Ouers van verlate babadogtertjie gesoek

Die baba na die slagofferondersteunerssentrum geneem. Foto: Verskaf.

Die polisie in Kabega Park in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het Donderdag omtrent ma, pa, wetstoepasser én maatskaplike werker gespeel toe ʼn drie maande oue babadogtertjie in ʼn voetpaadjie opgetel is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die dogtertjie is deur ʼn man gevind wat op die voetpaadjie op Draaifonteinweg in Greenbushes gestap het.

“ ʼn Sak en bottel is nie ver van die baba af nie aangetref. Die kind is deur die man na die Suid-Afrikaanse Heilsleër (Salvation Army) geneem en hulle het die baba aan die polisie oorhandig.”

Naidu sê die polisie het die baba na die slagofferondersteunerssentrum geneem en skoon aangetrek, aangesien sy yskoud was met die klam klere wat sy aangehad het.

“Hulle het ook vir haar ʼn warm bottel melk gevoer. Die polisie het toe die babatjie na die Dora Nginza-hospitaal geneem en haar daar aan maatskaplike werkers oorhandig,” het Naidu gesê.

Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar die baba se ma of familie hulself bevind om die Kabega Park-polisie by 041 3946 802 te kontak.

Die polisie sê kinderverlating is algemeen en kan plaasvind wanneer ouers of voogde ʼn kind verlaat sonder om te dink aan die kind se fisieke gesondheid, welstand of veiligheid en in ander gevalle waar die ouer versuim om die nodige sorg aan die kind te verskaf.

“Wanneer iemand ʼn besluit maak om ʼn kind te kry maak daardie persoon ook ʼn besluit om verantwoordelikheid vir daardie kind te neem. Dankie aan dié wat genoeg liefde het om te deel – dis  optrede soos dié wat die wêreld ʼn beter plek maak om in te leef,” het Naidu afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Peer ·

Hopelik net om die ouers te vind om klagte te maak en nie die kleintjie vir hul te gee nie

Nix ·

Ai Peer mens kan net hoop en bid. Ongelukkig is ons regsstelsel vir die ouers en nie vir die kinders nie. Die kinders se belange word op die ‘back burner’ geplaas.

christa ·

alles is moontlik in die nuwe SA. Die arme dingetjie weet nie wat met haar gebeur nie. Hoop sy kry goeie ouers

Ben ·

Dit gebeur oral nie net in SA nie. Ek is net bly hulle het die pragtige baba op n voetpaatjie gelos en nie dood op n ashoop of in n vuildrom gegooi nie! Sy sal nou seker n mooi toekoms kry met liefdevol ouers.

Cindy ·

Ai dis so hartseer & ek dink al wat die baba soek is haar mamma. Kan nie glo ma’s gooi kinders net so weg nie.

Uvonka ·

Hoe wreed is dit? In die bibberende koue so ‘n weerlose ou babatjie net so los.

JSO ·

Miskien is die babatjie nie weggegooi nie? Ons weet nie. Miskien het haar ma daar gestap met haar op die rug en iets het met mamma gebeur?

Wilma ·

Dalk is die ma n prostituut en dan die baba mosi welkom nie. Sjoe die arme baba

Abel ·

Ai, dit is so vreeslik wreed om te dink dat ñ mamma wat daai kleine lyfie 9 maande gedra het sommer net so kan los. Sonder om te weet of sy okay gaan wees. So baie lelike dinge kon met haar gebeur het. Dankie liewe Heer vir mense wat haar nou liefde gee en die sekuriteit wat sy nou so brood nodig het.

Ons wêreld is so siek!!!

Alida ·

Hoekom die ouers opsoek. Gee die kind vir iemand wat nie kan kinders kry nie. Die stelsel maak mens siek.

Ek Sê So ·

Waarvoor die Ma soek sys geen Ma! Wie doen dit wie los so weerlose Kindjie nat en sonder enige iemand net daar! Sy verdien geen kind! Sies man!

Asmain ·

Ons kan nie net aanvaar dat die baba daar gelos is nie. Die feit dat n doeksak naby die baba gevind is kan daarop dui dat die ma dalk aangeval is….

Charlie ·

Sy is pragtig, en lyk gesond , ogies is wakker, so sy is duidelik goed versorg, voor sy daar gelaat is !! Moenie te gou oordeel nie, niemand ken die omstandighede nie.

Tania ·

Die babatjie lyk goed versorg. Het die polisie die area waar sy gevind is goed gefynkam om seker te maak die ma is nie dalk aangerand en beseer nie. Ek bid hierdie storie het ‘n gelukkige einde en dat die babatjie met liefdevolle familie herenig word.

Liza ·

Ag siestog so klein en onskuldig, sy het nie gevra om in die wereld in te kom nie, sies mamma vir dit wat jy aan jou pragtige dogtertjie doen……..

Oujongvrou ·

Moedertjie maar sys mos n ou poppietjie. Wens ek was jonk. Sal hemel en aarde versit het vir haar. Groot asb maroela laat ons weet oor so paar maande wat het geword van haar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.