Ouers stukkend ná skielike dood van twee seuns

Stephan (links) en Frikkie (Foto: Verskaf)

ʼn Ouerpaar van Bothaville in die Vrystaat wie se twee seuns die afgelope naweek in ʼn gru-ongeluk skielik van hul af “weggeneem is”, sê hulle wil onder geen omstandighede weet wat dié ongeluk veroorsaak het nie om sodoende “net die mooi” van hul seuns se lewe te onthou.

Riaan en Tersia Bester moes Saterdagoggend in ʼn “verpletterende” oproep hoor dat hul seuns, Stephan (19) en Riaan jr., ofte wel “Frikkie” (14), in ʼn botsing betrokke was. Stephan was ʼn student in Klerksdorp aan die opleidingsinstituut vir tekenaars en Frikkie was ʼn gr. 9-leeder aan die Hoërskool Bothaville.

Die broers was op pad terug van Leeudoringstad in Noordwes nadat hulle ʼn jong Jack Russell-hondjie by familievriende opgelaai het wat hulle tuis sou grootmaak. Bester het Dinsdag aan Maroela Media vertel hulle weet steeds nie wat dié botsing veroorsaak het nie, maar dat hulle ook “glad nie wil weet” wat gebeur het nie.

“Dis nie iets wat jy wíl weet nie,” het hy gesê. “My vrou stem ook saam met my – ons wil nie vrae vra nie en ons wil nie besonderhede oor die ongeluk hê nie. Ek is baie ernstig hieroor; niks sal ons van besluit laat verander dat ons skielik wil weet wat gebeur het nie. Al wat ons kan hoop is dat hulle opslag dood is omdat dit ten minste bietjie gerusstelling bring. Dit sal ons ontstel om iets anders te hoor, daarom wil ons niks anders hoor nie.”

Bester sê die hondjie wat die twee in die voertuig gehad het, het volgens familiekennisse ná die ongeluk op die toneel rondgeloop, maar is kort daarna vermis. Volgens hom het die familievriende by wie die seuns die hondjie gaan oplaai het, mense op Facebook gevra om na die hond te help soek.

“Ons het later gehoor dat kennisse van ons die hondjie opgetel en huis toe geneem het. Hulle wou ons nie met die hond ontstel nie. Die Jack Russell is egter ook kort ná die mense se aankoms by hul huis dood.”

Hy sê ʼn nadoodse ondersoek is steeds nie afgehandel nie, wat beteken dat enige begrafnisreëlings in dié stadium nog nie gereël is nie.

“Ons verneem dat die personeel staak en die nadoodse ondersoek daarom nie afgehandel kan word nie. Ons kommunikeer deur middel van die begrafnisondernemer, so ons hoop en bid dat ons vandag of deur die loop van die week nuus sal kry. Intussen voel dit vir ʼn mens of alles in die lug hang – die seer word uitgerek. ʼn Begrafnis gaan ons nie skielik vrede gee of ons hartseer wegvat nie, maar dit is ten minste ʼn beginpunt van die pad wat ons gaan moet stap.”

Bester sê die gemeenskap en mense landwyd se ondersteuning beteken vir die gesin in dié moeilike tyd “die wêreld”. “Ons het gesien dat die dood van ons seuns die hele gemeenskap geruk en tot stilstand gebring het. Oral waar ons kom, kry ons ondersteuning van mense. Kerke vanuit ander gemeenskappe kontak ons en ondersteun ons. Boodskappe van gebede en bemoediging is volop, maar steeds sal niks die seer wegvat nie. Niks kan my seuns terugbring nie. Niks vat die seer weg nie.”

Hy sê hy en Tersia vind vrede in hulle geloof. “Ons probeer positief bly en kop bo water hou. Ek het net vanoggend gedink ons cope goed. Maar ʼn mens se emosies ry wipplank – die een oomblik gaan dit beter en die volgende baie sleg. Hulle was wonderlike seuns wat hulle geloof elke dag uitgeleef het. Hulle was albei lief vir oefening en het albei ʼn geweldige impak op ons én ander mense se lewens gehad. Hulle was ons trots en ons kan hulle impak op ander se lewens sien wanneer ons boodskappe van bemoediging ontvang. Almal sê hoe wonderlik hulle was. Ons weet hulle is in die hemel; hulle is daar waar ons graag wil wees.”

Die Bester-egpaar het nog ʼn seun, Christiaan, wat in ʼn tehuis woon weens serebrale gestremdheid.

Dit is nie duidelik of nog persone in die ongeluk dood is nie. Die saak word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Willie ·

Innige simpatie met julle verlies.. Mag die Heer se hand oor julle wees in die moeilikke tyd..

