Ouers pleit vir geregtigheid ná ongeluk kinders eis

Van links: Juan, Jean-Pierre, Mackayla en Monica met Abigail op haar skoot (Foto: Verskaf)

“Dit is een mens wat ons gesin se hele lewe verwoes en ons kinders van ons weggeneem het. Ons mis hulle nog elke dag.”

Monica van Loggerenberg (32) en haar verloofde, Juan van Niekerk (36), is gebroke oor hul kinders, Jean-Pierre (8) en Mackayla (3), wat in Julie 2017 in ’n motorongeluk dood is. Die ongeluk het die gesin se lewe onherroeplik verander en het ’n sielkundige letsel in hul lewe gelaat.

Die paar het destyds ’n saak van strafbare manslag, poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur by die Kempton Park-polisie in Gauteng aanhangig gemaak. Dit volg ná ’n vermeende dronk bestuurder teen hul motor vasgery het.

Volgens die paar weet hulle wie die bestuurder van die motor was en het hulle sy identiteit aan die polisie bekend gemaak. Hulle sê die betrokke man is na bewering sedert die ongeluk nog nie eens ondervra nie.

Die ongeluk het op 8 Julie 2017 omstreeks 23:30 op Atlasweg – tussen Benoni en Kempton Park – plaasgevind.

Van Loggerenberg, Van Niekerk en hul drie kinders, Jean-Pierre, Mackayla en Abigail (4), het die aand van Secunda na hul huis in Kempton Park gery. Hulle het vir vriende in die dorp gaan kuier.

Hulle was sowat 12 km van die huis af toe ’n ander motor teen ’n hoë spoed agter teen hul motor vasgejaag het. Die motor het ’n paar keer gerol voordat dit op sy sy tot stilstand gekom het. Van Loggerenberg en die kinders is uit die motor geslinger terwyl Van Niekerk in die motorwrak vasgekeer was.

“Ek het myself uit die motor gewikkel om te kyk of my verloofde en kinders oukei is. Hulle het almal buitekant die motor in die pad gelê,” vertel Van Niekerk.

“Jean-Pierre en Mackayla het roerloos in die pad gelê. Ek het toe om die motor na Monica gehardloop. Sy het bloed gespoeg en die volgende oomblik haar bewussyn verloor. Abigail, wat ten tyde van die ongeluk agt maande oud was, was buitekant die motor, steeds in haar babastoeltjie.”

Dei gesin se motor ná die ongeluk (Foto: Verskaf)

Van Niekerk vertel hy het probeer kyk of hy enige insittendes van die ander motor kon sien, maar dié was skoonveld.

“Die verkeersdienste het later die aand toe hulle die toneel opgeruim het, die ander motor oorkant die straat, onder in ’n sloot aangetref. Sover ons wete strek, het die bestuurder ongedeerd van die voorval afgekom.”

Nooddienste is na die toneel ontbied en het Van Loggerenberg op die toneel begin behandel.

“Paramedici het vir Abigail in die ambulans gelaai. Sy was reeds potblou in die gesig. Ek het saam met haar in die ambulans geklim.

“Voordat ons hospitaal toe gery het, het ek gesien hoe hulle vir Jean-Pierre en Mackayla met ’n foeliekombers toegooi. Ek het toe met ’n skok besef hulle is oorlede.”

Van Loggerenberg en Abigail is na die Sunshine-hospitaal in Benoni geneem.

Van Loggerenberg het ernstige kopbeserings tydens die ongeluk opgedoen en haar longe het platgeval. Sy is in die hospitaal se intensiewesorgeenheid (ICU) aan ’n ventilator gekoppel en in ’n geïnduseerde koma geplaas. Sy was vir sowat drie weke in ’n koma. Ná sy uit die koma wakker gemaak is, het sy eers gehoor dat Jean-Pierre en Mackayla oorlede is.

Van Niekerk moes manalleen die kinders se begrafnisreëlings behartig.

Die lewe ná die ongeluk

Mackayla, Abigail en Jean-Pierre (Foto: Verskaf)

Van Loggerenberg het tydens die ongeluk ’n beroerte gekry wat die regterkant van haar liggaam aangetas het. Weens die beroerte kan sy vandag glad nie haar regterarm gebruik nie en sy sukkel om te loop. Van Niekerk moet haar soms help om te bad en aan te trek.

Sy kan ook nie meer werk nie omdat sy met haar geheue en spraak sukkel weens die kopbeserings wat sy tydens die ongeluk opgedoen het.

Volgens die dokters het die babastoeltjie Abigail se lewe gered.

“Sy het wel kopbeserings tydens die ongeluk opgedoen. Sy kan nie haar linkerhand gebruik nie en haar linkerbeen is swak. Volgens breinskanderings is die gedeelte van haar brein waar motoriese vaardighede ontwikkel, beskadig.

“Abigail word volgende maand vyf jaar oud, maar dra nog doek en kan nog nie in vol sinne praat nie. Sy gebruik woordjies en handgebare om iets te verduidelik.”

Van Niekerk het sy nek en rug tydens die ongeluk beseer en sukkel vyf jaar lank steeds met pyn.

Die gesin het sedert die ongeluk na Jeffreysbaai verhuis om by Van Niekerk se ouers te gaan woon. Hulle help om Van Loggerenberg en Abigail te versorg terwyl Van Niekerk deur die dag by die werk is.

