Ouers soek antwoorde ná gestremde seun onverwags sterf

Johan Vermeulen. Foto: Verskaf

ʼn Ouerpaar van die Wes-Kaap is in ʼn stryd gewikkel om antwoorde te kry nadat hul 23-jarige gestremde seun onverwags in ʼn versorgingsoord in Balfour, Mpumalanga, oorlede is.

Johan Vermeulen is op 26 November 2016 dood nadat hy volgens die bestuur van die versorgingsoord geval het en beseer is. Thys Vermeulen, Johan se pa, vermoed egter daar steek meer agter sy seun se dood.

Vermeulen het aan Maroela Media gesê Johan is met Cornelia de Lange-sindroom gebore, ʼn ontwikkelingsversteuring wat tot verstandelike en fisieke gestremdheid lei. Volgens Vermeulen het die sindroom tot gevolg gehad dat Johan ten tyde van sy dood die liggaamsbou van ʼn 10-jarige seun gehad het en glad nie kon praat nie. Sy verstandelike vermoëns is ook aangetas.

Johan is sedert Januarie 2014 in Huis Sunfield Fortuna in Balfour versorg. Vermeulen het gesê hy en sy vrou het middel 2016 van die Noord-Kaap na Parow verhuis, wat tot gevolg gehad het dat hulle net elke paar weke by Johan kon gaan kuier. Voor sy dood was Johan gelukkig by Sunfield Fortuna en was Vermeulen en sy vrou meestal tevrede met die versorging wat Johan daar ontvang het.

“Ons het nooit rede gehad om te vermoed dat iets nie pluis was nie,” het Vermeulen gesê. “In Januarie 2016 is Johan hospitaal toe geneem omdat hy sy heup seergemaak het. Die personeel het vir ons gesê hy het sy voet gestamp en toe mank geloop. X-strale het later getoon hy het sy heup seergemaak.”

In hierdie geval het iemand van Sunfield Fortuna dadelik Johan se ouers gebel en hulle ingelig dat hy hospitaal toe geneem is. Die Vermeulen-egpaar sou normaalweg ook ingelig word indien Johan siek gevoel het en dokter toe geneem moes word.

Vermeulen sê niemand het hom egter gebel om hom in te lig van die val wat glo tot Johan se dood gelei het nie. “Ek het die aand van 26 November net ʼn oproep gekry om te sê my seun is dood. Ek het nie eens geweet daar was iets fout nie.” Personeel by Sunfield Fortuna het vir Vermeulen gesê Johan het die oggend geval en is na ʼn staatshospitaal geneem waar hy steke gekry het en weer huis toe gestuur is. Hy is dieselfde aand dood.

Johan Vermeulen. Foto: Verskaf

Vermeulen sê dit was dadelik vir hom vreemd dat Johan na ʼn staatshospitaal toe geneem is, omdat hy ʼn hospitaalplan het en voorheen na private hospitale geneem is vir mediese behandeling. Volgens Vermeulen was hy en sy vrou nog altyd bereid om vir mediese onkoste te betaal wat nie deur die hospitaalplan gedek word nie.

Vermeulen het later ook vasgestel Johan het na bewering ook op 11 November en 24 November by die versorgingsoord geval. Dit was dadelik vir hom eienaardig dat Johan so baie sou val, omdat sy balans baie goed was en hy glad nie gesukkel het om te loop nie.

“Johan se toestand was baie uniek. Ons het deur die jare al vasgestel dat anti-psigotiese middels of enige middels wat ten doel het om ʼn persoon te kalmeer, die teenoorgestelde uitwerking op Johan het en hom hiperaktief en duiselig gemaak het. Daarom het die personeel by Sunfield Fortuna streng opdrag gehad om absoluut geen medikasie vir Johan te gee nie behalwe die chroniese medikasie wat deur ʼn neuroloog voorgeskryf is vir die hoofpyne wat hy gekry het,” het hy gesê.

