Ouers se wroeging 3 jaar ná kind by naskool sterf

Chené Pretorius. Foto: Verskaf

Byna drie jaar nadat ʼn Gautengse egpaar se lewe onherroeplik verander het toe hul sesjarige blondekopdogtertjie by ʼn naskoolsentrum gesterf het, worstel die ouerpaar steeds met talle vrae oor wat daardie dag gebeur het.

Chené Pretorius, ʼn gr. 1-leerder aan Laerskool Oosterkruin in Germiston, was op 20 April 2015 oudergewoonte by die naskoolsentrum toe die tragiese voorval gebeur het. ʼn Motorhek by die naskool het bo-op haar geval en sy is op slag dood.

Chené is wel deur paramedici na ʼn hospitaal gehaas waar sy amptelik dood verklaar is.

“Ons lewe staan stil sedert daardie dag. Hoe kan ʼn mens vrede vind as jou kind so tragies sterf en amper drie jaar later het jy steeds geen antwoorde nie? Terwyl die res van die wêreld net aangaan, sit ons nog steeds met al die vrae,” sê Claudia Koch, Chené se ma.

Koch en haar man is oortuig dat nalatigheid die rede vir Chené se dood was en meen iemand moet aanspreeklik gehou word. Sy sê dat hulle egter steeds geen antwoord ontvang het of iemand vervolg gaan word of nie.

“Volgens die owerhede is die dossier van die ondersoek by die hof ingedien en word daar nou gewag op ʼn beslissing. Ons het vir ʼn baie lang tydperk gewag om die dossier volledig by die ondersoekbeampte te kry. Daar was baie lank soveel probleme met dokumente wat nie volledig was nie,” sê sy.

“Daar was talle vertragings in die ondersoek, soos uitstaande verslae oor die toneel en toe ʼn uitstaande verslag van die maatskaplike werker. Ons moes ook ons verklarings weer laat oordoen en daar moes weer ʼn onderhoud [met die hoof van die naskoolsentrum] gevoer word. Die mense is gevoelloos. Dit maak seer om só lank te wag en niemand wil vir ons sê hoekom my kindjie daardie dag by die hek was en nie by haar klassie agter ʼn tweede hekkie waar sy moes gewees het nie.”

Claudia Koch en haar dogtertjie, Chené. Foto: Verskaf

Koch meen daar was nie behoorlike toesig by die naskoolsentrum nie en die tragedie kon verhoed gewees het.

“Ons wil net afsluiting hê. My hande voel afgekap en dit voel asof ek my kind gefaal het. Dit is al amper drie jaar en my moederhart bly stukkend. Hoe beweeg ʼn mens aan ná so iets?” sê sy.

Koch wil graag ander waarsku om seker te maak daar is verlengingspale voor enige elektroniese hek om te verhoed dat die hek kan omval. “Daardie pale kan sulke tragedies verhoed,” sê sy. “My engelgesiggie sal altyd voortleef in my moederhart en solank ek die herinneringe aan haar het, sal ek haar verhaal aan ander oordra om mense te help. Chené was liefde.”

Koch sê sy het die hoof van die naskoolsentrum vergewe sodat sy wel kan vrede vind, maar weet dat sy en haar man steeds moet antwoorde kry oor wat gebeur het. “Ons almal, ons hele familie, lewe met hierdie oneindige seer. Ek weet indien iemand vervolg word, sal dit nie die seer wegvat nie, maar ons moet afsluiting kry.

