Ouers soek antwoorde ná baba se raaiseldood by kleuterskool

Gert Fourie jr. Foto: Facebook

Gert Fourie jr. Foto: Facebook

“Ons gaan hom laat veras sodat ons sy assies vir die res van ons lewens by ons kan hou. Hy was ons wonderwerkkind. Hy was liefde.”

Só het Gert Fourie (20) gesê nadat sy drie maande oue babaseuntjie Maandag by ʼn kleuterskool in Springs dood is nadat hy vermoedelik verstik het.

Gert jr. was Fourie en sy vrou, Monique (21), se enigste kind en is op 7 Januarie vanjaar gebore. Fourie het hul seun as ʼn “wonderwerk” beskryf aangesien Monique glo as kind verkrag is en dokters vir haar gesê het sy sal nooit kan kinders hê nie.

Dit was Maandag Gert jnr. se eerste dag by die kleuterskool en ook die eerste dag terug by die werk vir Monique ná haar kraamverlof. Monique gee by dieselfde kleuterskool klas.

Die Fourie-egpaar is onseker wat presies by die skool gebeur het. ʼn Onderwyser het Monique kom roep en gesê daar loop bloed by Gert jnr. se ore uit. Monique het gepoog om hom by te bring voordat sy hom na hul huisdokter se spreekkamer gehaas het.

“Dit was presies 50 minute nadat ek haar en [Gert jr.] by die skool afgelaai het, toe sy my bel en sê ek moet dringend dokter toe kom, iets verskrikliks het gebeur,” het Fourie gesê.

Hy het na die dokter gejaag maar hul seuntjie was reeds dood toe hy daar aankom. “Toe ek hom optel het daar nog pap en melk by sy mondjie en neusie uitgekom. Hy moes verstik het. Daar het ook bloed by sy neus, oë en ore uitgeloop,” het hy gesê. “Die dokter en almal by die spreekkamer het ook gehuil, want daar was niks wat hulle vir hom kon doen nie. Hy was reeds dood toe Monique met hom by die spreekkamer aankom.”

Gert en Monique Fourie. Foto: Facebook

Gert en Monique Fourie. Foto: Facebook

Volgens Fourie is ʼn nadoodse ondersoek gedoen, maar die verslag het slegs aangedui dat die oorsaak van dood “onbepaald en onnatuurlik” is. Die staat het glo ʼn kliermonster na ʼn laboratorium gestuur vir ontleding, maar dit kan volgens Fourie jare neem.

Intussen het die Fourie-egpaar ʼn onafhanklike patoloog gevra om ook ʼn private lykskouing te doen om die oorsaak van Gert jr. se dood te bepaal. “Ons weier om [die staat se nadoodse verslag] te aanvaar. Ons kan nie so leef nie. Ons moet weet wat met ons kind gebeur het,” het ʼn emosionele Fourie gesê.

“Ek glo met my hele hart hy het verstik. Hierdie sogenaamde ontleding van sy kliere is sommer nonsens. Een van die speurders het vir my gesê daar was melk in sy longe. Hy moes verstik het. Daar was drie volwassenes saam met daardie baba in hulle klaskamer. Ons verstaan nie hoe dit kon gebeur het nie.”

Fourie het gesê sy seuntjie was ʼn vriendelike baba wat byna nooit gehuil het nie. “Ons het by sy lykskouing gesien hy het reeds twee tandjies begin sny. Sy ontwikkeling was so gevorderd en hy was gesond en sterk. Hy is voor sy tyd weggeneem. Ons is gebreek.”

’n Gedenkdiens vir Gert jr. word Vrydag in die Afrikaanse Protestantse kerk in Springs gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Carina Rabie

Ek voel innig jammer vir die ouerpaar. Dis verskriklik hartseer om ‘n kind te verloor, veral nog so ‘n klein engeltjie waarvoor sy so lank gebid het. Maar die hele ding klink nie vir my reg nie. Wie op dees aarde gee vir ‘n 3mnde baba pap om te eet?!! Dit gaan my verstand te bowe. Babas tot en met 6mnde moet SLEGS melk kry. Hulle verterings sisteem en sluk aksie is nog glad nie ontwikkel om vaste kos te hanteer nie. En die feit dat bloed by sy ogies, neus en ore uitgekom het, sê vir my iets ergers… Lees meer »

chris

Gert en Monique, my innige simpatie met julle groot verlies. Vertrou op die Here alleen in die moeilike tye wat gaan kom. Dit gaan nie makliker word nie en die seer gaan altyd daar wees . Ek het my enigste kind op 25 verloor . God se genade vertroos !! Baie sterkte.

Agnes

so jammer om te hoor van die akelige ongeluk. Sterkte vir die ouerpaar. Ek is n opgeleide suster en wil net se dat dit vir my eerder na n val of iets dergeliks gebeur het omdat daar bloed uit sy oortjies en neusie gekom het. Mag die Here julle vertroosting gee

letish

My hart bloei vir julle…dis n tragedie en julle nog so jonk.mag God jul krag gee vir die pad vorentoe en met liefde en vertroosting omvou.

Lizelle

Ek stem saam met Agnes. Dit klink nie reg nie. Wens hulle wil dit verpligtend maak om kammeras in skole ens aan te bring. Daar sou die waarheid vinnig uitgekom het.