Vanweë Johan se gestremdheid het hy soms “moeilik geraak”, maar hy was nooit aggressief nie. Johan kon gewoonlik maklik gekalmeer word deur byvoorbeeld sy aandag met iets anders af te trek.

“Ek het ná sy dood ʼn vermoede gekry daar is moontlik vir hom medikasie gegee om hom te ‘kalmeer’, wat daartoe gelei het dat hy so baie geval het.” Vermeulen het gesê die dokter wat die inwoners van Sunfield Fortuna behandel, het later ook aan hom bevestig dat Johan na hom toe gebring is en dat hy vir hom medikasie voorgeskryf het. Die dokter kon glo egter nie bevestig watter medikasie hy voorgeskryf het nie.

Nog ʼn aspek wat die Vermeulen-egpaar onraad laat merk het, is die feit dat die nadoodse ondersoekverslag daarop dui dat daar vyf wonde vanuit verskillende tydperke aan sy skedel was. Volgens Vermeulen het hy geen benul waar hierdie wonde vandaan kom nie, aangesien Johan nooit voorheen geval of kopbeserings opgedoen het nie.

“Ek weet nie wat by Sunfield Fortuna gebeur het nie. As my seun medikasie gekry het wat hy nie moes nie, was dit nalatig van die personeel wat dit vir hom gegee het. Of hy enigsins aangerand of opsetlik seergemaak is, weet ek nie. Ek weet wel hy is aan onnatuurlike oorsake dood en daarom moet daar ʼn logiese verduideliking vir sy dood wees.”

Die nadoodse verslag dui die oorsaak van Johan se dood as “blunt force injury” aan.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het aan Maroela Media gesê die polisie het met ʼn geregtelike doodsondersoek begin ná Johan se dood. Nadat die nadoodse ondersoek egter daarop gedui het dat hy aan onnatuurlike oorsake gesterf het, is dit waarskynlik dat die saak na moord verander sal word. Hlathi kon nie Woensdag bevestig of die saak al na moord verander is nie.

Brenda Gouws, algemene bestuurder van Sunfield Fortuna, het aan Maroela Media bevestig dat Johan ʼn inwoner by die versorgingsoord was en dat hy op 26 November 2016 geval en beserings opgedoen het.

“Ingevolge Sunfield se beleid is hy onverwyld vervoer om professionele mediese aandag te kry. Nadat hy mediese behandeling ontvang het, is hy teruggeneem na Sunfield Fortuna waar die personeel na hom omgesien het. Later die aand het hy, vermoedelik vanweë die beserings, beswyk,” het sy gesê.

Volgens Gouws kan daar weens die geregtelike doodsondersoek en moontlikheid van ʼn moordsaak nie in dié stadium verder kommentaar gelewer word nie. “Die voorval word as uiters hartseer ervaar en ons betuig ons innige simpatie en medelye met Johan se ouers en dierbares,” het sy gesê.

“Die direksie van Sunfield Fortuna beklemtoon sy vertroue in die bestuur van die tehuis wat in uiters moeilike omstandighede met groot sorg en liefde na die inwoners omsien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

E.K. ·

Hartseer en treurig. Mense soos hierdie, ou mense, kinders en diere – die wat nie vir hulself kan opkom of praat nie en dan gebeur sulke dinge – ek het nie eers woorde nie! Baie sterkte, vrede en aanvaarding vir die ouers.

wicus ·

RIV . ONS HET OOK N DOGTER MET CDLS , EN DAAR IS BAIE CHALLENGES WAT ONS AL MOES OORKOM , MAAR DAAR IS GEEN MANIER DAT EK HAAR OOIT SOU WEGSTUUR NA N TE HUIS NIE , SY IS N PLESIER IN DIE HUIS , EN SY KAN 99% DOEN WAT NORMALE KINDERS DOEN , DAAR IS NET N PAAR IN SA , STERKTE VIR DIE FAMILIE

MerriMoon ·

My broer se dogtertjie het ook CDLS. Ons is verskriklik lief vir haar. My hart gaan uit na ouers van hierdie spesiale kindertjies en veral na Johan se familie.