Lana ·

So tragies. Ons harte gaan uit na die familie en gemeenskap.

Hanna ·

Baie baie hartseer. Ons dra die ouers aan ons hemel vader op.

Christine ·

Ai, dis met trane in my oe dat ek hierdie berig lees, en Mamma en Pappa ek kan nie se my innige meegevoel nie, want ek weet nie wat dit beteken om nie net een maar twee seuns gelyk te verloor nie, maar ek kan net die Here vra dat Hy julle sal versterk en styf vas hou in hierdie hartseer tyd. Julle is in my gebede.

Jojo ·

My innige meegevoel aan julle as ouers, dit is verskriklik om 2 kinders op een slag te verloor, ek het nie woorde nie my dogter is ook oorlede in ‘n motor ongeluk so ek voel julle pyn….Hou vas aan ons God dis al wat ek vir julle kan se……..Rus saggie julle 2 boeties……..

Elize ·

My innige en opregte meegevoel. Ek verstaan waarom jul nie die omstandighede rondom die ongeluk wil weet nie – niks gaan verander nie. Ek het ook my seun agv ń motorongeluk verloor 13 jaar gelede.
Mag ons liefdevolle Vader jul vertroos en versterk in hierdie afgryslike tyd van rousmart en mag die mooi herinneringe die pyn draaglik maak.

Chris ·

Ek het geen woorde om te beskryf hoe ek voel na die berig nie . geen ouer moet leef om n kind te begrawe nie . Ons dink aan die familie en vriende in die moeilike tyd wat voorlê .

Corrie Reichert ·

Sterkte vir Bester familie, my hart is stukkend vir julle. Sulke pragtige seuns. NiKs kan julle hartseer weg vat nie, maar julle kan vrede in julle harte kry, om te weet die Liewe Here pluk net die mooiste blomme. Dink aan julle en sterkte met reelings hoop julle kan “closure” kry vining.

Jacques ·

Niks, maar niks wat enige iemand sê kan ‘n’verskil maak nie. Dis in sulke tye wat treurendes leer hoe hol en sinneloos woorde is en hoe geveinsd mense kan wees. Daar is slegs een ding wat mens kan doen om te oorleef, hou net aan asemhaal. Want daar breek tog ‘n dag aan wat die seer begin kwyn en mens besef die wêreld gaan aan met of sonder jou, maar tot daardie dag kan mens slegs die treurendes sterkte toewens met die verwerking van alles.

Elize ·

My innige en opregte meegevoel met jul ontsaglike verlies. Ek verstaan waarom jul nie die omstsndighede rondom die ongeluk wil weet nie – niks gaan verander nie…
Mag God jul vertroos en versterk in hierdie tyd van rousmart en mag die mooi herinneringe die pyn draaglik maak.

Lyndall ·

Ek bid dat die Here julle sal daardeur dra. My innige simpatie xxxx

maria ·

Twee pragtige sseun.Innige simpatie met die familie.God sal jle hierdeur dra.Jle geloof is sterk.Sterkte.R.I.V

Dirkie ·

Dit is so hartseer. My innige simpatie en sterkte deur hierdie tyd.

marianne ·

Dis afgryslik, verskriklik hartseer, ek stem saam met hul ma, as hulle net opslag gestref het en nie gelei het nie.
My Hart breek vir die gesin, die familie en vriende wat afterbly en moet voort gaan. Mag die Here julle innerlike krag en genade gee.

Ander Annie ·

Innige simpatie met hierdie groot eina. My gebed is dat ons Hemelse Vader julle styf sal vashou. My hart huil saam met julle. R I V.

Zee ·

DIS SO SO SAD MY INNIGE SIMPATIE AAN HUL OUERS VRIENDE EN FAMILIE

Thinus ·

Geweldig tragies!!!! Sterkte en my gebede is saam met julle!!

Sjoe ·

Sjoe, net ongelooflik hartseer en mens moet jul wense respekteer, sterkte ook vir jul gestremde seun wat skielik hierdie leemte van vrolike ondersteunende boeties moet verwerk.

Jeanne ·

Ag dit is verskriklik .. en mens kan nie sê hulle sou of sou nie ‘n ongeluk gemaak het as hulle nie die hondjie gaan haal het nie .. dit is verskriklik, my innige simpatie aan die familie, en dit is nie die hondjie se skuld nie, die ou dingetjie het ook uiteindelik van sy beserings omgekom .. BAIE JAMMER oor julle groot verlies .. maak nie saak wat die ongeluk veroorsaak het nie .. . Julle moet julle pragtige seuns se dood verwerk . BAIE STERKTE daarmee.

