Ouers sê ‘tyd om realisties te wees’ oor hul Lielie Muis

Leah de Jager. (Foto: Annelie Jonker Photography)

Die vyf maande oue Leah de Jager van Uitenhage wat weens ʼn skaars mediese toestand geen immuunstelsel het nie en reeds langer as ʼn maand om haar lewe in die hospitaal veg, het breinskade opgedoen.

“Ons moet dit erken. Ons kan nie in ontkenning leef nie. Let’s call a spade a spade,” het Gerrit de Jager, Leah se pa, Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê. Sy klein Lielie Muis, soos hy haar noem, wys tekens van breinskade nadat sy eindelik onder verdowing uitgebring is.

“Glo ons dit gaan beter raak? 100%, maar dis tyd om realisties te wees.”

De Jager verduidelik dat Leah glad nie huil nie en dit duidelik aan haar gesiggie is dat daar breinskade is. Leah is ʼn ruk gelede geleidelik onder verdowing uitgebring nadat sy ná haar opname in die hospitaal onder verdowing geplaas is toe sy aan ʼn ventilator gekoppel was en gevolglik nie mag beweeg het nie. Dit was aanvanklik onduidelik of sy breinskade opgedoen het en haar ouers moes angstig wag tot sy eindelik wakker is om te sien of daar wel skade is.

Dokters het egter breinskade vermoed aangesien Leah twee beroertes gehad het. Sy kry ook stuipe wat met elke aanval suurstof na haar brein vlugtig afsny, verduidelik De Jager.

Leah word steeds in die neonatale waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth behandel nadat sy sowat ses weke gelede met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer is. Dit beteken dat sy wesenlik geen immuunstelsel het nie en haar liggaam dus geen vermoë het om teen infeksies, bakterieë en kieme te baklei nie.

Leah de Jager by haar ouers, Lezaan en Gerrit. (Foto: Annelie Jonker Photography)

Sy ontvang tans antibiotika asook ander medikasie vir haar toestand. De Jager sê vir eers kan hulle bloot wag vir die infeksie wat sy opgedoen het om te verbeter “wat net nie gebeur nie”.

“Sy staan stil. Daar is regtig nie verbetering in haar dag vir dag [toestand] nie.”

Dit gaan selfs soms slegter, erken hy. Leah het veral die afgelope week erg met haar asemhaling gesukkel. “Dit voel of mens ʼn stap teruggee in plaas van vorentoe,” sê De Jager.

“Die afgelope twee dae was erg. Ek wil nie uit die bed uit opstaan nie. Ons is moeg.”

Leah se ouers het die afgelope naweek deurentyd by hul Lielie Muis gewaak ondanks ʼn Familiedag wat ten bate van haar toestand op 18 November gehou is. De Jager sê hy en sy vrou, Lezaan, het wel by die Familiedag gaan gesig wys. “Ons was vir ʼn rukkie daar, maar dit was fenomenaal.”

Sowat 550 mense het die dag ondersteun. De Jager sê die geleentheid “was maar emosioneel”, maar ook lekker.

De Jager is ʼn radio-omroeper in die Baai en sê dit was veral lekker om van die kunstenaars wat hy deur sy werk ken, vinnig te sien.

Klein Leah sal vermoedelik nog lank in die hospitaal bly, maar De Jager is hoopvol dat die geld wat op dié dag ingesamel is genoeg sal wees om die skuld wat hulle moes aangaan vir Leah se mediese onkoste te dek. Daar sal vandeesweek vasgestel word hoeveel geld ingesamel is en hoeveel daarvan gebruik moet word om al die gate toe te stop.

Leah de Jager. (Foto: Annelie Jonker Photography)

De Jager wil egter ook van die geld gebruik om ʼn siek seuntjie op hul dorp by te staan. “Dis nie my geld nie, dis gemeenskapsgeld,” sê hy.

De Jager sê ʼn sekere mediese instansie het ook van hul skuld afgeskryf. Hy wil gevolglik dié spesifieke bedrag geld net so vir die seuntjie se mediese onkoste skenk. “Die Here het my geseën deur daardie geld af te skryf. Nou kan ek hulle met daardie geld help. Dis hoe ek my dogtertjie se seëninge kan deel.”

Alle geld wat deur die Familiedag ingesamel is, word elektronies deur ʼn boekhouer behartig.

Besoek die Lielie Muis Fondsinsameling Facebook-blad vir meer inligting oor Leah se vordering, asook maniere waarop die gesin bygestaan kan word.

