Ouers in die donker oor baba Claudia se siekte

Claudia (Foto: Facebook)

Claudia du Preez is op die ouderdom van drie maande vir ’n MRI-skandering gestuur omdat sy baie moeilik gevoed het, en ná elke voeding opgebring het.

Die MRI-skandering het gewys dat die witstof in haar brein nie normaal ontwikkel nie. Dokters beweer sy het ’n metaboliese siekte wat vet in haar bene en milt berg in plaas van in haar brein.

Haar ma, Jolene du Preez, het gesê hulle het ná baie doktersafsprake nog nie sekerheid oor wat presies met hul kind skort nie.

“Hulle toets haar tans vir longontsteking. Sy het ook ’n kroniese hoes, so hulle gaan vir kinkhoes ook toets,” het sy gesê.

“Claudia het op sewe maande begin bottel drink sonder om die hele voeding deur te huil en te skree. Omdat sy so dikwels opgebring het, het sy baie maer geword. Op 13 maande het ons haar maagkleppie laat herstel en vir haar ’n voedingbuis laat insit.

“Ná ’n twee uur lange operasie het ons baba kleiner hoeveelhede begin opbring en ons kon vir haar meer voedsame kos deur die voedingbuis in die maag gee. Sy sit nou baie mooi gewig aan. Nóú kan sy redelik haar kop beheer, maar nog nie self sit of kruip nie,” het Du Preez op die ‘Claudia se pad na Genesing’ Facebook-blad geskryf.

“Niemand kan vir ons sê wat die pad vorentoe is nie. Maar ons glo die toekoms is in God se hande en dat Jesus haar gaan genees. Dis hoekom ons ’n Facebook-groep gestig het, sodat ons ’n groep mense kan kry wat saam met ons bid en sien hoe die wonderwerk gaan gebeur.”

Op die Facebook-groep is daar ook bankbesonderhede vir mense wat ’n skenking wil maak.

Claudia (Foto: Facebook)

Claudia, wat nou 18 maande oud is, moet elke drie maande ’n neuroloog sien, elke ses maande haar voedingbuis laat vervang en elke twee weke terapie kry.

“Die terapie kos ongeveer R1 000 per sessie. Die dokter het ook nou voorgestel dat ons vir haar ’n staanraam koop, wat so R3 000 kos. Die geld wat mense skenk, gaan maar vir al daardie goedjies, en vir haar medisyne en lopende uitgawes,” het Du Preez gesê.

“Claudia is ’n baie rustige en vriendelike dogtertjie, sy glimlag baie en trek mense se aandag. Ons wil net hê mense moet saam met ons in geloof staan, want ons glo die Here sal haar genees,” het Du Preez gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.