Ouers mág ongebore babas begrawe – hof

(Argieffoto: pixabay)

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis die ouers van ongebore babas wat voor 26 weke sterf – en wat tot nou nie die reg gehad het om dié babas te begrawe nie – het wél die reg om hul kind te laat begrawe.

Die organisasie Voice of the Unborn Baby en die Katolieke Aartsbisdom van Durban het hulle in 2017 tot die hof gewend en aangevoer ouers van kinders wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, se waardigheid word aangetas wanneer die oorskot van dié ongebore babas as mediese afval vernietig word.

Ingevolge die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes word ʼn baba wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, as mediese afval beskou en gevolglik verbrand. Ná 26 weke kan ouers hul kind se oorskot wettig ontvang en begrawe, sou hulle dit verkies.

Regter Nomonde Mngqibisa-Thusi het in haar uitspraak bevind in die geval van ʼn verlies aan swangerskap (waar menslike ingryping nie die oorsaak is nie), het die bedroefde ouers die reg om die oorlede fetus te begrawe indien hulle dit verkies.

Mngqibisa-Thusi het ook bevind sekere gedeeltes van die Wet op Geboortes en Sterftes (Badra) is teenstrydig met die Grondwet en is ongeldig in sover dit nie voorsiening maak vir dié ouers se reg om hul kind te begrawe nie.

Mngqibisa-Thusi het voorts bevind sekere bepalings wat verband hou met die bestuur van menslike oorskot is ook ongrondwetlik.

Die parlement moet nou ʼn wysiging aan Badra aanbring om voorsiening te maak vir die reg om hierdie ongebore babas te begrawe. Mngqibisa-Thusi het beveel hangende die wysiging kan enige mediese praktisyn ʼn sertifikaat van doodgeboorte uitreik indien ʼn bedroefde ouer hom daarvoor vra. Wanneer dié sertifikaat uitgereik word, mag ouers hul kind begrawe.

Mngqibisa-Thusi het ook bevind dat indien die parlement nie binne 12 maande voorsiening maak vir hierdie reg nie, enige belanghebbende die hooggeregshof mag nader om hulp.

Sonja Smith, die dryfveer agter Voice of the Unborn Baby, sê hulle is tevrede met die uitspraak.

“Dis is net jammer dat mediese terminasies uitgesluit is. Wanneer ʼn swangerskap ʼn lewensbedreigende gesondheidsrisiko vir die mamma veroorsaak of waar ʼn dokter aanbeveel dat ʼn  swangerskap beëindig moet word weens byvoorbeeld erge misvormdheid, gaan hierdie ouers nie mag kies om hul baba te begrawe nie. Dit geld tot op voltermyn, met ander woorde 40 weke,” sê Smith.

Smith sê sy stry al byna twee dekades lank vir die regte van ouers en is al die afgelope ses jaar besig met regstappe om hulle te help.

“My dogter het ook ʼn miskraam gehad. Die reaksie van ouers wat reeds hierdeur is, is oorweldigend. Dit gaan ʼn mate van troos bring in ʼn baie hartseer tyd, wanneer swangerskapverlies plaasvind. My hart gaan uit na elke ouer en grootouer wat hierdeur geraak word,” sê Smith.

Die organisasie Cause for Justice (CFJ), wat as vriend van die hof by die saak betrokke was, het ook die uitspraak verwelkom, maar terselfdertyd sy teleurstelling te kenne gegee oor die hof se versuim om ag te slaan op CFJ se betoë oor die erkenning van die waarde van ongebore menslike lewe in wetgewing en die regstreekse uitwerking op die manier waarop die menslike oorskot van alle ongebore kinders behandel moet word.

CFJ is ook teleurgesteld omdat die reg om die oorskot te begrawe nie vir alle ouers geld nie, in die besonder wanneer ʼn swangerskap weens menslike ingryping beëindig word.

“Dit is ondenkbaar en grondwetlik onaanvaarbaar dat een mens, in hierdie geval ʼn ma, besluit of ʼn ander mens, haar ongebore baba, wetlik erken en met waardigheid as mens behandel kan word. CFJ beskou die praktiese uitwerking van hierdie gedeelte van die uitspraak as heeltemal irrasioneel en onaanvaarbaar.

“Om die begrawe van menslike oorskot wetlik te verhoed net omdat iemand gekies het om haar [of sy] lewe deur menslike ingryping te beëindig – bloot omdat sy [of hy] ongewens is – ontken deur wetgewing enige mensheid.”

Die Konstitusionele Hof moet die uitspraak nou bekragtig.

Renaldi Ingram, regsverteenwoordiger van Voice of the Unborn Baby, sê hulle is vol vertroue dat dié hof die uitspraak gaan bekragtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Faraway ·

Vir my is dit te laat . . . 34jaar te laat
Het my 1ste kind op 16 weke verloor maar ek WEET HY IS IN DIE HEMEL – GEEN TWYFEL
Daarna is ek weer met 2 kinders geseën uit GOD SE HAND AS GESKENKE VAN BO! – GENADE . . .

Chantel ·

So bitter jammer vir jou. My ma het ook my suster 55 jaar terug verloor. Nou is dit egter fantastiese nuus vir vandag se ouers.

Riana ·

Is 16 jaar te laat om my Dogter te begrawe. Al wat ek oor het is ‘n Hospitaal Kaartjie met haar voetjie en handtjie afdruk met die Onse Vader op, wat my Dokter gevra het die personeel moet maak vir my om iets van haar te he…al die Scans is al verblyk, mens kan nie meer die lyfie daarop uit maak nie, darm het ek iets oor….

Marisa W ·

Ongebore babas? Dit moet seker die oorskot van gestorwe vroeggebore babas wees, nietemin dit is ‘n wen en hopelik ‘n mate van troos vir die ouers wat geraak word

Chantel ·

Dit is absoluut fantastiese nuus. Ek is bly die hofstryd is gewen.

Bytjienw ·

As ‘n embrio na 12 weke ‘n fetus (ongebore baba) is hoekom kan daardie baba dan nie begrawe word nie? Dit behoort elke ouer se eie keuse te wees wat hulle met hul ongebore baba voor 26 weke wil doen.

Wicus ·

Ek sal graag sien dat die hof die “mensheid” van ‘n ongebore baba erken. Waar lat dit ons dan tov aborsies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.