“My meisiekind moes nie so gesterf het nie. Die wêreld moet weet, sy het bestaan. My engelkind het bestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Claudina ·

Ek is Chene se ouma, en mis my pikkewyntjie dag en nag. Ek kon nog nie my hartseer verwerk nie want ek moet nogsteeds elke dag vir haar mamma troos en moed inpraat. Geen ouer verdien om n kindjie aan die dood af te staan deur nalatiheid nie. Mens betaal sodat hul jou kind sal oppas en veilig hou. Sterk wees bokka. Lief jou

Klein Dorpenaar ·

Ons dogter het 16 jaar gelede iets vreesliks by ‘n Kleuterskool oorgekom. Tipies klein dorpie is dit onder die mat ingevee, niemand is aangespreek nie en niemand is vervolg nie. Ons het ook besluit om maar te vergewe sodat ons weer met ons lewens kan aangaan. Die omstandighede en die behandeling wat ons as gesin ontvang het was giftig om die minste te se. Die Kleuterskool bestaan nog steeds maar ons het nog steeds nie vrede in ons harte nie. Ons kind is in en uit by Sielkundiges, sny haarself en het al probeer selfmoord pleeg. Ons lewens is verewig verander, verwoes en vir hulle is dit “business as usual”.
Ek verwyt myself dat ek nie harder baklei het en die saak verder gevat het nie.
Mense sal se darem het ek nog my kind … nee, nie in die ware sin van die woord nie. Sy is nie dieselfde kind nie en hoe anders kon haar en ons lewens nie gewees het as hulle net behoorlike toesig gehou het nie??
EK VRA ALLE OUERS, ASSEBLIEF, MOENIE OPGEE NIE. BAKLEI VIR WAT REG IS, IEMAND MOET VERANTWOORDELIK GEHOU WORD SODAT KLEUTERSKOLE BETER MAATREELS IN PLEK MOET STEL. HULLE IS VERANTWOORDELIK VIR JOU KOSBAARSTE BESITTING TERWYL JY MOET WERK. ONTHOU, NIE ALMAL VAN ONS KAN BY DIE HUIS BLY EN NOG STEEDS VIR JOU KIND GOEIE GELEERDHEID EN TOEKOMS VERSEKER NIE.

NADIA ·

Liewe mamma van Chene… my hart gaan uit na jou en jou familie toe. dit kan nie maklik wees nie. Weet net dat jou meisiekind jou van bo af sien sy is lief vir jou. ek weet my woorde gan nie help nie maar ek dink aan julle. Ek sien haar ouma het ook ietsie gese ek wil net vir tannie se dat ek tannie vreeslik jammer kry my ouers lewe vir my kinders ‘n ouma en oupa se klein kinders is vir hulle alles, ek sien met my ouers hulle sal vergaan sonder my kinders. Ek bid vir julle. Ek hoop dast julle antwoorde sal kry en rustigheid oor die saak. Hekke/swembaddens/karre is my grootste verse met kinders. baie strekte met alles dit kan nie maklik wees nie

Hans ·

Die mensdom moet ook net verstaan dat nie elke mens is dieselfde nie. Ons hanteer soveel dinge anders as die wat langs ons staan. Ek het my vrou op n vroeë ouderdom verloor, ons kinders ken haar net opgrond van fotos en wat hulle hoor, so klein was hulle. Ek was in daardie tyd uitgemaak as ongevoelig en dat ek haar nie werklik lief gehad het nie. Ek het nie gerou soos wat daar van my verwag was nie. Dood is deel van my werk en lewe. So ja, daar is mense wat vinnig dit kan verwerk en andr wat dit eenvoudig nie kan verwer nie. Ek kyk byvoorbeeld na haar ma, die sukkel nogsteeds. So loue moet asb nie sulke komentaar kwyt raak in die openbaar nie, dit maak seer en kwaad. Vir die ouers, gaan voort soos jul gaan en doen soos jul dink, daar is niemand maar niemand wat vir jul kan voorskryf hoelank is n rou proses nie. Kan net voorstel, dit is te sê as jul dit nie al klaar doen nie, gaan vir profsionele hulp ook asb.

Claudina ·

Ek glo nie jy het kinders nie of as jy het het jy nog nie een aan die dood afgestaan nie. Jy kan beslis nie vir ons vertel hoe ons moet voel nie, en hou maar jou hartvogtigheid en opinie vir jouself.

