Ouers raadop oor seuntjie se ‘1 in ʼn miljoen’-defek

Nathan Ungerer (Foto: Verskaf)

Die ouers van ʼn eenjarige babaseuntjie van Roodepoort is “doodbekommerd” oor hul kind se toekoms nadat hulle tot dusver nog geen effektiewe behandeling vir hom kon kry nie. Die kind het ʼn seldsame geboortedefek wat glo net een uit elke miljoen kinders affekteer.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, sê die ouers, wat nie ʼn mediese fonds het om vir noodsaaklike behandeling te betaal nie, het dié organisasie per brief gekontak in ʼn poging om vir klein Nathan Ungerer die geleentheid te bied om “normaal te leef”.

Hoewel dokters die gesin aanvanklik aangeraai het om ses maande te wag om te kyk of die probleem verbeter, het sy toestand glo net vererger.

Volgens Selona van Aswegen, Nathan se ouma, het die dokters vroeër aan hulle gesê die limfvloeistof in sy linkervoetjie dreineer nie en beweeg ook nie terug na die liggaam nie. Dit het veroorsaak dat sy voet sedert geboorte ongewoon vinnig groei en swel.

Die gesin is intussen van bakboord na stuurboord gestuur, maar sê in die brief dat hul probleem net groter raak. Die gesin moes die laaste paar weke verskeie terugslae verduur, soos byvoorbeeld dat staatshospitale se toerusting nie werk nie.

“Daar is X-strale geneem en die hoof van radiologie het ons ingeroep en gesê dat ʼn ortopediese chirurg ook betrek sal moet word. Hy het aan ons verduidelik dat die beentjies in die voet almal teenwoordig is, maar omdat daar geen dreinering plaasvind nie, is daar baie suurstof wat deur die voet vloei en die groei van die beentjies verhaas. Die beentjies is daarom vergroot,” skryf sy in die brief.

Volgens haar moet die beentjies in sy voet tydens ʼn operasie korter gemaak word voordat die dokters die rekonstruksie van die voet kan begin. Sy sê hulle laaste hoop is dié operasie – iets wat onbereikbaar is omdat die gesin nie die geld daarvoor het nie.

Nathan Ungerer (Foto: Verskaf)

“Ons was al by talle dokters gewees, en het al alles probeer. Nathan was selfs al vir ʼn paar sessies arbeidsterapie. Hulle het vir hom spesiale kouse ontwerp wat die probleem sou oplos, maar dit het nie. Ek het my dogter se bevalling uit my sak betaal asook al die onkostes daarn – daar is bloot nie meer geld nie.”

Sy sê dr. James van der Merwe, ʼn plastiese chirurg by die Wilgenheuwel-hospitaal, het intussen gesê Nathan sal onder narkose behandel moet word waarna hy geopereer sal moet word om die voet te rekonstrueer. Hiervoor het die gesin R120 000 nodig.

“Hulle het vir ons gesê dat net een uit elke miljoen kinders met dié defek gebore word. Al die dokters by wie ons was, het gesê dat hul nog nooit só ʼn probleem teëgekom het nie.”

Die gesin pleit nou om hulp van weldoeners om vir dié operasie te betaal.

“Nathan het intussen begin loop maar hy moet op die hak trap en kan nie behoorlik loop nie. Hy is baie onvas en val baie om. Intussen groei die voetjie steeds. Hy het ook nog nooit ʼn paar skoene aan sy voetjies gehad nie.

“Opmerkings soos ‘sit eerder die voetjie af’ word ook na ons kant toe gegooi, en dit takel ons emosioneel af. Ondanks Nathan se toestand glimlag hy egter altyd. Ons bid vir hom en ons bid vir uitkoms vir dié kind.”

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by [email protected] of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerfof Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Lorieka ·

Ag nee kan goodmorning angel nie kind red nie asb jacaranda help hom jul doen altyd sulke wondere

Elsabe ·

So ‘n mooi seuntjie. Maroele is dit nie dalk sy linker voetjie nie

Karin ·

Die artikels moet dalk net deur gelees word voor die tyd. Julle praat van sy “regtervoetjie”, lyk vir my soos sy linkervoet, ek sê net..

Dalene de Vente ·

Dagsê Karin

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Baie hartseer ·

… hoop hierdie mense word gehelp. Kry daardie seuntjie so so jammer.
Net sleg dat soveel mense nie medies het nie!
Wanneer jy kinders het is 1STE PRIORITEIT n Mediese fonds! As jy dit nie vir jou hele familie kan bekostig nie, kry NET JOU KINDERS op n medies. Kinders word siek!
(Dis hoe ons dit maar gedoen het, toe ons dit nie kon bekostig nie )

Ruby ·

Baie hartseer, dit is baie ongevoelige en ondeurdenkte kommentaar.

Vir meeste ouers IS hulle kinders 1ste prioriteit maar omstandighede is van so aard dat dit totaal onmoontlik is om medies te kan bekostig!