Nerina ·

Meneer daar is nie ekstra medisyne wat vir moeilike inwoners gegee kan word om hulle te bedaar nie. Daar is nie eers ‘n ekstra hoofpynpil wat rondlê nie. Sulke luukshede bestaan bloot nie in so ‘n fasiliteit nie. Die moontlikheid dat hy iets ingegee is en daarvan bly val het, is uiters skraal. Ek het self in ‘n versorgingsoord vir gestremdes gewerk. In my opinie en ondervinding was dit aanranding oor ‘n lang tydperk. Iemand het hom baie seergemaak. Sterkte aan julle.

lorayne ·

Nerina, diep in my hart bid ek jy is verkeerd! Maar dit wat jy sê maak 100% sin . . . Ek hoop dat sy ouers antwoorde sal kry, antwoorde wat vir hulle sin maak. Rus in vrede Johantjie. . .

Dr ·

Twak!!!!! Hoe kan n dr wat die inwoners behandel nie glo skamstig weet watter medikasie hy vir die kind voorgeskryf het nie!!!!!! Aag asb,dr moet mos n leer he van die kind. Baie verdag. Sterkte met die saak en hoop julle wen die saak. En kan dan gaan aftree by die see.

Karien ·

Ek hoop die waarheid kom uit en die skuldige word gestraf. Baie sterkte. Ek het ook n gestremde kindjie, hierdie dinge lê nog vir ons voor.

Theresa B ·

Dis bitter hartseer. Hy kan nou in vrede rus by die Here se voete. Sterkte vir julle.

Sonja Coetzee ·

Ai oe kry ek trane in my oe…dis vreeslik om n geliefde so deur die dood te verloor ek’s self gestremd dit raak my hartjie baie aan want ek voel vir die gesin wat n seun verloor het.Hoop hulle vrae word gou beantwoord my hartjie smelt sommer.Sterkte Mnr en Mev Vermeulen.

SKim ·

Dit gaan terrible in sommige van hierdie oorde, en niemand moet die teendeel vir my kom vertel nie, net onlangs is 94 geestesgestremde persone dood omdat hulle na ONGELISENSIEERDE tehuise geneem is wat nie na hulle behoeftes kon omsien nie. Hoeveel mense het al nadat hulle familielede met blou kolle en stukkende plekke gevind is kameras gaan installeer en gesien hoe STIEF hierdie arme mense behandel word. Net omdat hulle gestrem is en nie vir hulleself kan opkom of kan vertel wat daar aangaan nie, word hulle SOMS gruwelik behandel, en dit word al hoe erger. Hoe minder die toelaes tot hierdie institute word, hoe swakker die diens en hoe vrotter die personeel. Ek hoop werklik die skuldiges gaan aangekla word indien daar enige onreelmatigheid was … dit is NONSENS dat hierdie net maar gesien word as ‘n ‘toevallige’ dood of ‘ongeluk’ … RY hulle!! Lyk asof hier weer baie goed weggesteek word, soos om julle nie te laat weet het van sy toestand nie. BAIE sterkte aan die familie.

Kameraman ·

Sekutiteitskameras en nannycams raak goedkoper en moet oral opgesit word, dan weet ons wat aangaan en kan weerloses beskerm word. In tehuise, woongebied strate, snelweee, oral.

Adriaan Boshoff ·

My seun is ook in die oord en ek haal my hoed af vir die bestuur. Die grootste uitdaging is onbetrokke ouers en ‘n onbetrokke gemeenskap. Met die grootste respek wil ek vra hoekom was die kind nie geplaas in Sunfield homes in die boland waar u meer gereeld u seun kon besoek nie. Die bestuur van Fortuna moet met die minimum finansiele ondersteuning ‘n ontsaglike taak verig. Die betrokke bestuurderes is net meer as ‘n maand gelede aangeval deur 10 gewapende rowers.

