Ouers se vrae oor skole beantwoord

Angie Motshekga. Foto: Jacques Naude/ANA

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag aangekondig dat die eerste groep leerders in Junie vanjaar sal kan teruggaan skool toe.

Hoewel baie ouers verlig is dat hul kind kan terugkeer skool toe, is ander bekommerd dat hul kind Covid-19 by die skool kan opdoen. Ander kan nie meer skoolfonds bekostig nie of wonder wat om met hul kinders te maak indien almal nie gelyk mag terugkeer skool toe nie. Maroela Media het met kenners gesels om ouers se vrae te beantwoord.

Baie ouers meen dat kinders eenvoudig hul skooljaar volgende jaar moet oordoen. Is dit moontlik?

Carien Bloem, hoof van onderwys by AfriForum, het aan Maroela Media verduidelik dat dit nie ideaal sal wees om leerders bloot terug te hou en volgende jaar terug te stuur skool toe nie, aangesien dit ʼn opeenhoping sal veroorsaak. Die bottelnek sal ontstaan wanneer nuwe leerders gr. R, gr. 1 en gr. 8 wil betree, maar daar nie plek is vir hulle nie.

Prof. Isak Oosthuizen, ʼn kenner in onderwysreg aan die Noordwes-Universiteit (NWU), raai op sy beurt ouers aan om nie hul kinders terug te hou om hul skooljaar volgende jaar te herhaal nie. “Elke jaar tel in ʼn vroeë ouderdom en is te kosbaar vir ʼn kind om te vermors,” verduidelik hy.

Is skole toegerus om die nodige gesondheidsmaatreëls by skole in te stel?

Die departement se plan behels dat leerders en onderwysers soggens vir Covid-19 nagegaan word voordat hulle op die skoolterrein toegelaat sal word. Die plan maak ook voorsiening daarvoor dat maatreëls soos die ontsmetting van klaskamers, die was van hande, die dra van maskers en sosiale afstand by skole gehandhaaf word.

Bloem is egter nie oortuig daarvan dat skole toegerus is om dié maatreëls toe te pas nie, aangesien meer as 3 500 skole in Suid-Afrika geen lopende water het nie. “Daar is steeds skole wat ná 25 jaar slegs puttoilette het. As hierdie basiese geriewe reeds so lank geneem het, hoe gaan dit binne enkele weke reggestel word?”

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout)

Volgens Bloem is die beweging van leerders tydens die skooldag ook ʼn groot kopseer.

Bloem vermoed dat leerders nie pouses buite gaan kan rondbeweeg nie, maar eerder blaaskanse gegun sal word om ʼn toebroodjie in die klaskamer te eet of op hul arms te lê en rus.

Sy verduidelik dat die risiko net te groot is om leerders buitentoe te stuur vir pouse aangesien leerders moontlik kontak met mekaar sal hê, hul maskers sal afhaal of nie goeie handhigiëne sal toepas nie.

Volgens Bloem is daar in dié stadium nie genoeg duidelikheid oor die verskillende maatreëls wat by skole implementeer gaan word om die veiligheid van leerders te verseker nie. “Dit saai paniek onder onderwysers en ouers.”

Kan ouers die staat dagvaar as hulle kinders gedwing word om skool toe te gaan en dan Covid-19 by die skool opdoen?

Volgens Oosthuizen loop die staat ʼn groot risiko om skole te heropen, aangesien die staat moontlik gedagvaar kan word indien leerders gedwing word om terug te keer skool toe en daar later bewys kan word dat ʼn kind die virus by die skool opgedoen het. Hy verduidelik dat die staat dus deliktueel aanspreeklik gehou sal kan word.

Bloem glo egter dat ouers hul kinders op eie risiko skool toe stuur indien die staat kinders nie dwing om terug te keer nie. Volgens haar sal dieselfde reëls dan geld as wat jou kind griep by die skool opdoen of sy of haar arm op die skoolterrein breek.

“Ouers moet besef dat hulle hul kind skool toe kan stuur mits hulle gemaklik is daarmee en gerus voel dat die skool jou kind se veiligheid kan verseker.”

(Argieffoto: pixabay)

Mag ouers hul kinders by die huis hou en tuis onderrig vir die res van die jaar as hulle reeds by ʼn skool ingeskryf is?

