Ouers smeek om hulp ná seun se kankerdiagnose

Jaundré Gouws (Foto: Verskaf)

Die verpletterde ouers van ʼn tweejarige seuntjie van Vereeniging in Gauteng het hulle vandeesweek tot die publiek gewend om te pleit vir fondse vir ʼn lewensnoodsaaklike operasie vir hul seun by wie oogkanker onlangs gediagnoseer is.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, het Woensdag aan Maroela Media vertel die ouers is stukkend en bekommerd oor hul seun se toekoms, veral omdat hulle nié die fondse het om vir ʼn lewensnoodsaaklike operasie te betaal nie.

Janine Gouws, klein Jaundré se ma, het aanvanklik in ʼn brief aan die organisasie gesê haar seun is drie maande gelede na ʼn oogarts geneem nadat sy ouers onraad vermoed het met sy een oog.

Hoewel die oogarts gesê het dat sy oog vanself sal herstel, het die ouers hom ʼn week gelede weer na die hospitaal geneem nadat hulle vir ʼn tweede keer onraad vermoed het.

Gouws het aan Maroela Media gesê die gesin het nooit dié nuus verwag nie.

“Dié keer was sy pupil nie net vergroot nie, maar daar was wit water en slym aan die binnekant van sy oog. Ons het hom toe na ʼn spesialis gevat en die volgende dag ʼn sonar laat doen. Ons het die mees onstellende nuus gekry – hy het oogkanker,” lui die brief.

Volgens Gouws het dr. Robert Reid, ʼn spesialis in Vereniging, aanbeveel dat Juandré se regteroog verwyder word om te keer dat die kanker na sy brein of ander dele van sy liggaam versprei.

Sy sê dié operasie is lewensnoodsaaklik, maar die gesin het nie ʼn mediese fonds nie en kan nie die geld vir die operasie bybring nie.

“Die dokter het gesê die kanker is net in die oog en het na die senuwee versprei. Dit is daarom belangrik om sy oog so vroeg as moontlik te verwyder. Hy gaan ná die operasie ʼn kunsoog kry.”

Juandré is reeds grotendeels blind in sy regteroog en sy aanpassing sal daarom volgens dokters nie te lank neem nie.

“Ons is doodbekommerd oor ons seun. Hy is ʼn jong seuntjie wat net die beste verdien, en nou moet hy sulke dinge deurgaan. Ons wil hom help om so normaal moontlik te leef. Ek weet hoe wreed die wêreld is, ek weet dat mense my kind gaan spot – maar as dit sy lewe red, is dit wat ons moet doen.”

Die aanvanklike operasie kos sowat R25 000.

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by [email protected] of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

anni ·

Mediese nalatigheid met eerste diagnose. Adele van Der Walt prokureurs v mediese nalatigheid.Dit kan dalk help om operasie/ behandeling te befonds.

Rene ·

Wil julle nie kyk of julle by Triomf Kliniek in Pretoria kan regkom nie?

Hendrik de Winnaar ·

Op die oomblik gaan ons self deur n soortgelyke geval. My seuntjie het kanker in beide sy ogies. Die staat se opleidingshospitale in die kaap is puik puik. Kyk of julle n verwysing kan kry na die Groote Schuur Hospitaal in die kaap. Ek is bereid om my kontakbesonderhede met die familie te deel indien hulle meer inligting benodig.

Patrys ·

My ma se oog moes ook verwyder word weens kanker. Sy het dit ook by Groote Schuur laat doen deur die staat. Hulle diens is uitstekend en die dokters en spesialiste is hoogs gekwalifiseerd. Sterkte aan julle.

Elske ·

My seun het bilaterale retinoblastoma gehad (kanker in altwee ogies) en is vandag ‘n gesonde 10-jarige al het hy ‘n prostese (vals ogie) en beperkte visie in die ander oog. Dit is meestal dieselfde dokters wat by staatshospitale en privaat werk (Bv Donald Gordon en Baragwanath/St Johns Hospitale in Jhb). Daar is ook ‘n Retinoblastoma SA Facebook groep wat moontlik ondersteuning kan bied. Sterkte!

Adele hand ·

Kan julle Nie dalk deur die uitstekende span van Healing Hands gehelp word nie?

Vra maar net ·

Dit kinders onder 6 se behandling nie gratis by staatshospitale nie? So ver ek weet is dit gratis

Anje ·

Is daar nie enigiemand by Maroela kan aanstuur na organisasies of nog media wat die storie kan versprei nie? Sy arme lewetjie hang van geld af. Dit maak n moeder hart baie baie seer… Ek bid dat iemand hulle finansieel sal kan help.

Vera van Dalen ·

Die ouers kan my kontak. Dit is noodsaaklik om die publiek in te lig dat pediatriese behandeling via die korrekte kanale beweeg. Die kinders kry gratis behandeling by uitstekende pediatriese onkologie eenhede in die staat sektor. Dit is onverantwoordelik indien daar dokters is wat nie die verwysing korrek doen nie. CANSA TLC bied nodige leiding rakende diens, hulp, informasie ook op Facebook op die groep CANSA TLC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.