Ouers soek antwoorde ná baba se raaiseldood by kleuterskool

Gert Fourie jr. Foto: Facebook

Gert Fourie jr. Foto: Facebook

“Ons gaan hom laat veras sodat ons sy assies vir die res van ons lewens by ons kan hou. Hy was ons wonderwerkkind. Hy was liefde.”

Só het Gert Fourie (20) gesê nadat sy drie maande oue babaseuntjie Maandag by ʼn kleuterskool in Springs dood is nadat hy vermoedelik verstik het.

Gert jr. was Fourie en sy vrou, Monique (21), se enigste kind en is op 7 Januarie vanjaar gebore. Fourie het hul seun as ʼn “wonderwerk” beskryf aangesien Monique glo as kind verkrag is en dokters vir haar gesê het sy sal nooit kan kinders hê nie.

Dit was Maandag Gert jnr. se eerste dag by die kleuterskool en ook die eerste dag terug by die werk vir Monique ná haar kraamverlof. Monique gee by dieselfde kleuterskool klas.

Die Fourie-egpaar is onseker wat presies by die skool gebeur het. ʼn Onderwyser het Monique kom roep en gesê daar loop bloed by Gert jnr. se ore uit. Monique het gepoog om hom by te bring voordat sy hom na hul huisdokter se spreekkamer gehaas het.

“Dit was presies 50 minute nadat ek haar en [Gert jr.] by die skool afgelaai het, toe sy my bel en sê ek moet dringend dokter toe kom, iets verskrikliks het gebeur,” het Fourie gesê.

Hy het na die dokter gejaag maar hul seuntjie was reeds dood toe hy daar aankom. “Toe ek hom optel het daar nog pap en melk by sy mondjie en neusie uitgekom. Hy moes verstik het. Daar het ook bloed by sy neus, oë en ore uitgeloop,” het hy gesê. “Die dokter en almal by die spreekkamer het ook gehuil, want daar was niks wat hulle vir hom kon doen nie. Hy was reeds dood toe Monique met hom by die spreekkamer aankom.”

Gert en Monique Fourie. Foto: Facebook

Gert en Monique Fourie. Foto: Facebook

Volgens Fourie is ʼn nadoodse ondersoek gedoen, maar die verslag het slegs aangedui dat die oorsaak van dood “onbepaald en onnatuurlik” is. Die staat het glo ʼn kliermonster na ʼn laboratorium gestuur vir ontleding, maar dit kan volgens Fourie jare neem.

Intussen het die Fourie-egpaar ʼn onafhanklike patoloog gevra om ook ʼn private lykskouing te doen om die oorsaak van Gert jr. se dood te bepaal. “Ons weier om [die staat se nadoodse verslag] te aanvaar. Ons kan nie so leef nie. Ons moet weet wat met ons kind gebeur het,” het ʼn emosionele Fourie gesê.

“Ek glo met my hele hart hy het verstik. Hierdie sogenaamde ontleding van sy kliere is sommer nonsens. Een van die speurders het vir my gesê daar was melk in sy longe. Hy moes verstik het. Daar was drie volwassenes saam met daardie baba in hulle klaskamer. Ons verstaan nie hoe dit kon gebeur het nie.”

Fourie het gesê sy seuntjie was ʼn vriendelike baba wat byna nooit gehuil het nie. “Ons het by sy lykskouing gesien hy het reeds twee tandjies begin sny. Sy ontwikkeling was so gevorderd en hy was gesond en sterk. Hy is voor sy tyd weggeneem. Ons is gebreek.”

’n Gedenkdiens vir Gert jr. word Vrydag in die Afrikaanse Protestantse kerk in Springs gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Carina Rabie ·

Ek voel innig jammer vir die ouerpaar. Dis verskriklik hartseer om ‘n kind te verloor, veral nog so ‘n klein engeltjie waarvoor sy so lank gebid het.
Maar die hele ding klink nie vir my reg nie. Wie op dees aarde gee vir ‘n 3mnde baba pap om te eet?!! Dit gaan my verstand te bowe. Babas tot en met 6mnde moet SLEGS melk kry. Hulle verterings sisteem en sluk aksie is nog glad nie ontwikkel om vaste kos te hanteer nie.
En die feit dat bloed by sy ogies, neus en ore uitgekom het, sê vir my iets ergers het gebeur. Klink my meer na kop trauma soos ‘n val of iets. Sekerlik kan verstikking nie sulke bloeding veroorsaak nie. Ek hoop hulle ondersoek die saak baie deeglik.

A3 ·

Ek stem. .. hulle moes hom laat val het en geen baba eet al pap op 3 maande nie. Watse tipe toesig was daar met n ma en onderwysers?? Hulle moet defenitief die saak verder ondersoek!!!

