Ouers vas oor voorval met vuurwapen by skool

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Die ouers van ʼn leerling aan die Roodepoort Primary School in Johannesburg is Dinsdagoggend in hegtenis geneem nadat hulle glo in ʼn onderonsie met ʼn veiligheidswag by die skool betrokke was.

Ao. Nonhlanhla Khumalo, woordvoerder van die polisie, het gesê die ouers het glo by die skoolhek opgedaag en gevra om die skoolhoof te sien. Die veiligheidswag het hulle gevra om die besoekersregister te teken voordat hulle die skoolgrond kon betree, maar die ouers het na bewering geweier.

“Dit is waar die probleme begin het,” het Khumalo gesê. “Die vrou het glo ʼn vuurwapen uitgeruk en op die veiligheidswag gerig en ʼn stoeiery het ontstaan. Die veiligheidswag kon daarin slaag om die vuurwapen by die vrou af te neem en die polisie is ontbied.”

Die man en vrou is in hegtenis geneem en aanklagte van aanranding, die rig van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen is teen hulle aanhangig gemaak. Hulle sou na verwagting Woensdag in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

ʼn Ooggetuie, wat uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, het egter aan Maroela Media gesê die feite word verdraai om die ouers na die skuldiges te laat lyk. “Dit was die ouma en oupa van ʼn kind wat skool toe gegaan het om seker te maak die leerder is orraait, omdat die kind glo die oggend gehuil het en bang was om skool toe te gaan. Die Gautengse onderwysdepartement het ná die onlangse onluste by die skool gewapende veiligheidswagte by die skool geplaas wat met gewere en ammunisie tussen die kinders rondloop en dit maak die kinders bang,” het sy gesê.

Sy vertel dat die departement ook daarop aandring dat veiligheidswagte ouers na die klasse toe vergesel en dat hulle nie alleen op die skoolgrond mag rondbeweeg nie. Die veiligheidswag het glo die leerling se ouma en oupa vergesel en buite die klas het ʼn beampte van die onderwysdepartement opgedaag en die man gestamp omdat hy “nie op die skoolgrond mag wees nie”. ʼn Onderonsie het ontstaan en die veiligheidswagte het die vrou glo met pepersproei in die gesig gespuit.

“Toe ons weer sien, word boeie aan die ouma en oupa gesit en hulle word in ʼn polisievoertuig gelaai. Hulle het niks gedoen nie en nou moet hulle in die beskuldigdebank in die hof gaan staan,” het die vrou bygevoeg.

Maroela Media wag vir kommentaar van die Gautengse departement van onderwys.

Die polisie en amptenare van die Gautengse departement van onderwys het in Februarie die Roodepoort Primary School gemonitor terwyl ouers teen die skool se nuwe hoof betoog het. Die veiligheidswagte is vermoedelik ook in hierdie tyd by die skool aangebring.

*Die ouma en oupa is glo die voogde en tree as primêre versorgers van die leerling op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.