Rerig!?!? ·

Rerig “BAIE HARTSEER”!?!?!?!?! Dink jy nie as mense dit kon bekostig sou hulle ‘n punt daarvan gemaak het om ‘n mediese fonds te hê nie?? Party mense moet eerder dink voor hulle praat….

Linette ·

@Baie hartseer – as jy moet kies tussen kos op die tafel, ‘n dak oor die kop en warm kleertjies aan die lyf vir jou kind(ers) omdat jou salaris net só groot is en lewenskostes styg en styg en styg, gaan jy nog kan dink aan ‘n mediese fonds? Mediese fondse is ook buitensporig duur in SA en baie eksklusief – ek sal eerder sê mense moet eerder enige geld wat hulle het en in ‘n mediese fonds sou stort, spaar, ‘n hospitaalplan uitneem en enige dag-tot-dag-doktersfooie ens. self betaal. Ek hoop die ouers van die ou liefie-seuntjie word gehelp.

Ashley ·

Sjoe, ek wonder soms of mense wat hul monde so uitspoel op enige media aanlyn ooit dink dat hulle dalk hul opinie nie so streng neersit nie. Aangesien jy nie die omstandighede weet nie moet jy liewers nie oordeel nie. Vir al wat jy weet vat hul die fonde wat hul kon gebruik vir die kind aleen op n medies om kos in sy maag te sit. Hoop jy dink twee keer volgende keer want dit wat n mens gese het kan jy nooit weer terug neem nie. Nog erger as jy dit op die web uitlaat. Hoop jy aanvaar my kommentaar as n “wake up” oor wat mense aanlyn moet en nie moet nie want baie mense kan jou bitter erg aanval omdat jy nie die omstandighede ken nie maar wel jou mond uitspoel. Groete – Ashley!

Astrid ·

@ Baie Hartseer, ongelukkig kan nie almal ‘n medies bekostig nie. Ek dink jou kommentaar is ietwat ongevraagd en sonder empatie. Ek is selfs ‘n mamma en het gelukkig medies maar dan moet ek ook sê, as my man se werkgewer nie helfte daarvan gedek het nie sou ons tien teen een nie op die plan gewees het waarop ons is nie omdat dit so onbekostigbaar is. Ek werk daagliks met ‘n vooraanstaande mediese fonds en uit ondervinding kan ek vir jou sê dat geen mediese fonds ‘n kind wat minderjarig is op ‘n fonds toelaat nie. Ongelukkig moet daar ‘n hooflid wees en dit mag ook net ‘n biologiese ouer wees tensy daar ‘n permanente hofbevel is waar die kind in die sorg van iemand anders geplaas is. So instede daarvan om gal te braak dink 2 keer voordat jy iets sê, die ouers en die klein mannetjie gaan deur genoeg trauma sonder jou kommentaar.

Ouma ·

Ek het ‘n vriendin wie se dogter ‘n soortgelyke probleem gehad het. Hulle het absoluut álles gedoen om die voetjie te behou. Sy het deur jare se pyn gegaan, en was meer in die hospitaal as in die skool. Toe sy na matriek wéér in die hospitaal beland, het sy self vir die dokters gevra om haar voet te amputeer. Sy het ‘n kuns voet gekry, en kon van daar af die lewe sonder pyn verder aanpak. Vandag besef die ouers, hulle moes dit kleintyd al gedoen het en dit sou haar baie swaarkry gespaar het. Ek weet nie of amputasie die probleem van hierdie ou pragtige seuntjie 100% sal op oplos nie, maar ás dit die geval is, en dit was my kind, sou ek hom so vroeg moontlik ‘n kunsvoetjie laat kry, sodat hy normal en sonder pyn die lewe kan ingaan. Dit is tog nie die einde van die wêreld om met ‘n kunsvoetjie te loop nie? Kinders is baie aanpasbaar. As dit egter nié hierdie probleem sal kan oplos nie, hou ons asb in die loep. Verduidelik hoe werk die siekte, en sou dit die res van die beentjie aantas? Ons stel belang.

Ook ouma ·

Ek stem saam. Duur operasie en as die toestand so seldsaam is wie weet of dit enigsins suksesvol sal wees. En dan opvolg operasies en elke keer pyn en pyn en pyn. Arme kind. Deesdae maak hulle prostesis wat gesofistikeerd is en naby aan die ware ding is.

Koos1 ·

Kyk of julle in kontak kan kom met Dr. Helena Basson van Healing Hands. Sy kan moontlik help. Ek weet sy het al ander gehelp. Sy is ‘n Pediatiese Ortopeed.

MissDemeanor ·

Ek sien jy los nie n nommer nie. Het jy die dr gevra of sy wil help?

Mrs.B ·

Pragtige klein seuntjie. Mag die groot mense gou vir jou gesond maak. Finansieel kan ek nie bydrae nie maar ek sal elke dag vir jou ‘n gebed opse sodat jy gesond word en ‘n normale lewe kan lei. Ons land het soveel wonderlike dokters, een van hulle sal jou kan help.

