Ouers van mishandelde baba eindelik vas

Die polisiestasie in Pretoria waar AfriForum die dokters en maatskaplike werker gaan bystaan het. (Foto: Verskaf)

Die polisie het Woensdag die ouers van ’n ses maande oue babadogtertjie in hegtenis geneem op strafregtelike klagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kindermishandeling. Dít nadat die saak reeds maande lank sloer en AfriForum se privaat vervolgingseenheid moes ingryp.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum se privaat vervolgingseenheid het op 24 Julie twee dokters en ’n maatskaplike werker by ’n polisiestasie in Pretoria bygestaan om ’n klag van kindermishandeling teen die ouers in te dien. Die dokters het reeds in April ’n klag van kindermishandeling teen die ouers by die polisie ingedien, toe die baba slegs vyf weke oud was. Die polisie het die saak aanvanklik ondersoek, maar het die klaers ingelig dat die saak gesluit is weens ’n gebrek aan bewyse.

Die privaat vervolgingseenheid het op 28 Julie skrywes aan die departement van maatskaplike ontwikkeling en die polisie gerig waarin geëis word dat die beweerde mishandeling van die baba onmiddellik aandag moet geniet om verdere trauma vir die slagoffer te voorkom.

Die aanvanklike polisie-ondersoek het niks opgelewer nie en die saak is van bakboord na stuurboord gestuur.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, verwelkom die inhegtenisneming.

“Dit is egter betreurenswaardig dat die stelsel hierdie weerlose kind in die eerste plek in die steek gelaat en vroeër vanjaar toegelaat het dat sy in ’n lewensbedreigende omgewing teruggeplaas word. Die privaat vervolgingseenheid sal die saak bly dophou om te verseker dat die baba die nodige beskerming kry en die skuldiges aan die pen ry.”

AfriForum het vroeër gesê die babadogtertjie is in April in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem met beserings wat met kindermishandeling ooreenstem. Die baba se ribbes was na bewering op 15 plekke gebreek.

Haar dokters en ’n private maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en die departement van maatskaplike ontwikkeling aanhangig gemaak en aanbeveel dat die baba uit haar ouers se sorg verwyder word.

Hoewel die ouers in die hof verskyn het, is die aanklag teen die pa teruggetrek weens ’n skynbare gebrek aan getuienis. Die polisie het die dossier toe sonder verdere ondersoek gesluit. Die baba is in daardie tyd tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar daarna aan haar ouers terugbesorg.

Die baba is op 1 Julie weer met longontsteking, skok en dehidrasie in die hospitaal opgeneem. Sy was onder die gewigmylpaal vir haar ouderdom, asook rasend honger toe sy opgeneem is. Verdere toetse het getoon dat haar sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Kla die polisie betrokke saam aan! Hulle is net so skuldig! Wat van hierdie weerlose kind se menseregte?

Moerby1212 ·

REGTIG DIT IS N SKRYENDE SKANDE DAT DAARDIE LEDE DIE DOSSIER NET AF GESLUIT HET. REGTIG DAARDIE DOSSIER MOES DADELIK NA DIE KBA GESTUUR GEWEES HET. DAARDIE LEDE WAT SO ONVERANTWOORDELIK WAS MOET ASB. AANGEKLA WORD. HULLE IS NET TE BLERRIE LUI OM TE WERK. AL D

Cornelius ·

Genade, hulle moet lewenslank tronk toe gestuur word. Hoe doen n mens so iets aan n 6 maande oue kind?

Kattebol ·

Sy was 5 weke oud toe die eerste beserings van mishandeling opgemerk is.

ES ·

Hoe erg moet jy ‘n kind mishandel om sy / haar sleutelbeen te breek? Enigiemand wat bietjie mediese agtergrond het sal weet, ‘n slutelbeen – selfs by kinders, is baie baie hard en breek nie maklik nie.

Oumatjie ·

Ek dink Afriforum en Soladiriteit moet maar die leisels by die regering oorneem. Hulle doen in elk geval alles wat die regering behoort te doen. Mooi so, Afriforum!

Prikkie ·

Nie eers diere mishandel hulle kleintjies so nie.

Die slaprug polisie wat betrokke was moet ook aangekla word vir pligsversuim.

Louise ·

Die ouers kan baie bly wees Pixie Pink is nie deel van die saak nie. Hul sou lankal agter tralies gewees het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.