Lees alle vorige berigte oor Leah de Jager op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Gesiggie ·

WOW! Om iemand anders te seen terwyl jy deur ‘n helse storm gaan! Dis net amazing.
Mag die Here julle omvou in hierdie moeilike tyd, Sy wee is nie altyd ons wee nie, maar ek glo Hy is met julle elke tree elke dag!

Yvonne ·

Gesiggie, ek sou niks minder van hom verwag het nie. Hy is bekend in ons gemeenskap vir sy oop hand en het al menige in hul tye van nood gehelp deur onder andere fonds insamelings. Hierdie is twee pragtige mense. Ek bid ook dat die liewe Vader elke dag elke tree met hulle sal wees.

Anoniem ·

My hart bloei vir hierdie ouers en hierdie onskuldige ou babatjie… Ai, ek het self kleinkinders. Dis hartverskeurend.

Ons moet net onthou, by God is ALLE dinge moontlik. Ons bid dat Hy haar aanraak en volkome genees.

Sarel Strydom ·

Kan ‘n Klein mensie soveel beleef. Sterkte vir hierdie ouers.

honourable member ·

Daar is tye om realisties te wees maar dis nie altyd maklik nie. Baie sterkte vir julle in hierdie beproewing.

GM ·

Mag julle geseën word. Wat ‘n pragtige gebaar om vir die seuntjie op die dorp ook geld te wil skenk terwyl julself deur sulke onsekerheid moet gaan met jul poplap. Mag sy gou verbetering toon!

Hannelie ·

Jul is in ons gebede. Baie sterkte in hierdie onseker tyd.

Yvonne ·

Gesiggie, ek sou niks minder van hom verwag het nie. Hy is bekend in ons gemeenskap vir sy oop hand en het al menige in hul tye van nood gehelp deur onder andere fonds insamelings. Hierdie is twee pragtige mense. Ek bid ook dat die liewe Vader elke dag elke tree met hulle sal wees.

Johnnie ·

Al wat ek kan se is LIELIE MUIS jy word toe gedek in Jesus se deurboorde hande en daar is baie mense wat vir jou en jou ouers bid. STERKTE WODR JULLE TOE GEBID.

Jeremia ·

My hart breek oor hierdie pragtige dogtertjie en wonderlike ouers.
Mag julle elke dag buitengewone krag en genade ontvang.

Jessica ·

Hou vas aan God, hy sal haar genees, niks in sy hande is teveel nie, hy werk in sy eie tyd en doen wonder werke, sy sal gesond word, sy is pragtig, bid vir julle en dankie vir jou hart wat jy oop maak na daai seuntjie, en deur die wat jy doen werk die hemelse vander deur jou en julle klein engeltjie, byt vas en hou vas aan onse lewe vader. bid vir julle, sterkte.

Jaco ·

GOD IS GROOT EN DIT WAT JUL AS OUERS NOU DOEN IS OP GEE. MOENI. DIT IS SATAN WAT KOM STEEL SLAG EN VERWOES MET SY LEUENS AAN JUL. HOU AAN BID EN VERTROU GOD. HIER KOM N GETUIENIS EN N GROOTE OOK.

Neels du Plessis ·

Hoe bevoorreg is almal betrokke by haar vir die genade wat hulle ontvang. Alle sterkte

Diefie ·

Mag die Vader julle saggies en teer in Sy Hand van genade, liefde en beskerming hou.

Anje ·

My hart is seer saammet julle maar hoop en bid ook saammet julle. Ek was 6 jaar terug op dieselfe plek asj ulle met my 6 maande ou baba. Mens moet net vertrou dat die Here weet wat die beste is al verstaan ons glad nie die redes nie. Sterkte vir julle. In ons gebede

Jesus leef ·

Sy sal gesond word en self haar lewe leef vir Jesus as ‘n testimony vir wie Hy is en hoe groot Hy is en hoe ongelooflik lief Hy ons almal het!!!! In ons wereldse manier is daar ‘n realistiese deel (dis net satan se woorde aan ons in ons gedagtes) want by God is niks onmoontlik nie en mag Hy julle krag gee en Sy waarheid uitwys en jul wapenrusting aantrek en vas staan in Jesus se krag en grootheid en hierdie kind opstaan en leef met geen geen breinskade of gebrek nie sodat Jesus se naam geglorify kan word!!!! He is a Good Good Father!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.