Goeie nuus: Ouers red PTA-kleuter uit ‘kapers’ se kloue

Du Venage en haar dogtertjie Megan.

Twee vermeende kapers is Dinsdagmiddag in Pretoria in hegtenis geneem nadat hulle ʼn vrou se motor met haar vyfjarige dogter binne-in wou kaap, maar hulle teen vier ‘helde’ vasgeloop het.

Caren du Venage (24) het Maandagmiddag oudergewoonte haar dogtertjie, Megan, by die Kasteeltjieland Kleuterskool in Booysens in die weste van Pretoria gaan haal. “Toe ek en sy uitkom was daar drie mans wat so entjie van my motor af gesit het,” het Du Venage Woensdag aan Maroela Media gesê. “Ek het nie onveilig gevoel nie want dit was spitstyd en besig by die skool.”

Sy het haar motor, ʼn wit BMW 318i, oopgesluit en Megan in die karstoeltjie geplaas toe die mans vinnig na haar toe stap. “Ek het gesien hulle kom nader en wou vinnig in die motor spring, maar hulle was te vinnig vir my en het my uitgeruk. Hulle het ʼn vuurwapen teen my nek gedruk en my met ʼn toestel geskok, waarna twee van hulle in die motor gespring het.”

Du Venage het paniekbevange gespook om haar motor se sleutels uit die aansluiter te gryp. Megan het intussen begin huil en ʼn verdagte wat langs haar in die voertuig in gespring het, het haar ook geskok sodat sy moet stilbly.

“Ander ouers by die skool het gesien wat gebeur en skielik was my helde daar. Lynette van der Linde het met haar motor voor my kar parkeer sodat hulle nie kon wegjaag nie. Jean-Marc du Plessis, Shaun Cambridge en Henry Roux was toe daar en het die motor se vensters uitgeslaan om vir Megan uit te haal, waarna hulle die twee verdagtes aangehou het totdat die polisie opgedaag het. Dit het alles so vinnig gebeur. Ek is so dankbaar vir al daai mense wat hul eie lewens in gevaar gestel het om my en my kind te help,” het sy verduidelik.

Sy het gesê die derde verdagte het gesien hier kom moeilikheid en het hom vinnig uit die voete gemaak. Buiten die groot skrik, het die ma en dogter geringe beserings opgedoen. “Ons is oukei, en ontdek by die minuut meer blou kolle. Megan se voetjie is bietjie geswel, daar mag dalk ʼn stukkie glas vassit. Sy het ook nie lekker geslaap nie en nagmerries gekry,” het sy gesê.

Du Venage is vol lof vir beamptes van die Hercules-polisiestasie wat spoedig op die toneel was. Die polisie ondersoek die voorval.

Du Venage se motor na die voorval.

Du Venage se motor na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Helene Heyns ·

Sjoe, met sulke fantastiese vriende kan `n mens dalk kans sien vir `n toekoms in hierdie mal land van ons.

RK ·

Welgedaan!! Dis wat gebeur wanneer ons mense saam staan. Kan net bid en hoop dit dien as voorbeeld vir ander om mekaar te help in tye van nood.

Schalk ·

Voorwaar goeie nuus!! Net dalk lees meer mense sulke berigte en raak betrokke. Kan nie wag vir die dag wat ek gelukkig genoeg gaan wees om teenwoordig te wees op so n toneel nie. Maar nou ja, daai geluk sal my nie tref nie.

Pierre Celliers ·

Pragtig gedoen mense!
Wys jou net, saamstaan verrig wondere!

j ·

Welgedaan! Sjoe, as meer mense betrokke wil raak kan ons iets in hierdie land van ons laat gebeur! So bly dat ma en dogter veilig is. Mag hulle die trauma gou verwerk.

Saartjie ·

Welgedaan! Ek woon in PMB en nou die dag het die vrou wat voor my gestop het by die verkeerslig se motor agteruit gery. Sy het in my vasgery nadat ek getoet, geskree het maar dit het nogsteeds gebeur. Daar was mense langs my en agter my toe ek uitspring om te kyk vir skade het nie een persoon uitgeklim om te kyk wat die skade is en of ek hulp nodig het nie. Nie eers die vrou wat dit veroorsaak het, het uitgeklim nie, my net in haar truspieel aangekyk of ek nou mal in my kop is. Gelukkig was daar geen skade nie.

Traantjies ·

Sit sowaar en tjank soos ‘n ou vrou hier. Dís mos hoe ons ou volkie moet saamstaan, nie vinger wys oor daai ene van Steve hou, en daai ene nie. Nie mekaar beskuldig en beterweterig negatiewe kommentaar lewer op enigiets wat ‘n mede-Afrikaner sal aanpak nie. Maar wel om ONvoorwaardelik saam te staan. Dit is die enigste manier hoe ons uit hierdie gemors gaan kom.

anet ·

Baie dankie aan almal wat vir Caren en Megan bygestaan het. Lynette jy was ‘n ster om die motor in te parkeer. Dankie ook aan die manne wat Caren bygestaan het. Dit is beslis vir my baie goeie nuus. Sterkte aan die Familie om die trauma te verwerk. Wonderlik dat mense saam staan in tye van nood.

jacques ·

Mooi gedoen mense.Ons sal moet so begin saamstaan anders gaan dit seker net erger en erger raak.Moet die Here se hand wees.

pHIllip ·

Kan ons nie maar die goed hang nie?Asseblief!Dis nou die land wat ons ouers ons nagelaat het!?Sondes van die ouers?Hoe belaglik!!

Piet Pompies ·

Soos deur vorige kommentaar opgemerk is, ons is min maar begin bymekaar staan. Dit is die begin van die einde vir die klomp skelms wat swak bestuur van die regering misbruik om misdaad te pleeg. Beskerm jouself en help mense in nood, dit bring mense bymekaar en ons het dit dringend nodig in ons land.

PIETIE ·

WOW, EK SIT SELF MET ‘N KNOP IN MY KEEL, DIS BITTER MOOI OM SO SUKSES VERHAAL TE LEES VAN SAAMSTAAN, WOW, EK IS SO TROTS, DAMMIT MAN, EK GLO VAN VANDAG AF SAL HIERDIE GEBEURTENIS ALMEER GEBEUR, SODAT ONS NIE VIR HULLE MOET BANG WEES NIE, HULLE MOET VREES WAT AS ONS GEVANG WORD…….. DAAI MENSE GAAN ONS BLIKDIKSEM AS HUL ONS VANG.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.