‘Ouers moet moedertaalonderrig eis’ – AfriForum

Argieffoto

Argieffoto

Op die vooraand van ʼn nuwe skooljaar het AfriForum ʼn beroep op ouers gedoen om toe te sien dat hulle kinders in 2015 in hulle moedertaal onderrig word. Ouers word ook deur AfriForum versoek om toenemend druk op die regering te plaas om moedertaalonderrig op alle vlakke te voorsien waar dit nie reeds beskikbaar is nie. Waar dit wel beskikbaar is, moet ouers volgens AfriForum enige poging van die regering om moedertaalonderring in te perk, teenstaan.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bevestig die matriekuitslae jaarliks dat leerlinge wat moedertaalonderrig ontvang, beter vaar as diegene wat hulle onderrig in ʼn tweede of derde taal ontvang. Hulle memoriseer nie bloot abstrakte konsepte, byvoorbeeld in vakke soos wiskunde en die natuurwetenskappe nie, maar deurgrond dit en kan dit dan makliker na ʼn tweede of meer tale oordra. Onderrig in moedertaal het bowendien ʼn positiewe invloed op die ontwikkeling van kinders se selfvertroue en redenasievermoë.

Bailey het politici, byvoorbeeld die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, gekritiseer vir hulle onverbiddelike pogings om eentalige Engelse onderrig op alle Suid-Afrikaners af te dwing. “Meer as 49-miljoen Suid-Afrikaners praat nie Engels as huis- of moedertaal nie. Ten spyte daarvan ignoreer politici internasionale bewyse dat moedertaalonderrig die beste opsie is en dwing Engels af om uitvoer aan ʼn eie politieke agenda te gee, ten koste van die leerlinge se toekoms.”

Vroeër vandeesmaand het Bailey ʼn colloquium oor Afrikaans by die Universiteit van Gent in België bygewoon. “Studente kan selfs ʼn meestersgraad in Afrikaans daar behaal en daar is meer ingeskrewe MA-studente as aan vele Suid-Afrikaanse universiteite. Dit bewys die internasionale waardering vir ʼn inheemse Suid-Afrikaanse moedertaal, Afrikaans, in teenstelling met Nzimande se uitsprake teen dié taal.”

Instellings wat juis Suid-Afrikaanse taalregte moet bevorder, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe, is teleurstellend stil wanneer politici ongrondwetlike uitsprake teen inheemse tale maak. Dit bewys die belangrike rol wat die burgerlike samelewing – beide instellings soos AfriForum, maar ook elke skoolgaande of studerende kind se ouers – moet vertolk om die mite dat Engelse onderrig aan sprekers van ander tale ʼn voorsprong gee, te weerspreek en moedertaalonderrig op elke moontlike wyse te bevorder.

“Ons kinders se toekoms is in ons hande en om moedertaalonderrig vir so lank as moontlik te eis, is die eerste stap wanneer ons die verantwoordelikheid nakom,” het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ha ·

Lees weer die berig se baie belangrike tweede laaste paragraaf, veral…”… die mite dat Engelse onderrig aan sprekers van ander tale ʼn voorsprong gee…”. Afriforum moet hamer op hierdie bewese feit in elke taalberig, want te veel mense bly onkundig of ignoreer dit. Ook kan Afriforum gerus gereeld vraag-antwoord-artikels publiseer oor hoe om jou (Afrikaanse) taalregte op ‘n wetlik en menslik redelike manier in die werkplek op te eis.

Asjas ·

Ha jy raak nou ‘n interessante onderwerp aan. Dit het onlangs onder my aandag gekom dat dit deesdae “company policy” is om alle kliente in Engels aan te spreek, selfs al dring jy as die klient aan om in jou moedertaal gehelp te word. Wat eintlik snaaks was is die feit dat die jong man wat ons gehelp het duidelik Afrikaans was en sy Engels redelik gebroke. Toe my man se hy mag maar Afrikaans praat toe hoor ons van die “company policy”. As gevolg van die Engels wat ons gedwing is om te praat het ons R900 gemors want ons het die verkeerde ding gekoop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.