Helena ·

Elke kind verskil, my seuntjie het op 1 en halwe maand al begin pap eet, aangesien hy ‘n groot baba was en melk alleen hom nie gevoed het nie. My dogtertjie het op 3 maande begin pap eet. Moet nie omdat hulle ouerskap styl verskil van joune dit as verkeerd afmaak nie asb, elke kind se behoeftes verskil, en God het elke mamma toegerus met die nodige instinkte en wysheid om vir hulle kinders se behoeftes te sorg.!

chris ·

Gert en Monique, my innige simpatie met julle groot verlies. Vertrou op die Here alleen in die moeilike tye wat gaan kom. Dit gaan nie makliker word nie en die seer gaan altyd daar wees . Ek het my enigste kind op 25 verloor . God se genade vertroos !! Baie sterkte.

Agnes ·

so jammer om te hoor van die akelige ongeluk. Sterkte vir die ouerpaar. Ek is n opgeleide suster en wil net se dat dit vir my eerder na n val of iets dergeliks gebeur het omdat daar bloed uit sy oortjies en neusie gekom het. Mag die Here julle vertroosting gee

letish ·

My hart bloei vir julle…dis n tragedie en julle nog so jonk.mag God jul krag gee vir die pad vorentoe en met liefde en vertroosting omvou.

Lizelle ·

Ek stem saam met Agnes. Dit klink nie reg nie. Wens hulle wil dit verpligtend maak om kammeras in skole ens aan te bring. Daar sou die waarheid vinnig uitgekom het.

morne ·

Daar was blykbaar N kamera sisteem in maar die vidio opname net van die baba. Klas was nie daar

Tommie ·

Geagte Gert en Monique en aan elke ouer van jong kinders dis baie sleg as sulke ongevalle gebeur en as ouer weet mens nie altyd wat om te doen nie, wat ek voorstel is dat daar baie opleiding sentrums bestaan wat opleiding kan gee vir ouers en enige lid van die publiek in KPR en VERSTIK gevalle of altans noodgevalle op te lei, en hoe om dit te diagnoseer en verdere leiding tot jy as ouer by naaste nood personeel of perseel kan uit kom die opleiding kan vir enige iemand tot hulp wees nie net Noodpersoneel nie.

anon ·

my hart gaan uit na jul klink vir my oki reg ni daar moes iets gebeur het dat daar bloeding was

anon ·

my hart gaan uit na jul klink vir my oki reg ni daar moes iets gebeur het dat daar bloeding was

Edwin ·

ek is n ervare mediese Dr en volgens alle logika het die baba geval of n harde stamp teen sy koppie gekry en nskedelbasis fraktuur opgedoen het post mortum sal dit maklik bevestig

Neptunus ·

‘n “post mortum” sê jy Edwin? Is dit byna dieselfde as ‘n post mortem?

yoli ·

Ons gee simpatie en raad aan die ouers… nie nodig om snaaks te wees nie…

CHRISTA ·

Neptunus, jy is ‘n pyn in die kolon!! Hierdie mense gee ‘n baba aan die dood af en in plaas daarvan om met hulle te simpatiseer HANNA-HANNA jy oor mense se spelling!!

Gert en Monique, ons kan julle net die liewe HERE se vertroosting en bystand toebid. Hy sal julle elke dag bystaan en deur hierdie moeilike tyd dra. Sterkte vir julle!!

Peet Schabort ·

Eigentlik ‘n “post-mortem” volgens my Ingelse woordeboek.

Neptunus ·

Hierdie is nie die kleinadvertensies in die koerant vir beterskapwense nie, so moenie my voorsê om dit by te dra nie. Hoe jammer ek ook al voel, ek kan niks doen om hierdie arme mense te laat beter voel nie. As iemand beweer hy is ‘n ervare mediese “Dr” moet hy darem seker die konsep waaroor hy praat kan spel of hoe? In plaas daarvan dat meeste mense op hierdie forum heeltyd skreeu met drie uitroeptekens agter hul sinne, kom ons kyk eerder of iemand ‘n les uit hierdie tragedie kan leer. Sien Carina Rabie se bydrae heelbo daaroor.

Tinus Viviers ·

Neptunus, ek hoop jy leer self ook ‘n les. As jy nie iets konstruktief kan bydra nie, hou asseblief jou snater.

Elfie ·

Tinus Viviers – netso. Nep- TOE- nis is altyd sarkasties en ongeskik en hoort glad nie op die forums nie!