Calie Vermeulen ·

Adriaan
Ek glo die bestuurderes is ń baie goedhartige mens, anders sou sy nie betrokke gewees het by die tehuis nie. Dit verduidelik egter nie waarom dit so moeilik is om inligting te verkry rondom die geval nie.
Ek is bitter jammer om te hoor dat sy beroof is. Sterkte aan haar en duisende ander Suid Afrikaners wat dieselfde tyd aangeval en beroof is.

Thys ·

Ja adriaan on jou vraag te beantwoord dat dit blyk ons ad ouers was onbetrokke. Wil ek jou vra ken jy lefde ware liede dat jy n persoon bo jou persoonlike gevoelens eerste stel. Jy sien di moeilikste beslut in ons lewens was om vir johan so ver van ons af in n tehuis te sit maar ons het besef dat hy vereensaam by die huis en dat hy n behoefte aan mense het so hier is ons dilemma as ons
hom plaas gaan dit beteken dat ons hom agv die afstand baie min gaan sien. Maar het na baie trane tog besluit om dit n go te gee. Na ons besoekke aan johan het ons besef dat hy werklik gelukkig daar is en was hy tog so bang dat ons hom daar wegvat. So ons het in sy belang opgetree en hom met seer harte daar gelos en geweet ons sal nie so gereeld vir hom kan kuier nie. Wat die res betref het ons alreeds verskeie kere voor ons getrek het vir sunfiekd in wellington gaan kuier en het ons al die nodige dokunentasie ingevul om hom oor te plaas. Maar daar was nog nie plek nie. So ek wil vir u vra voordat u ons verder in ons seer tyd probeer seerder maak om asb eers u feite reg te kry. Dankie en n geseende dag vir u verder

Corrie ·

Ek stem! Hoe de dinges kan n dr nie onthou watse meds hy voorgeskryf het nie! Jammer maar ek glo seuna was mishandel en dit is hoekom hy oorlede is! Dring aan op poligraaf toetse! Baie jammer aan die ouers en familie,mag julle vinnig antwoorde kry. Ek het na 8jaar nog nie antwoorde gekry nie,en dit vreet aan n mens se siel en hart. RIP BoetaQ.

Calie Vermeulen ·

Ek glo waar Johantjie nou is, is hy net so vol lewensvreugde soos ons hom geken het.
Johantjie kon homself van die oggend tot die aand besig hou sonder ophou en sonder om meer seer te kry as enige normale kind en hy het dit ALTYD op ń drafstap gedoen sonder dat ek hom ooit sien val of selfs struikel het.
Dit is wat dit vir my baie moeilk maak om te verstaan waarom daar so baie tekens van skedelbreuk is.
Ek hoop van harte dat geregtigheid sal geskied.

Ons staan saam met julle.
Sterkte.

Bekommerd ·

Baie van die sogenaamde rehabs/versorgingsoorde maak my bekommerd. Ek het ‘n paar maande gelede ‘n nagmerrie ondervinding gehad met ‘n familielid wat, na ‘n beroerte, in ‘n rehabilitasiesentrum opgeneem is. Ten spyte daarvan dat op sy leêr, en bokant sy bed, aangedui is dat hy ‘n diabeet is, is pasteitjies en skyfies, vetkoek en vleis ens tydens ete aan hom gegee. Gewone suiker is in sy koffie gegooi. Toe ek beswaar maak, is aan my gesê dat dit deur ‘n dieëtkundige uitgewerk word. Later is uitgevind dat dit nie waar is nie. In die aande is hy met slaappille gedokter. Op ‘n stadium het hy vir twee dae aanmekaar geslaap. Toe ek druk op hulle plaas, is hy met ‘n hoist opgetel en onder ‘n stort ingedruk. Hierdie is nie die helfte van wat alles gebeur het nie. Dankie aan die inrigtings wat wel goeie diens lewer.

