Ouers ruk op na Pretoriase laerskool oor Afrikaans

Laerskool Theresapark (Foto: Facebook)

Ouers van Afrikaanse leerders aan Laerskool Theresapark in Akasia, Pretoria, het Vrydag na dié skool opgeruk omdat daar glo teen hul kinders gediskrimineer word.

Daar word beweer dat die skool se Afrikaanse leerders twee weke kennis gegee is om die parallelmediumskool te verlaat. Die kinders moet na bewering ook in stoorkamers skoolgaan terwyl daar glo oop klaskamers beskikbaar is.

Daar word voorts beweer dat Afrikaanse leerders op die skoolterrein geïntimideer en gedreig word, sê Devon Hofmeyr, een van die stigterslede van die Bittereinders-jeugbeweging.

Minstens 40 ouers en lede van die publiek het vanoggend buite die skool bymekaargekom waar die jeugbeweging ’n memorandum aan die skool en die Gautengse departement van onderwys oorhandig het.

Daar word in die memorandum onder meer geëis dat elke Afrikaanse leerder sy of haar skoolloopbaan in Afrikaans by die skool mag voltooi, dat Afrikaanse leerders uit die sogenaamde stoorkamerklasse geskuif word en dat die departement ondersoek instel na die bewerings wat geopper is.

Die skool en departement word ingevolge die memorandum tot 4 Februarie geleentheid gebied om aan dié eise te voldoen voordat verdere stappe gedoen sal word.

“Die ouers soek antwoorde, maar niemand gee vir hulle antwoorde nie,” sê Hofmeyr aan Maroela Media.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, sê die departement is bewus van die situasie by Laerskool Theresapark en het die memorandum ontvang.

“Ons wil dit wel duidelik stel dat daar teen geen leerder in enige van ons skole gediskrimineer sal word op grond van hul taalvoorkeur nie.”

Mabona sê die departement is bewus daarvan dat daar baie min Afrikaanse leerders by die betrokke skool ingeskryf is terwyl die meerderheid leerders in Engels onderrig word met Afrikaans of Setswana as tweede taal.

Hy verduidelik dat die skool verskille ruimtes, waaronder stoorkamers, in klaskamers omskep het om leerders van alle tale so goed moontlik te akkommodeer en dat dit hoegenaamd nie gedoen is om teen leerders te diskrimineer nie.

Daar sal Maandag met die ongelukkige ouers vergader word.

Die skool wou Vrydag by navraag geen kommentaar lewer oor die bewerings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Dit was ‘n suiwer Afrikaanse skool wat nou gekaap is deur die regering. Dit is waarom die skool onderrig in die land misluk.

Samuel ·

Nou wat nou? Is die stoorkamer klaskamers nie behoorlik toegerus nie? Akasia is dan ‘n Afrikaanse gebied sover my kennis strek.

JohanR ·

Ek het al baie verby daai skool geloop en gehardloop as ek gaan oefen, en dit het van die straat af gelyk na ‘n skoon, posh en goed bestuur skool. Wat het nou verander, of was Lefusi weer daar? Meeste van die beste 2021 materieks het uit Afrikaanse skole gekom…..it is not a coincidence.

Mariana ·

Net soos dit is, moet Afrikaanse kinders in ‘n Afrikaanse skool plek maak en hul plek opgee vir andertaliges. Is dit dan nie presies wat Lesufi wou hê nie. Ek sou ook kapsie gemaak het teen die diskriminasie. Op die einde van die dag is dit die kinders wat benadeel word…..soos gewoonlik.

Waarom ·

Die oomblik as ‘n skool parallel medium word is dit net ‘n kwessie van tyd tot Afrikaans verdwyn.

Anel ·

So ver ek weet was dit ‘n goeie Afrikaanse skool. Maar soos alles word ons skole oorstoom deur die ander tale. Engels word afgedwing en ons Afrikaanse kinders moet ‘n ander heenkome kry. Maar wie het die skool opgebou tot waar hy vandag is? Die skole in Soshanguve en Hamanskraal wasr die lot, glo ek vandaan kom, staan leeg. Na ‘n paar jaar is die skool wat hulle dan nou oorgevat het maar ook op dieselfde standaard as wat hulle is. Hulle wil nie skoolfonds betaal nie en het geen disipline nie, en wil ook nie leer nie. Standaarde moet so verlaag word om hulle te help. En nog steeds doen die Afrikaanse kinders, wat uit ‘n Afrikaanse skole kom, die beste in matriek. En selfs op universiteit. So wat nou? Dankie Bittereinders.

Blomme ·

Onttrek al die Afrikaanse leerders en oor paar maande is die skool ook geplunder.

Swerwer ·

Natuurlik word daar gediskrimineer teen Afrikaans sprekendes. Elke dag is daar insidente. Die ANC dink mos ons is leke en glo die valsheid wat uit hul monde gespreek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.