Marrabot ·

Ek is so jammer vir julle seer. En ek bid dat geregtigheid sal geskied. Dit breek my hart in duisende stukkies om jou inskrywing te lees. Ek kan nie eers myself indink wat julle elke dag moet deurgaan nie. So jammer.. Ek hoop en bid dat julle en jul dogter eendag vrede sal kry en kan aanbeweeg. Baie baie sterkte Klein Dorpenaar.

Tannie ·

Daai is beslis n’ oneindige pyn en die berig help beslis om mense bewus te maak om hul motorhekke te beveilig. Geen ouer verdien so iets nie. Jare wat omgaan se niks. Die pyn bly daar.

Familie ·

Liewe Kriekie daar is nie n dag wat verby gaan sonder dat ek aan jou dink. Claudia my nig ek is so lief vir jou en ons sal altyd daar wees vir jou. Ek bid dat daar eendag antwoorde sal wees en sal uitkom

Familie ·

Liewe Kriekie daar is nie n dag wat verby gaan sonder dat ek aan jou dink. Claudia my nig ek is so lief vir jou en ons sal altyd daar wees vir jou. Ek bid dat daar eendag antwoorde sal wees en sal uitkom

Bytjie ·

Vir drie jaar al probeer hierdie kindjie se ouers om geregtigheid te laat geskied. Ons almal sukkel om aan te gaan met ons lewens nadat ons borrellende kindjie weg is. Daar was nog altyd net leë beloftes of flou verskonings.

werner ·

Die mens in die wereld veroorsaak soveel hartseer. Ons sit alles in wat ons kan en na so lang tydperk moet ons nogsteeds wonder…hoekom.???mens sal nooit verstaan hoekom nie. Net vertrou dat geregtigheid sal geskied. Wie ookal skuldig is sal eendag voor God moet staan. Hoekom nie lankal erken het hul was nalatig en vergifnis gevra het nie. Nou bly alles nog n raaisel sonder antwoorde…ekt nie net ons pragtige maergat verloor nie maar ook my vrou….haar siel is dood maar haar liggaam dwaal hier rond maar sys baie sterk…netjie sou wou he ons moes sterk staan. Ona doen alles vir ons meisiekind. Ons sal haar weer sien daar op daai beautiful shore.

Anna ·

‘n Ander mamma hoor jou hart, Claudia… Jy is so reg om te kies om te vergewe. Dit is die kortste pad na vrede, genesing en oorwinning oor die ondraaglike seer wat veroorsaak is deur daardie onbeskryflik aaklige gebeure. Miskien kan ons rus in die feit dat daar Iemand is wat wel álles weet. Mag Hy die volle waarheid spoedig aan die lig bring.

Ekke ·

Ek kan nie verstaan hoe mense wegkom met dit nie. Elke 2 de ou doen deusdae staalwerke. As die hek nie stoppers, ekstra paal ens. het nie, moet hul van manslag aangekla word. Dit is klein dinge die wat masiewe verskil op die veiligheid van daardie hek beinvloed. Elke persoon(mans en vroue) moet sy eie hek nagaan. Google as jy moet. Vra jou plaaslike DIY winkel om vir jou te verduidelik wat om te doen. Die ergste is dat dit slegs paar rand sou kos om die hek van die begin af veilig te maak.

Gesiggie ·

Claudia , ek kan net dink waardeur jy moet gaan, as n Mamma wat so onvoorwaarlik lief was vir jou dogter, en kan verstaan dat jul antwoorde soek, want weens nalatigheid is daar n deel van jou lewe weg… dit is n leemte wat niemand ooit kan vul, en ja daar is baie vrae, want as die hek stabiel genoeg was, sou hy nie op Chene geval het. Ek hoop dat jul vrae beantwoord sal word sodat jul vrede kan vind… Sterkte aan jul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.