Ouers van ontvoerde kinders ‘bly hoopvol’

Die vier kinders wat ontvoer is: Zia (15), Alaan (13) Zayyad (11),  en Zidan (6) [Foto: Verskaf]

Die ouers van die vier ontvoerde seuns van Polokwane, Limpopo, sê hulle is hoopvol dat hul kinders ongedeerd gevind sal word.

Die seuns se selfone is Woensdagmiddag in die Flora Park-woonbuurt gevind.

Naazim en Shakira Moti se vier seuns, Zia (15), Alaan (13) Zayyad (11), en Zidan (6), was Woensdag omstreeks 07:00 van hul huis in Nirvana op pad na Curro Heuwelkruin, toe hul motor gekaap en hulle ontvoer is.

Teen Donderdagoggend is die seuns steeds nie opgespoor nie.

Naazim is ’n gesiene sakeman in Polokwane en die eienaar van Auto Moti, ’n motorhandelaar.

Philip Smit, die woordvoerder van die familie, sê hoewel die Moti-egpaar bekommerd is, glo hulle dat die seuns opgespoor sal word.

“Die familie word in hierdie tyd deur al die bemoediging en ondersteuning gedra. Dit gee hulle ook berusting dat ’n briljante span die saak hanteer,” bevestig Smit.

Volgens Smit is daar nog geen losprys vir die kinders geëis nie.

Maroela Media het vroeër berig die BMW waarin die seuns was, is deur ’n silwer Kia Sorento en ’n swart Mercedes‑Benz van die pad af gedruk. Volgens die 64-jarige bestuurder van die BMW het daar na bewering sewe mans, almal in wit oorpakke geklee, uit die voertuie geklim en skote op die BMW afgevuur.

Die vier seuns is toe uit die BMW by die Mercedes ingedwing en die bestuurder is agtergelaat.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die Mercedes op die R81-pad weggejaag. Die seuns is klaarblyklik in Flora Park-woonbuurt van die Mercedes na ’n silwer Toyota Fortuner oorgelaai.

Volgens Mojapelo is die seuns se selfone later die dag in dié woonbuurt gevind.

“Die motief vir die ontvoering is in hierdie stadium nog nie bekend nie,” sê Mojapelo.

Enigiemand met inligting wat kan help om die kinders op te spoor, kan die ondersoekbeampte, kapt. Ntlane Rasedile, by 082 565 8566 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marius ·

Mag hulle veilig en ongedeerd gevind word . Mag die wat hiervoor verantwoordelik is nie lewend gevind word nie . Punt .

Tanniepetoors ·

Ek hoop hierdie vier pragtige seuns word ongedeerd en gou gevind. Sterkte vir die ouers en die ondersoekspan.

Misky ·

Van gister af is die saak omtrent al waaraan ek kan dink en volg heeltyd vir vordering op sosiale media. My hart gaan uit na hierdie ouerpaar en ek glo die hele land bid saam vir hul veilige terugkeer

Di ·

Skuim van die aarde, daar is geen ander woord vir hierdie uitvaagsels nie. Kinders van welaf mense word nou al geteiken vir geld. Die useless uitvaagsels moet gaan werk vir hulle geld. Hoop en bid dat hierdie spul gevang word en die kinders veilig gevind sal word.

Patch ·

MM by die foto van die kinders word genoem dat hul name nog nie bekend gemaak is nie maar die name verskyn in julle berig??

Janice du Plessis ·

Dagsê Patch
Baie dankie vir jou kommentaar.
Die artikel is intussen gewysig.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Patch ·

Ek het nou weer die 3 berigte gelees. Die “feite” maak nie lekker sin nie. Op 20 Oktober is berig dat ‘n silwer Fortuner die BMW van die pad gedwing het en die kinders daarin gelaai is, die laaste twee berigte verwys na ‘n Kia Sorento en Mercedes en dat die kinders in die Mercedes gelaai is. Dan word genoem dat die kinders klaarblyklik in ‘n silwer Fortuner oorgelaai is in Flora Park, was daar getuies wat dit gesien het? Berig joernaliste sonder om seker te maak van hul feite? Wonder maar net.
Ek hoop die seuns word ongedeerd opgespoor. Sterkte aan die ouers.

Spook ·

Selfs kinders is nie veilig teen die gemors wat hier woon en “werk” nie.
Ek hoop die kapers se wapens was gelisensieer, want as dit nie is nie, het hulle ‘n klomp moeilikheid voorhande.

Di ·

Sindikaat wat hierdie ontvoerings doen word nou groot probleem in SA. Vele sakemanne of iemand van hulle familie word ontvoer en losprys gevra. Kollega wat saam met werk ken 2 Indier sakemanne wat ook ontvoer was en losprys van miljoene geeis is. Hierdie sakemanne was hierna verplig om mense aan stel wat hulle kinders dag en nag kan oppas.

Deonne ·

Ek hoop rerigwaar dat die seuns veilig gevind word maar iets aan hierdie ontvoering/kaping is nie pluis nie.

Ietsanders ·

Ag neeeeee….nie nou die kinders ook begin teiken nie!!!! Ons bid dat hul veilig en vinnig gevind sal word. Sterkte aan die ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.