Omdat Van Niekerk tans die enigste broodwinner in die gesin is, trek die gesin finansieel swaar en die mediese rekeninge hoop op. Die gesin het boonop ook nie ’n mediese fonds nie omdat hulle dit nie kan bekostig nie.

Die familie het ’n geldinsamelingsinisiatief vir die gesin begin om geld in te samel vir Van Loggerenberg en Abigail se mediese onkoste. Van Loggerenberg moet ’n stut vir haar been aanskaf, wat meer as R3 000 kos.

Van Loggerenberg het voor die ongeluk as algemene bestuurder vir ’n pizza-restaurant gewerk en haar groot droom was om haar as onderwyseres te bekwaam.

“Ek sou my die oggend ná die ongeluk vir ’n onderwyskursus inskryf. Nou is dié planne buite die kwessie,” vertel Van Loggerenberg.

Van Loggerenberg sê sy spreek jare later steeds ’n berader en sukkel om oor haar kinders se dood te kom.

“Die laaste ding wat ek van die aand van die ongeluk kan onthou, is hoe Jean-Pierre my ’n soen in die kar gegee en gesê het dat hy ’n bietjie wil slaap,” vertel sy.

Volgens Van Niekerk het hy vir Jean-Pierre belowe om hom veilig by die huis te kry. “Dit is die heel eerste keer dat ek ’n belofte verbreek,” vertel hy.

Die saak sloer …

Monica en Abigail omtrent vyf jaar ná die ongeluk (Foto: Verskaf)

Van Niekerk en Van Loggerenberg is moedeloos omdat daar ná meer as vier jaar sedert hulle die klagtes teen die bestuurder aanhangig gemaak het, nog niks van die saak gekom het nie. Die paar vertel hulle volg gereeld die saak met die polisie op, maar kry nie voldoende terugvoer nie.

Kapt. Jethro Mtshali, woordvoerder van die Kempton Park-polisiestasie, het bevestig die saak is tans by ’n senior staatsaanklaer om te besluit of die bestuurder wel vervolg gaan word.

Die paar vertel volgens ’n familielid van dié bestuurder was die man die aand van die ongeluk glo by ’n partytjie en het hy na bewering alkohol ingeneem.

“Die man het ons lewe verwoes en kom net daarmee weg,” vertel Van Loggerenberg.

“Die persoon weet presies wat hy gedoen het, maar het nog nie eens kom jammer sê of verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wielspore ·

Derde party eis maak voorsiening om kostes te dek maar daar is geen bedrag geld wat die emosionele verlies verlig. Die staat was onsuksesvol om die ouers met hierdie verlies by te staan deur na te laat om die beskuldigde aan die pen te laat ry. Op dieselfde blad van Maroela media word daar berig oor die moord op drie kinders in NZ hierdie week en die beskuldigde kom vandag in die hof voor. Sterkte aan die ouers en ek glo hulle kan met beter raad bedien en ondersteun word deur ‘n prosessionele instansie.

Willem ·

Baie sterkte vir ouers!Dis baie hartseer vir julle en dan word julle deur die polisie se laksheid ook nog verder vertrap deurdat hulle nie hul werk gedoen het nie.Hoop en vertrou dat geregtigheid sal geskied en baie gou ook.Ja geld kan nie kinders se lewens terugkoop nie maar kan die skade en pyn effens verlig.Derdeparty hoort ook uit te betaal.Hoop u het n eis ingedien.Sterkte!

Inkpot ·

Arme mense. Dis verskriklik en nog erger dat die reeds swak polisiediens net mooi niks doen nie.
Mag die moordenaar, want dis wat hy is, boet vir sy dade.

Mariana ·

Moord en hy loop skotvry. Hoop dit ry hom en maak sy nagte lank. Maar iemand soos hy het geen gewete nie.

Pieter ·

Ook ondervinding daarvan. Wanneer die polisie nie optree teen die persoon nie, is die persoon onaantasbaar op grond van politieke organisasies of deel van organisasies wat jy in jou CV verswyg. Die hofverrigtinge gaan dieselfde pad loop.

Oujongvrou ·

Is daar n derdepartyeis ingedien. Kry n goeie prokureur wat met 3de partyeise werk en doen dit onverwyld. Hoef nie prokureur vooraf te betaal nie maar hulle vat gewoonlik 10% van die eis geld as sy vergoeding. Sterkte

AmY ·

Kan maar net hoop dat daai man se gewete hom tot in die graf ry. (as hy ‘n gewete het.)
Sterkte aan die gesin.

Hasie ·

Wat ! Het ek reg gelees? Moet besluit of die bestuurder vervolg gaan word al dan nie ? Huh …? Dit is ooglopend dat die twak is en ‘n uiters swak verskoning

Meyndert ·

Ek is seker dat die ongeluk nooit by die Pad Ongeluk Fonds geraporteer is nie. Die mense moet onmiddelik vir raad na die naaste RAF (Road Accident Fund) kantore toe gaan. Ek vermoed dat die trauma en onkostes die arme ouers so oorweldig het dat die belangrike aksie nie geneem is nie. As die POF betrek word sal hulle seker maak dat die polisie hulle werk doen. Die fotos van die motor is voldoende bewys dat ‘n derde party by die ongeluk betrokke was en hulle stelsel kan net in werking tree as al die partye se gegewens beskikbaar is en deeglik ondersoek is. Hulle is veronderstel om die vriend van die verontregte in so ‘n saak te wees. Hulle moet dringend advies en hulp kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.