Ouers in huis geskiet toe hulle dogter (8) beskerm

Polisie en nooddienste op die toneel. Foto: Verskaf

Polisie en nooddienste op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Ouerpaar van Sandton, Johannesburg, is Woensdag in hul huis geskiet toe hulle hulself en hul agtjarige dogter teen ʼn groep gewapende rowers wou beskerm.

André Snyman, stigter van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, het Donderdag aan Maroela Media gesê dié voorval het hom hard geslaan, aangesien die slagoffers, albei in hul laat 40’s, sy bure is.

“Ons woon in ʼn paar huise in ʼn afgebakende pypsteelerf,” het Snyman gesê. “Drie verdagtes het vroeër die oggend toegang tot die onbemande waghuis verkry deur ʼn venster wat oopgelos is.”

Snyman het gesê die verdagtes het in die  waghuis weggekruip en ʼn huiswerker oorrompel toe sy met haar afstandbeheer die veiligheidshek oopgemaak het. Hulle het die sleutels by haar afgeneem, haar aangehou en gewag dat een van die inwoners sy motorhuis oopmaak.

Snyman se buurvrou, wie se naam uit vrees vir hul veiligheid weerhou word, het omstreeks 07:00 hul motorhuis oopgemaak toe sy wou ry.

“Hulle het pas ʼn nuwe nutsvoertuig aangeskaf en ons vermoed die mans was onder meer agter die voertuig aan. My buurvrou het die mans gesien en in die huis in gehardloop, met die verdagtes kort op haar hakke.”

Die ma het verbete geveg om die verdagtes uit die huis en van haar dogter af weg te hou. Sy is in die proses in die been geskiet. Haar man het intussen die rumoer gehoor en ook met die mans begin stoei. Hy is twee keer in die arm geskiet voordat die aanvallers te voet met niks anders, behalwe die huiswerker se sleutels, van die toneel af gevlug het.

“Ek was besig om koffie te maak toe ek die skote gehoor het. Toe ek buite kom om ondersoek in te stel, was die verdagtes reeds weg en het ek my buurman se hulpkrete gehoor.”

Snyman het deur sy Eblockwatch Street Talker-netwerk hulp ontbied, waarop die polisie en nooddienste spoedig reageer het.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die egpaar het koeëlwonde gehad. “Hulle is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere behandeling,” het sy gesê.

Die vrou het Snyman Donderdag uit die hospitaal laat weet sy is net onder haar enkel getref en dat die koeël regdeur haar voet is en haar Achilles-sening beskadig het. “Die dokters het besluit om vir nou die koeëls in my man se arm te los en nie te opereer nie,” het sy geskryf.

“Ons is dankbaar om te leef en geseënd dat ons dogter veilig en ons beserings lig is.”

Ao. Moses Maphakela, woordvoerder van Sandton-polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Die verdagtes het klapmusse aangehad en een het ʼn pienk broek gedra,” het Maphakela gesê. Hy het gesê die polisie ondersoek twee sake van poging tot moord en ʼn saak van huisroof.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Snyman het gesê die reaksie en ondersteuning van die gemeenskap is oorweldigend. Die egpaar hoef nie vir die volgende paar weke bekommerd wees oor kosmaak nie, aangesien inwoners ʼn rooster opgestel het om kos aan te dra sodra die egpaar ontslaan is.

Hul dogter is in veilige sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Debs ·

Nerens net nerens is mens meer veilig nie ….. wie gaan ingryp …

Leon Olivier ·

Elke dag gebeur hierdie soort van ding. Ek luister vandag na die vrae in die Parlament en nie een vraag was gevra van enige van die useless partye aan Zuma oor die toestand en geweld in hierdie land. Alles gaan net oor frikken Eskom, Nkaaaaandlaaaa en Briksbank. Die hele lot dink dis n grap. Hierdie mense is useless. Die skip sink en hulle beklei oor mag en geld. Dis nie net blanke mense wat uit gemoor word nie, maar in die swart gemeenskappe ook. Die heel ergste is dat nie een van ons wat in hierdie land woon, kan nie sê dat hy nog nooit deur crime geraak is nie. Ons almal is al hierdeur op een of ander manier. Hierdie politieke partye hits meer rasse haat aan as enige iets anders. Ek wil net vir hierdie partye sê julle is besig om die land te verloor en vinnig ook.

Johann Marx ·

Debs? Wie gaan ingryp? Niemand gaan ingryp nie. Dis Afrika en hoe Afrika lyk en werk. Terwyl ons geflous is met die “mees gevorderde konstitusie in die wêreld” is die ANC besig om hulle Vryheidsmanifes stelselmatig te implementer. Het jy dit al gelees? Hoekom nie? Hoe kan jy verstaan wat hier besig is om te gebeur as jy nie ingelig is nie? Die ANC Freedom Charter stel dit duidelik dat hulle veg vir totale oorheersing van die kontinent, en nie sal ophou voordat elke kolonialis daarvan af verwyder is nie. Wie wil jy hê moet ingryp?

amanda strauss ·

Bja sterkte aan die familie. Dit maak my bja bekommerd oor wat deesdae in komplekse gebeur. Bly self ook in een. Al het ons bja veiligheid sal niks hulle weerhou as hulle wil inkom nie.
danki vir die mense wat na hulle omsien.

elsabe ·

Die vrot appel moet uigehaal word!!!! Sterkte aan almal wat so wreed aangeval is, my boetie is 3 weke terug met pangas dood gekap. Ai….

Drieks ·

Voel jou pyn Elsabe.. Ons kry so seer in hierdie land wat geen leiers en polisie het nie.

Annie ·

Net jammer ons wit mense staan nie juis saam om teen die uitwissing te baklei nie.

Kaaiman ·

Ag, kry tog end met hierdie ge-“saamstaan” geneul! Al kom al die blankes bymekaar is die verhouding steeds 1 tot minstens 5. Helfte van die wittes sien in elk geval niks raak nie. Die enigste, maar enigste raad is om jouself te beskerm met ‘n dodelike vuurwapen wat jy weet hoe om wettig te hanteer, altyd gereed te wees en te verwag dat jy aangeval gaan word, en met ‘n plan in jou kop te loop. Gelukkig vir ons is die vyand lafhartig – hy hol as jy jou met ‘n vuurwapen teësit. Kyk maar na die statistieke!

Fanie ·

Hoeveel mense het vuurwapens of kan dit bekostig. Saamstaan beteken dan ook om hulp en bystand te verleen, in enige situasie en omstandigheid, afhangende van die middele tot jou beskikking. Wat van ons steel die vuurwapens, word self dan ook ‘n krimineel, en beveg dan die oorspronklike “ware” booswigte wat net steel en moor. Vergesog ne.!!!

pop ·

KaaimanNou stem ek vir n verandering volhartig met iemand saam. Hulle haat dit as jy terugbaklei. En ja, saamstaan gaan niks help nie. Dit moes nooit toegelaat gewees het om te gebeur nie. Destyds was die verskoning die sanksies teen ons land. Maar dit smaak my dit het toe beter gegaan met almal as nou. Vir seker was ons darem veilig.

Annie ·

Wag tot jy hulp nodig en niemand jou wil help nie omdat hulle te besig is on hulself eerder te beskerm. Sal dan die komentaar wil hoor oor die “ge-neul van saam staan”. Fanie is dood reg, saam staan beteken baie meer as net beskerming.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.