerd

Hoërskool Verwoerd het ook ʼn borsbeeld van die voormalige eerste minister HF Verwoerd wat skuins voor die kantore van die skool staan.

Maroela Media het Veldsman gevra wat met die borsbeeld sal gebeur as die skool se naam nou amptelik verander het.

“Die beeld bly die eiendom van die skool tot ons anders daaroor besluit,” het Veldsman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

PPP ·

Gaan die naams veranderings die kinders beter laat leer en sommer slimmer ook wees daarby wonder maar net.

Realis ·

Met 30% slaagsyfer as vereiste maak dit regtig nie saak nie.

Alida ·

Dis n nuwe SA kom by en aanvaar dat dit 2019 is en alles verander.

Dries du Toit ·

@Alida. Dit is reg alles verander. Vir jou ten goede nê. Elke dag n naamsverandering, n plaasmoord, nog n korrupsie saak, nog n bankrot besigheid, nog n ontrekking van groot mynhuise. ALLES VERANDER JA DIT IS 2019

JA ou Alida ·

ja soos ons maar die plaasmoorde en verkragtings by die skole aanvaar, so ook die MOORDE by skole is heel aangenaam in die NUWE SA ne? WENS JY WIL BYKOM ..

Frik ·

Stel voor ons verander Pretoria se naam ook want regtig dit is nie meer die stad wat ek geleer ken het nie

Cherokee ·

So die besluit dateer vanuit die vroeë 20’00 maar lesufi probeer voorgee dat hy daartoe bygedra het; wil graag sy eie beuel blaas asof hy dit kon motiveer. Ek verstaan ook wat beduie word rakende die verandering in die demografie van die skool maar sal nie maklik kan vriende wees met iemand wat anti-Verwoerd is nie.

Maria ·

Lesufi het self gese hy wil nie Afrikaanse skole he nie.Natuurlik teiken hy Afrikaans.Ons is Afrikaans maar nie dom nie?

Willem van der Merwe ·

Sommer dadelik n engelse skool ook,selfde het gebeur met drie riviere laerskool in vereeniging

James ·

Daar is 17 jarige in graad 7 wat n kind vermoor en jy worry oor name. So lewe tel niks maar name doen wow

Johan ·

Ag tog ja wat as dit help doen tog net en kry klaar verander tog net ook die skoolhoof se naam dit kan dalk ok help mense mense …

Anel Potgieter ·

Dit is die Hoërskool Hendrik Verwoerd, en nie HF Verwoerd nie.

Carel ·

Ja so gee ons alles weg totdat ons niks van ons eie oor het nie

Attie. ·

Daar sal altyd ‘n land wees waar die RSA voorheen was. Ek soek daardie borsbeeld wat die skool beslis nie wil hê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.