Ouers sê Limpopo-hoof moet waai

(Argieffoto: Verskaf)

Ouers en leerders van die Laerskool Burgersfort in Limpopo het ʼn petisie begin waarin die departement van onderwys en die skool se beheerliggaam versoek word om die skoolhoof uit sy pos te verwyder.

Volgens die petisie is ouers ongelukkig omdat die hoof, Coert Erasmus, nie na hul klagtes en griewe luister of dit aanraak nie. Hulle is onder meer ontevrede omdat die hoof reeds vanaf 2015 versuim om ʼn ernstige klagte teen een van die onderwysers op te volg.

Altesaam 638 mense het reeds hierdie petisie geteken. Die teiken is 1 000 handtekeninge.

Die ouers kla ook dat Erasmus nie die beste belang van leerders en hul opvoedkundige welstand op die hart dra nie.

Renier Buitendag, regsverteenwoordiger van die skool se beheerliggaam, het aan Maroela Media bevestig dat die beheerliggaam reeds verskeie klagtes en griewe oor Erasmus aan die departement van onderwys oorhandig het om die nodige ondersoek te behartig.

“Ons kliënt, Burgersfort Laerskool se beheerliggaam, het met beamptes van die departement vergader en die aangeleentheid bespreek. Ons kan ook verder bevestig dat ons kliënt wel korrespondensie van die departement se regsafdeling ontvang het, dus blyk dit dat die departement besig is met sy eie ondersoek,” sê Buitendag.

Volgens Buitendag beklee Erasmus ʼn departementele pos en nie ʼn beheerliggaampos nie. Hy kan dus nie deur die beheerliggaam uit sy pos verwyder word nie.

“Die Wet op die Indiensneming van Opvoeders sal bepaal hoe die departement die nodige dissiplinêre stappe moet doen, indien die ondersoek wel bevind dit is nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris dupreez ·

Nou moet elke hoof weggejaag word wat streng disipline toepas

Wilmarie ·

Hi Chris.

Hou die storie dop, is ons dorp daar baie baie baie meer agter die storie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.