Ouers ry verby ongeluk waarin dogter dood is

Elzeth Gouws. Foto: Verskaf

Elzeth Gouws. Foto: Verskaf

Elzeth Gouws (30) het Vrydagmiddag verongeluk op pad na haar ouers se plaas buite Brits. Haar ouers het kort hierna verby die ongelukstoneel gery.

Annatjie Gouws, Elzeth se tannie, het aan Maroela Media gesê die ongeluk het Vrydag tussen 15:00 en 16:00 plaasgevind. Elzeth was op die R513-pad toe sy vermoedelik reg van voor teen ʼn klein vragmotor gebots het. Elzeth se motor het teen ’n walletjie langs die pad afgerol en op sy dak tot stilstand gekom.

Volgens Gouws het Elzeth se ouers, Frikkie en Rina Gouws, kort hierna verby die ongelukstoneel gery op pad na die plaas waarheen hulle twee jaar tevore verhuis het. Hulle was in Pretoria vir die dag. “Hulle het nie gesien dis haar motor nie aangesien die motor op sy dak gelê het,” het Gouws gesê.

Frikkie en Rina het toe sowat 5 km van die plaas af ’n oproep ontvang waarin hulle meegedeel is hul dogter het verongeluk.

Gouws het gesê haar broer en skoonsuster het onmiddellik teruggery na die toneel. “Ek is self ook uit na die toneel en Elzeth se broer het ook soontoe gekom.” Elzeth is op die ongelukstoneel dood verklaar.

Volgens Gouws het Elzeth in Centurion gewoon en by die ooginstituut by Unitas gewerk. “Sy het deeltyds geswot en sou volgende jaar haar honneursgraad in sielkunde gedoen het.”

Frikkie is ʼn pensioenaris terwyl Rina as ʼn onderwyser werk. Sy tree einde Augustus af.

“Elzeth het baie vir mense omgegee. Sy het altyd probeer help en raad gegee,” het Gouws gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

CHRISTA ·

My innige simpatie aan Elzbeth se ouers, familie en vriende. Mag die liewe HERE in sy vertroostende arms toevou. EK WENS ONS OWERHEDE WIL ‘N ERNSTIGE POGING AANWEND OM ONS PAAIE VEILIGER TE MAAK!! PAS NET DIE WETTE WAT REEDS BESTAAN TOE DAN SAL ONS ONGELUKKE MET 90% AFNEEM!!!!

KarooKlong ·

So tragies, so onnodig, so moeilik om oor hierdie berg te kom….
Frikkie en Rina my innige meegevoel met julle groot verlies en smeekbede vir vertroosting.
Karoo groete.

Peet Schabort ·

WAAROM waarom die jongmense van ons nasie wat so sterf in ongelukke ??
Sterkte aan die familie.

Gideon ·

Hannelie- ek kan nie agterkom waaroor jy kla nie- dit is baie mooi beskrywende wyse om dit so te stel!! Ek dink sommige mense kla net om te kla!

ELSABE ·

BAIE STERKTE AAN DIE FAMIELIE ONS DINK AAN JULLE. KOBUS EN NAOMI BAIE STERKTE LIEF JULLE BAIE!!!!!!!!:-(

Joey Engelbrecht ·

Glo nie enige mens verwerk die dood van sy kind ooit nie. Frikkie, Rina en Kobus baie sterkte vir julle en ons dink aan julle. Baie sterkte vorentoe. God alleen kan julle deur hierdie hartseer tyd dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.