Jinx ·

Ai ek wens ons land wil net vir die kindertjies vernier medies gee al is dit Dan net tot op tien jaar.

Mike Kaapstad ·

Die hoog agbare Mandela het dan gese kinders onder 7 jaar gratis medies wat het daarvan geword,maar hulle spandeer duisende op partytjies…………………….

ADELE ·

BAIE HARTSEER ; regtig jy klink alles behalwe hartseer. Dis so maklik om te se dat ouers hulle kinders op ‘n mediese fonds moet sit. Dink jy regtig as ouers dit kon bekostig hulle dit nie so doen nie? GAAN EERDER OP JOU KNIEE EN SE DANKIE DAT JY JOU KINDERS OP N MEDIESE FONDS KON SIT. EN BID EERDER VIR AL DIE OUERS WAT DIT NIE KAN BEKOSTIG NIE. HOOP REGTIG JY KOM NOOIT IN N SITUASIE WAAR JY JOU KINDERS SE MEDIES NOODGEDWONGE MOET KANSELEER. EERDER KOS OP DIE TAFEL DAT HULLE MET VOL MAGIES GAAN SLAAP!!!!!!!!!!!!!

J.C Hechter ·

Hello, wil net weet of die ouers al met Christo Strydom van CSN in kontak was, hy het baie goeie resultate met limf dreinering. my seuntjie is ook gebore met limf blokasie in beide sy voetjies en dit gaan baie goed met hom. julle kan my kontak as julle wil.

Anoniem ·

As dit my kind was, het ek jou raad gevolg, want dit spreek die oorsprong van die probleem aan. Anders gaan die kind by herhaling (pynlike, duur) operasies nodig hê.

Nico ·

Dr James van der Merwe is werklik voortreflik. Hy is ‘n briljante chirurg.

Martie ·

Ek het die ouma geinboks, maar sy het nog nie gereageer nie, daarom lewer ek sommer hier kommentaar… Laat die dokters kyk of die kind se linkerbeen nie dalk langer is as die regterbeen nie, want net soos die voet groei die been ook vinniger…dis dalk hoekom die kind op sy hak loop! Die vergrote beengroei met swelsel is tipies van KTS!..Klippel Trenaunay sindroom.

Magaretha van heerden ·

Dit is tragies dat SA n Christen land is en nie help nie, in lande waar die mense humaniste is sou die dokters dadelik gese het hulle bied hul hulp verniet aan. Hoekom kan SA dokters nie ook so iets doen nie. Maar nee die volgende duur motor moet betaal word. Hulle is ook eerste in die ry om oom Angus se byeenkomste by te woon. Ek is seker dit kan dan selfs gereel word dat dit in n staatshospitaal gedoen kan word. Waar is die empatie en omgee vir so n klein kindjie of moet ons Trump wat deur almal verag word laat weet hy moet help?

rafel ·

wat van die Rooikruis Kinder Hospitaal in Kaapstad? Gratis behandeling en uitstekende diens

Martie Ungerer ·

Ek weet waardeur hierdie mense gaan, om nie te weet wat verkeerd is nie! My dogter is gebore met haar linkerbeen wat effens langer is as haar regterbeen, die been het n geboortemerk wat feitlik haar hele been bedek a.g.v vergrote bloedvate, verdikte enkel en voet en oorgroei aan die tone! Die groottoon moes korter gemaak word en die 2de toon, wat heeltemal na links gegroei het, het hulle verwyder en haar voet saamgetrek! Dit was gedoen deur n fantastiese Dokter, Dokter Barlin! Hy praktiseer nog iewers in JHB.
Niemand kon in die 90’s vir my se wat fout was met my kind nie! Eers verlede jaar het ons deur n vriendin van my dogter op iemand se fb. in Amerika agtergekom wat die toestand se naam is…KTS of Klippel Trennaunay Sindroom! Ons is so bly dat ons uiteindelik weet, maar ons het geen hulp of ondersteuning in Suid-Afrika nie!!!

Martie ·

Is daar dalk iemand in S.A wat ook gediagnoseer is met KTS??? Ons sal graag met jou in kontak wil kom, want daar is nog steeds baie vrae wat ons wil vra…xxx

Gesiggie ·

Jesus ons dra hierdie klein Engel kind aan U op… Vader ons vra vir Genesing.. vir n uitkoms.. Good Morning Angels Help ASB”’ Daar sal wel n wonderwerk plaasvind nadat almal van die klein Seuntjie gelees het.Sterkte aan die Ouers.. Mag ons spoedig n opvolg lees van die berig… Kan nie wag vir die Miracle… en Foto’s…

Martie ·

Ag, ou Gesiggie..sommige dinge in die lewe kan nie omgekeer word nie! Partykeer is dit God se wil dat ons ons laste sal dra tot ons doodgaan!
Jy is seker ook een van daai wat se hy of sy het nie geloof gehad om gesond te word nie!…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.