Ouers rand baba ‘herhaaldelik’ aan – hof

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Twee ouers is vandag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind op klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en kinderverwaarlosing nadat hulle hul baba sedert die ouderdom van vyf weke mishandel het.

Die mishandelings het tussen Maart en Julie 2020 plaasgevind. Regter Hennie de Vos het in sy uitspraak die afleiding gemaak dat die baba 31 frakture opgedoen het weens aanrandings wat by minstens vyf geleenthede toegedien is.

Maroela Media het verlede jaar berig dat die ouers van die babadogtertjie, wat toe ses maande oud was, op strafregtelike klagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kindermishandeling in hegtenis geneem is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag opgetree in hierdie saak, asook die klaers in die saak bygestaan met die indien van strafregtelike klagte by die SAPD.

Dokters wat die baba ondersoek en in die hof getuig het, stem saam dat dit waarskynlik is dat die baba kroniese mishandeling van ’n erge graad beleef het en sou kon beswyk van haar beserings, indien sy nie mediese behandeling gekry het nie. Die hof het die getuienis van al die dokters aanvaar en die weergawes van albei beskuldigdes verwerp. Albei ouers het onskuldig op die aanklagte teen hulle gepleit.

Die baba is in 1 Julie verlede jaar in ’n kritieke toestand in die Eugene Marais-hospitaal opgeneem met longontsteking, skok en ontwatering. Sy was ook vér ondergewig vir haar ouderdom en rasend honger toe sy opgeneem is. Verdere toetse het gewys dat haar sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het. Volgens dokters se getuienis word ’n baba se sleutelbeen nie maklik per ongeluk gebreek nie. ’n MRI-skandering het ook beserings aan haar nek en kop getoon, wat die getuies meen heel moontlik veroorsaak is deur iemand wat die baba se lyf erg geskud het, sodat haar kop van skouer tot skouer geruk het.

“Vandag se uitspraak is ’n oorwinning vir hierdie kind en ook vir geregtigheid,” het adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê.

“Die privaatvervolgingseenheid moes by hierdie saak betrokke raak om te verseker dat die ouers verantwoordbaar gehou word vir hul dade. Ons verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se suksesvolle vervolging van die beskuldigdes. Ons moet egter nie vergeet dat die dokters wat die kind behandel het, die werklike helde in hierdie saak is nie.”

Vonnisoplegging sal op 6 en 7 Desember vanjaar plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries ·

Hulle hoort eintlik die doodstraf opgele word. Dit is walglike mense die

Di ·

Dit noem mens nie mense nie maar monsters! Watse ouers kan ‘n weerlose baba so aanrand en vir watter redes? Slegter as sleg, hoop hulle sit vir BAIE lank in die tronk en kry daar dieselfde behandeling as wat hierdie onskuldige kind moes deurmaak.

Frank John ·

Sluit hulle toe en gooi sleutel weg tot Jesus se koms.

seeskulp ·

Arme ou mensie. Here gee asb die babatjie vir n gesin wat deur U gekies is met die hand om daai mensie net lief te hê en te koester en groot te maak as hul eie en genees asb alle fisieke wonde aan die ou lyfie en geestelike wonde in die klein hartjie. Bring ook die wrede ouers tot insig en belydenis in die tronk.

dr. Petronella ·

Al my gebede aan hierdie klein poppie. Hoop sy het nie ernstige skade oorgehou v hierdie onmenslikke wreedheid nie. Die 2 wat haar mishandel het, kan nooit ooit die naam ouers genoem word nie. Hulle is skuim wat hul hele lewe in die gevangenis moet deurbring, baie min kos moet kry en moet klippe kap vir hul daaglikse stukkie brood.

Zombie ·

Dr Petronella, sy sal ernstige skade oorhou. Indien nie fisieke skade nie, defnitief emosioneel.

Darts girl ·

Ek wil net graag weet hoekom eers Desember vir hul vonnisoplegging? Hoekom so lank, dit het reeds so lank gevat om hul skuldig te bevind. Vonnis hulle en kry klaar hulle hoort nie langer in die samelewing nie, nie as hul dit aan hul eie kind kan doen nie.

Elmarie ·

Mense soos die behoort nie ouers te wees nie. Deel van die straf behoort sterilisasie te wees. Hulle is siek, baie siek

Cindy ·

ai, arme onskuldige kleine dogtertjie :( Hoop sy is nou in sorg waar sy oneindig baie liefde kry – jis dit maak mens huil, die aaklige goed wat mense aan hul eie kinders doen :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.