Hermien ·

Dr of nie, enige person wat enige logika besit sal besef dat “verstikking” nie die oorsaak van dood was nie. En nog meer…. Neppie ou maat… Ek is baie bly dat jy so bo baas is met jou spelling en spoed lees, maar bly asb so mooi bo baas in jou eie kringe….. Hulle het immers gekies om jou te bevriend. Vir die ouers kan ek net se dat julle my innige simpatie het.

morne ·

Nig Ek se weer eens jammer oor Wat gebeer. Maar ek se nog dit was NALATIGHEID van die JFR Wat aan diens was daai dag en ek hoop hulle Kry die anwoorde Wat als sal reg stel die here hou sy han oor jw en gert. Sterkte nig

SNEL ·

Ek is nie n dokter of verpleegster nie, maar díe klink na n harde val of stamp teen die koppie, en as gevolg daarvan was hy heel moontlik naar en het verstik of verkeerd gesluk toe hy kossies kry. Monique, na aanleiding van Carina Rabie se geskryf, wil ek net vir jou sê, ek het drie kinders, en nie een van hulle was klein babatjies nie, 3.6 en 3.9 babas, melk hou so outjie nie vol nie, my kinders het van twee maande pappies in die oggende gekry, en toe ek sien dit akkedeer met hulle, toe oggend en aand gekry. Ek is ook nie die eerste ma wat dit gedoen het nie, hordes ma’s doen dit, jy het geen fout gemaak om hom pappies so vroeg te laat eet nie, dit is nie die vroeg kossies kry of so iets nie, die kleinding het iets anders oorgekom. Hoop julle kry antwoorde vir julle vrae. Baie sterkte!!!!!! ( Neptunus gaan seker crack oor my uitroeptekens)

Peet Schabort ·

Neptunus gaan ‘crack’ oor jou spelling SNEL !!!!!!!!
Nie jou !!!!!!!!!!!!!!!!!!-tekens !!!!!!!!!!!!!!!

Nina ·

Ek stem saam oor die vroeg eet. Al 4 my kinders het op 3 maande lankal pap geëet.

Innige simpatie aan die mamma en pappa. Dis hartverskeurend! Mag julle spoedig antwoorde kry.

Melodie ·

Liewe ouers en familie ek bid dat God julle sal vertroos in die groot hartseer. Ek het ook kinders wat nou by God is en verstaan elke emosie wat jul ervaar en nog gaan ervaar maar wil jul bemoedig dat jul vrede sal kry met tyd en weet jul engelkind sal altyd met liefde onthou word.

Shirley ·

Wow wat n tragiese ding wat met julle gebeur het.
Om jou kind so te verloor en ni te weet wat regtig gebeur het ni – ek wil dit ni eers bedink ni.
My hart gaan uit aan julle 2 ouers en ek hoop julle sal ok wees.

Baie sterkte!

Eliza-beth ·

Sterkte vir die ouers en mag hul vrae beantwoord word. Ek stem, verpligte kameras by alle kleuterskole/babasorgsentrums en daar moet gereeld gekyk word of dit wel werk en opneem. Enige ouer moet ook dan toegang te enige tyd tot die beeldmateriaal kan hê.

Andorette ·

My suster se baba is 28 jaar terug oorlede met presies dieselfde simptone bloed het by sy oortjies, neus en mond uit gekom, sy pa het hom laat val Sy skedel het geraak. ….Dalk moet dit na gekyk word

Bernice ·

My inige simpatie met die Fourie egpaar my hart is in stukke saam met julle dit was so so mooi baba ons bid vir julle en vra ons Vader om julle te dra deur die baie donker tyd in julle lewe en julle weer heel te maak sterkte en onthou God laat sy kinders nooit aleen nie xxxxx

Michelle ·

Liefste ouers, ek hoop van harte dat julle innerlike vertroosting bymekaar sal vind, julle moet mekaar nou bystaan, nog meer as ooit tevore.

Ek het nog nie ‘n kind verloor in daardie sin nie, maar kan myself nie indink nie. Julle harte is gebreek, en baba is te vroeg gevat, maar weet dat julle hom wel eendag weer sal kan omhels. God hou sy hand oor julle, mag hy julle die gesonde verstand gee om hierdie tragedie sterker mense anderkant aan te kom.

My innige simpatie.

Pernankie ·

Ek sou ook soos die ouers wou weet wat gebeur het met my kind. Bloed wat by baba se ore, oë en neus uitloop? Baba het verstik? Huh uh, aikona, nada, niks……iets is hier baie baie groot verkeerd.

Pappa en mamma, moenie dat iemand vir julle vertel wat om te doen nie, gaan en gaan kry iemand wat vir julle kan kyk na die oorsaak, hoe anders gaan julle ooit vrede maak met baba se dood? Sterkte vir julle xxxx God bless!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.