Feitlik ·

Nee magtig mense kry julle feite reg voor julle enige aantuigings maak mnr ek is baie jammer vir jou dat jou seun oorlede is, maar sunfield homes doen baie goeie werk venaam vir ouers wat nie kan of wil na hulle kinders kyk nie dit help nie om al die oorde onder die selfde kam te skeer nie, baie sterkte vir julle. Doen dit op n profesionele manier.

Jana ·

Daar bestaan geen twyfel dat julle altyd Johantjie eerste gestel het nie… En hom ontsettend lief gehad het nie. Ek wonder of weet die wat so judge ‘n dag in julle skoene sou kon staan! Ja hy is nou in die hemel by Jesus en het letterlik die beste tyd van sy lewe… En ons as familie weet niks kan hom terugbring nie……maar ek bid opreg dat daar uitsluitsel gekry kan word…..en antwoorde.

Ek weet dit krap ou wonde oop. Maar ek dink dis baie groothartig van julle om hierdeur te gaan… om sodoende dalk ander mense wat nie kan praat nie en hulle families van die ontsettende seer te verlos. Johan se plekkie sal vir altyd leeg bly. En ek stem…. Johan was so vas op daai 2 beentjies van hom…en kon vinnig vir jou weghardloop….dat tot sy mamma soms moes uithaal om hom in te haal. Hoogs onwaarskynlik dat hy telkemale so erg sou val……. Glo dit nie vir EEN oomblik nie.

Ek bid dat julle antwoorde sal kry……

Derrick Smith ·

Ek het die voorreg gehad om Johan en die famielie te ken in my lewe. Ek het hulle omtrent so 9 jaar terug gesien. Ek kan ook met alle eer getuig dat Johan altyd baie goeie belans gehad het en baie gehardloop het. Hy kon partykeer as ek en sy boetie met hom gespeel het hom nie eers vang nie,maar nooit was hy onstabiel nie ,hy was rats om die huis en bome om vir ons weg te kruip en weg te hardloop en ons was in matriek. Ek weet dat sy ouers en famielie rerig baie omgee vir hom. Ek weet nie wat daai dag gebeur het met sy dood nie en hoop net die waarheid kom uit om vir hulle as famielie rus en vrede te kan gee. Rus in Vrede Johan. Baie sterkte oom Thys en Gerhard ou pel en aan die hele famielie.

Heidi Lundie ·

Ek het groot respek vir die mense wat die werk doen. As ons nie self na ons kinders kan omsien nie, hoe verwag ons ander mense wat hulle nie so lief het soos ons gaan dit beter doen?

Martie ·

Julle mense wat so maklik kan se die gesin wou nie na hom kyk nie en nie omgee nie Mense julle glo nie aan liefde nie ek wil net vra julle wat normale kinders het is julle lief vir julle kinders ?? Doen julle alles in jul vermoe om julle kinders gelukkig te maak??? Hoekom sal julle dink dat my broer nie dit gedoen het nie dit was vir hulle swaar om johantjie daar te los ; maar hulle het dit reeds gedoen uit liefde !!! Sou julle nie ook agteroor gebuig het vir jul kinders nie..Dit is vrek maklik om beskuldigings te gooi as jul nie self in die boodjie ry nie.ons weet as hulle vir johantjie gaan haal het vir n kuier hoe ongelukkig hy was as hulle van tehuis wegry en met terugkom het hy histeries gelag as sy voetjies die grond raak het hy terug gehardloop om by tehuis te kom hy was gelukkig daar .!!wou ek weereens aan julle wat beskuldig vra sou julle dink aan jou kind se geluk ??? Of wat

Martie ·

Om kort vraag te vra ..gee ons nie almal net die beste en liefde vir ons kinders nie?? Kyk ons nie wat die beste belang is vir jou kind nie ?? Of dink julle omdat hy gestremd was hy nie ook geregtig was op sy geluk nie ?? Hoekom moet ouers met gestremde kinders nie dieselfde liefde gee nie en dit was al wat hulle gedoen het en nie hul belange eerste gestel het nie maar uit liefde vir johan al was dit hoe swaar vir die ouers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.