Deacon raai ouers aan om nie hul kind oorhaastig uit die skool te haal en tuis te onderrig indien hy of sy reeds ingeskryf is by ʼn openbare skool nie. Dit omdat jou kind dan nie toegelaat sal word om bloot volgende jaar terug te keer en na ʼn volgende jaar te vorder nie.

“Ouers gaan baie versigtig moet wees om nie onder druk irrasionele besluite te neem nie. Gaan praat eers met die opvoeders by die skool en maak doodseker dat jy die besluite in die beste belang van jou kind neem.”

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), verduidelik dat ander lande leerders die keuse gee of hulle wil tuisonderrig of terugkeer skool toe. “Ek voorsien dat ouers dalk later die keuse gegee kan word,” verduidelik sy.

Volgens Bloem is dit belangrik om met jou kind se skool te kommunikeer aangesien sekere leerders met onderliggende gesondheidstoestande nie kan terugkeer skool toe nie. “Ek glo skole sal in só ʼn geval vergunnings kan maak.”

Geen duidelikheid is nog oor gevalle van dié aard bekom nie.

Hoe gemaak met onderwysers ouer as 60 jaar wat moontlik ʼn hoë risiko vir Covid-19 is?

Bloem verduidelik dat die regering se regulasies op koronavirus-vlak 4 bepaal dat landsburgers oor die ouderdom van 60 jaar of landsburgers met bestaande mediese toestande die keuse het om vanaf die huis te werk of betaalde verpligte verlof te neem.

Onderwysers bo die ouderdom van 60 jaar, kan dus nie gedwing word om terug te keer skool toe nie.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Word ouers verplig om skoolfonds te betaal al gaan kinders nie skool toe nie?

Buys verduidelik dat daar is baie ouers is wat skielik opgehou het om skoolfonds te betaal omdat hulle finansieel sukkel weens die Covid-19-pandemie of eenvoudig dink dis nie nodig nie. Sy sê dit veroorsaak ʼn groot uitdaging vir skole, aangesien talle skole hul onderwysers se salarisse uit skoolfondse betaal. Bloem is van mening dat ouers wat steeds ’n inkomste in dié tyd verdien, dus ʼn verantwoordelikheid teenoor die skool het om skoolfonds te betaal, veral as ʼn skool leerders van materiaal voorsien.

“Ek sal nie mense aanmoedig om op te hou skoolfonds te betaal nie aangesien dit soveel meer skade gaan aanrig,” verduidelik Bloem.

Sy raai aan dat ouers wat wel hul inkomste kwyt is weens die pandemie en dus nie skoolfonds kan bekostig nie, dit met die betrokke skool bespreek sodat reëlings getref kan word. Deacon het ook gesê ouers moet ʼn voorgeskrewe proses volg om amptelik by die skool aansoek te doen om kwytskelding van skoolgeld.

Kan die kurrikulum aangepas word sonder dat enige belangrike werk verlore gaan?

Die departement het in sy plan gestipuleer dat geen veranderinge na verwagting aan graad 12’s se kurrikulum gemaak sal word nie. Ander grade se kurrikulum sal hersien word en dié leerders sal gedurende eksamens op 80% van die kurrikulum geassesseer word.

Bloem glo dit is moontlik om ’n skoolkalender aan te pas om op te maak vir verlore skooldae gedurende die algehele landwye afsondering. “Dit gaan wel baie ekstra werk verg. Kinders gaan dalk langer ure of oor naweke moet skoolgaan. Dit gaan ook groot stremming op onderwysers plaas.”

Buys meen daar is ruimte om die kurrikulum te snoei en sê onderwysers kla al lank dat die kurrikulum te vol is. “Tog is daar sekere boublokke wat in plek moet wees en nie uitgehaal kan word wat ʼn kind se onderrig betref nie. ’n Sinvolle en gestandaardiseerde assessering aan die einde van die jaar sal dus belangrik wees wanneer ʼn kurrikulum aangepas word,” verduidelik sy.

Argieffoto: aguri_art/ Pixabay

Hoe gemaak as ek as ouer moet terugkeer werk toe, maar my kind kan nog nie skool toe gaan nie?

