Ouers sterf dae ná mekaar op dieselfde kleinhoewe

Ocker en Maria Ralph (Foto: Facebook)

Gerhardus Coetzer (40) se ma en stiefpa is enkele dae uitmekaar op dieselfde kleinhoewe dood.

Sy ma, Maria Ralph (66), is aan natuurlike oorsake dood en het vermoedelik ’n hartaanval gekry terwyl sy stiefpa, Ocker Ralph (62), koelbloedig vermoor is.

Volgens Coetzer is sy ma op 4 Mei in die huis op sy kleinhoewe in Lanseria dood. Sy het vir ’n ruk by hom gekuier toe sy dood is.

Coetzer se stiefpa het intussen van Mpumalanga, waar hy en sy vrou gewoon het, na Gauteng gekom om te help met begrafnisreëlings. “My pa het gesê hy wil gaan geld trek en gevra of ek sal saamry. Ek het egter agtergebly en vir hom verduidelik waar die bank is.”

Ralph is na ’n Absa-bank in Fourways waar hy R20 000 getrek het voor hy teruggekeer het na die kleinhoewe. Volgens Coetzer is daar aanvanklik berig hy het R15 000 getrek, maar het die bank bevestig dit was R20 000. “Ek het intussen verneem daar was twee verdagtes wat hom in die bank dopgehou het en toe na die kleinhoewe agtervolg het.”

Ralph het met sy terugkoms in sy Audi A6 gewag dat die motorhek oopgemaak word toe ’n silwer Toyota die pad agter hom versper het. Drie rowers het uit die Toyota gespring en in Ralph se rigting begin skiet. Een van die werkers op die kleinhoewe het die aanval gesien en Coetzer in die huis gaan roep. Hy het dadelik na sy slaapkamer gehardloop om sy vuurwapen te kry.

Volgens Coetzer het hy vier skote gehoor, maar is daar later vasgestel daar is ses skote afgevuur. Ralph is in die rug en in die hand geskiet. Hy is op die toneel dood verklaar. Coetzer het gesê die moordenaars het die motor se ruite stukkend geslaan en sy stiefpa halfpad uit die motor getrek voor hulle met die kontant gevlug het.

“Ek het gevoel of my pa ’n pols het, maar daar was niks nie. Ek het terug huis toe gehardloop en dadelik vir hulp gebel.” Coetzer het vir Jarques Treptow, eienaar van Drift Reaction, gebel en histeries om hulp gevra. Lede van die veiligheidsmaatskappy is onmiddellik na die toneel.

Coetzer se vrou en kinders was nie tuis ten tyde van die voorval nie. ’n Gesamentlike gedenkdiens is Donderdag vir Coetzer se ouers in Krugersdorp gehou. Coetzer en sy gesin het na die voorval by vriende gaan woon, maar is nou weer terug op die kleinhoewe.

“My ouers sal onthou word vir die liefde wat hulle vir hul kleinkinders gehad het en hul geselskap. Hulle laat in die stadium ’n baie groot leemte en ons ons weet nog nie hoe om als te verwerk nie. Tyd sal genees.”

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yster ·

Ek gaan trek nie eers R 5000 sonder n vuurwapen by my nie. Mense moet wakker word. Jy is ń lopede OTM.

Ek stem saam ·

Ek stem saam, ry dan ook eers allerhande draaie om vas te stel of jy ‘n donker skaduwee agter jou het. Weet Lindiwe hiervan? Seker nie.

Hanna ·

Wenk nommer 1: Die teller in die bank. Wenk nommer 2: Sekuriteits kaneras in bank. Wenk nommer 3: mense wat in en om die bank rondslenter (video opnames). Komaan SAPS dis nou nie eintlik rocket science nie…

Bokka ·

Verseker is daar genoeg plek in die he’ll vir SA se moordenaars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.