Annekr ·

Prop en Tersia.. my woorde is min… ek dink ek praat namens baie mense as ek se ons dink aan julle … die manne het diep spore getrap in baie van hulle maats se hart en ook in die gemeenskap.. Ek bid God se Grote liefde vir julle toe in die ontsettende hartseertyd!

Ron ·

Bester Ouerpaar ons bid vir julle !!!!!
Al wat ek na die lees van hierdie berig wil vra is :
MENSE HOU OP KLA OOR DINGE IN JOU LEWE WAT NIE NAASTENBY SO ERG IS AS WAT DIE 2 OUERS MOES DEURGAAN NIE!!!!

HB ·

As mamma van twee seuns byna dieselfde ouderdomme kan ek my nie die ongelooflike hartseer indink nie. Mag die Here vir julle krag gee in hierdie hartseer tyd. Innige meegevoel aan die Bester egpaar.

vonnie ·

ek mag dalk nou weer suur klink, maar hoekom moet als isn “___” gesit word deesdae. die mense is nie “verpletterd”nie, hulle IS verpletterd!

as iets so geskryf word, beteken dit dat dit is by wyse van spreuke, maar genade, kry julle taalgebruik reg!

Lewies ·

Ek is self ‘n ouer van twee dogters wat bid dat ek nooit in julle skoene sal staan nie. Terwyl ek lees, sien ek God se vrede werk reeds in julle harte. Ek wens net daar is meer ouers wat dieselfde vaste wete as julle het. Jou woorde, dat hulle seuns is wat hulle geloof uitleef, dat hulle nou is waar jy wil wees, is aangrypend. Die versekering dat julle hulle weer sal sien is vertroostend, ook vir ander ouers. Baie sterkte

lorayne ·

Hoe meer jy weet, hoe meer ‘sê nou maar net’s’ is daar. . .
my hart gaan uit na julle, mag God julle vertroos en dra.

Charlene ·

Ek kan my nie indink hoe julle as 2 ouers moet voel nie. Baie sterkte vir julle.Al wat ons as medegelowiges kan doen is om saam met julle te bid.Sterkte!!

Amanda Owen ·

Ek het nie woorde nie…. mag Vader julle troos & berusting bring

Eina ·

Bid die ouers krag en sterkte toe, vat dit dag vir dag tree vir tree, -ons is ook daardeur en het begrip vir die seer. Mag God julle styf teen Sy boesem vashou

Kobie ·

Bid die ouers krag en sterkte toe, vat dit dag vir dag tree vir tree, -ons is ook daardeur en het begrip vir die seer. Mag God julle styf teen Sy boesem vashou

Marie ·

Ek het nie woorde vir julle nie. Wens ek kon julle net vashou en saam bid.

A ·

Dit is hartseer, en ek wil nie ongevoelig voorkom nie, maar die hondjie het nog gelewe. Waarom is hy nie by ‘n dokter gekry nie. Hy was immers in ‘n ernstige ongeluk.

Michiel Ward ·

Ai ek weet ook nooit wat om te sê as sulke hartseer goete gebeur nie. Onse innige simpatie en Baie sterkte en ons bid vir julle.

Andrey Truter ·

Al wat ek vir julle kan se is dink aan alles wat goed is wat julle vir julle kinders gedoen het. Ek en my vrou het ons 19 jarige dogter 3 weke terug self in n tragiese ongeluk verloor. Soms praat ons gemoedelik oor haar en al haar doen en late, maar dan as mens soms alleen is kom die trane maar weer. Ek troos my ook in die feit dat toe ons op toneel aankom, daar geen pyn op haar gesiggie was nie. Sterkte daar vir julle.

Alida ·

Dit maak my siek om te sien dat mense so’n tragiese berig lees en dan nog ‘n eier lê oor die taalgebruik. Kry ‘n lewe en treur saam met die arme mense.

Carla de Zinger ·

Mag God jul toevou in sy vertroostende arms in hierdie tyd.

Mariaan ·

Hoekom gebeur sulke goed??? Om ouers se lewens so verewig te verpletter….wat is die doel v hierdie tragedie? Ek verstaan dit gladnie…niks goed kan tog hiervan kom nie…net smart…ek sal nie so iets kan oorleef nie…..

Penelope ·

Sjoe dis baie hartseer. My innige simpatie vir die familie. Niks kan die pyn wegneem nie, maar mens se geloof kan jou regop hou. So hartseer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.