Net gr. 12 en gr. 7 leerders sal op 1 Junie mag terugkeer skool toe. Datums vir die terugkeer van leerders in ander grade is nog nie gefinaliseer nie.

Volgens Bloem plaas dit ouers in ʼn moeilike situasie wanneer hulle moet terugkeer werk toe en hul kinders eers heelwat later kan terugkeer skool toe.

Sy verduidelik dat onderwysers met kinders ook bekommerd is om terug te keer skool toe terwyl hulle kinders eers op ʼn latere stadium kan terugkeer.

Bloem se raad is om die situasie met jou werkgewer te bespreek en die nodige reëlings te probeer tref om tuis te kan werk.

Volgens die vlak 4-regulasies word kinderoppassers ook as ʼn noodsaaklike diens beskou en word hulle dus toegelaat om vanaf 1 Mei terug te keer werk toe. Dit het intussen duidelik geword dat hier slegs verwys word na oppassers wat kinders tuis versorg indien hulle ouers of voogde op vlak 4 moet begin werk en nie een van die ouers kan tuis bly om na hulle na te kyk nie.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michael 1 ·

My kinders gaan nie weer hierdie jaar skooltoe nie ,hulle gaan die graad by breinlyn aanlyn klaarmaak en kan volgende jaar terug skool toe as dit veilig is .

Charles ·

Was daar dan nie gesê kinders kan nie die virus opdoen nie, of nie maklik nie? Ek vra net!

Annemarie ·

Ek wil my matriekkind graag laat klaar maak hierdie jaar. Wat my bekommer is dat hy moet koshuis toegaan 630km van my af. Sou hy in afsondering moet gaan of die virus kry waar gaan die departement hom heenstuur. Ek hoor rillerverhale van mense wat in afsondering moet bly.

Rodger17 ·

Kom laat ons nou eerlik wees,wie gaan betaal vir iets wat jy nie kry nie,of vir iets wat nie vir jou gedoen is nie?Onderwysers,no work no pay!Wat is hulle beter as gewone man op straat?Werkgewers betaal nie werkers wat nie n diens gelewer het nie,hkm moet ouers onderwysers betaal wat by die huis sit?Asb,geen regdenkende mens gaan betaal vir niks nie,só ouers moenie betaal vir niks nie!Uit en gedaan!

Erik ·

Sou saamgestem het, maar dan moet onderwysers ophou werk. My kinders se onderwysers probeer tans hul bes en ons ontvang elke dag nota’s, video’s ens. Hulle kan nie nie betaal word, maar dan voortgaan met aanlyn onderrig nie?

Erik ·

Wil ook net noem dat meeste mense, ons inkluis, nogsteeds ons huishulp en tuinman betaal al kom werk hul nie. Ons betaal ook ons seun se sportafrigter al is daar nie afrigting nie. Die mense moet ook eet. Indien jy wel jou inkomste in die tyd verloor is dit ander storie, maar indien jy enigsins kan is dit net moreel reg om ook ander aan te hou betaal.

Francois ·

Ek stem ongelukkig saam. Ons het 2 klein kinders. Een in kleuterskool en een in graad 1. Daar is nie skool op tv vir graad 1 en nog minder vir kleuterskool. Nie een van die kinders se ouers het salaris gekry April. Tog vereis die skool dat die skoolfonds, die naskool gelde asook die kleuterskool eis hulle geld anders mag die kinders nie teruggaan. Gelukkig is die ouers gevra om maandag te begin werk weer maar nou is die skole vir die graad 1 en kleuterskole steeds toe. Nou moet hulle n ander persoon vra om na hulle kinders om te sien teen R4000 vir die maand. Dit kos hulle nou extra maar steeds dring die skole aan op volle betalling want die onderwyser of dagmoeder moet betaal word. N storie het altyd 2 kante so vir die mense wat graag wil he skole moet toebly. Dink aan die ander wat moet werk om kos op die tafel te sit. Gaan jy eerder die skool betaal wat toe is of gaan jy jou kind honger laat slaap?

Johan ·

Die grootste bron van kommer is die onvermoë om sosiale afstand in die oorvol klaskamer te handhaaf. Verder word dubbel banke gebruik met besetting van beide sitplekke. Elke keer wat klasse wissel word dieselfde leerder omring deur ‘n verskillende groep leerders in ‘n volgende klas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.