Ouers veg om kind (3) se lewe

Imke (Foto: Facebook via Prayers for Imke)

Imke (Foto: Facebook via Prayers for Imke)

Darius en Ilona Geldenhuys van Tzaneen in Limpopo het tot einde Junie om sowat R6 miljoen in te samel nadat hul driejarige dogtertjie met ʼn aggressiewe vorm van kanker gediagnoseer is.

Darius het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dié gesin se lewe het handomkeer verander toe Imke in Februarie met hoë-risiko neuroblastoom gediagnoseer is.

Neuroblastoom is ʼn gewas wat hoofsaaklik voorkom by kinders tot op die ouderdom van vyf jaar. Die gewas groei op hul niere en word van daar na ander weefsel in die liggaam versprei.

“Dit het eintlik alles in November begin. Imke het baie gekla oor maagpyn en naarheid,” het hy verduidelik. “Ons was in Desember met vakansie toe dinge drasties begin verander het en ons sou nooit kon voorsien wat voorlê nie.”

Darius het vertel hy was in daardie tyd op die Daniëlvas. Dié vas behels dat jy net groente, vrugte lensies of neute vir ʼn tydperk van 21 dae eet. “Ek het half drie een oggend wakker geword terwyl Imke in my arms geslaap het. Ek het met my hand ʼn verharding gevoel en geweet dis waar die probleem is – ons glo dit was ʼn teken van God,” het hy vertel.

Ilona, wat onlangs die lewe geskenk het aan ʼn gesonde tweeling, moes op 1 Februarie vir ʼn sonar gaan toe die dokter haar aanraai om Imke ook te laat toets.

“Dokters het haar vir x-strale gestuur, maar kon niks opspoor nie,” het Ilona vertel. “Hulle het haar egter kort daarna met neuroblastoom gediagnoseer. Ons het later uitgevind dis vlak vier, met ander woorde hoë risiko.”

Die gesin moes onmiddellik aksie neem om te verseker dat die gewas nie verder groei nie. “Die dokter het gesê die gewas was reeds 10 cm groot. Sy was toe amper drie jaar oud en die gewas het byna haar hele nier bedek,” het Darius vertel.

Die gesin wil Imke nou neem vir immunoterapie by die Memorial Sloan Kettering-kankersentrum in New York neem.

Immunoterapie is ʼn spesiale soort behandeling waartydens die liggaam se eie immuunstelsel versterk word om teen die kanker te baklei.

“Dié soort behandeling is nog nie beskikbaar in Suid-Afrika nie, en om die behandeling hierheen te bring is onbekostigbaar. Ons dogtertjie kan die beste behandeling kry in die buiteland, en dis waarom ons so vir haar baklei,” het Ilona gesê.

Imke is onlangs weer geopereer en dokters het glo 90% van die gewas verwyder. “Die dokter het egter vir ons gesê daar het [ʼn deel] oorgebly en daarom is die behandeling belangrik, want dit kan die res van die kanker doodmaak,” het Darius gesê.

Darius vertel die gesin steun op hul geloof om deur dié moeilike tyd te kom. “Die dokters het telkens hul koppe laat sak met die slegte nuus. Ons het elke keer die slegte nuus in die naam van die Here verwerp en elke keer was daar weer hoop. God is groot en sy genade is vir ons genoeg.”

ʼn Trustrekening, in samewerking met organisasies soos Jakaranda FM en verskeie individue, het al meer as R2,3 miljoen ingesamel vir dié immunoterapie. Die gesin het ook sowat R300 000 op hul skarefinansieringsrekening ingesamel, maar benodig nog sowat R3,3 miljoen.

Vir meer inligting, besoek Imke se Facebook-blad. Jy kan ook kontak maak met Darius deur hom te bel by 076 618 8058 of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Besoek ook die Gebede vir Imke Facebook-blad of besoek Curls for Imke vir meer inligting oor skenkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marietjie ·

Dit is baie hartseer dat so jong kind so moet ly. As ek die geld gehad het dit met liefde geskenk het. Doen n beroep op alle mense wat kinders het en finansieel daartoe in staat is om n bydra te maak so spoedig moontlik in kontak kom met die ouers. Dit kon enige een van ons se kind gewees het. My hart gaan uit na julle en hoop en vertrou dat die geld betyds ingevorder sal word.

Martie Lottering ·

Ek het nog nooit ‘n dorp so sien saamstaan soos Tzaneen nie. Elke een moontlik probeer iets doen om geld in te samel. Daar word goed gemaak en verkoop, looitjies word verkoop, konserte gehou, noem dit. Almal probeer iets. Dit is net ongelooflik.

Annieberry ·

Dit is wonderlik!!! Ek bid saam vir die pragtige dogtertjie en haar ouers. Ek volg van vanoggend af haar fb blad en gaan kyk wat ek kan doen. Sterkte aan haar ouers.

Eliza-beth ·

Ai… Maroela – dankie weer dat julle die tipe berig plaas sodat mens kan help en ook met besonderhede waarop mens net kan klik om ietsie te gee. Ek hoop van harte hulle kry die nodige fondse. Sterkte aan die hele gesin.

Joann ·

So hartseer. Kan nie verstaan dat die behandeling nie hier in ons land gedoen kan word nie,is ons medies so sleg? Sterkte aan ouers.

Lean ·

Nee, ons privaat-mediese sorg is glad nie so sleg nie. Maar onthou – ons werk in Rande. En die Rand is baie baie swak. Die tegnologie en toerusting word in die buiteland ontwikkel (hulle het baie meer resources tot hul beskikking) en om dit aan te koop vir ‘n Suid-Afrikaanse privaathospitaal-groep, gaan waarskynlik biljoene Rande beloop.

Nie eers alle hospitale in die buiteland het dit nie – soos die artikel noem is dit net by 2 plekke beskikbaar: in New York en in Australie. Dit wys jou hoe duur en skaars daai behandeling is.

minki ·

hi daar,imke se pappa daruis werk saam ons,die behandeling wat klein imke moet kry is nog nie is suid afrika beskikbaar nie,die immunoterapie wat sy moet kry is redelik nuut.

Gesiggie ·

Engel kind Imke…. jy is in Jesus se hande… en Hy sal jou dra elke dag,Hy sal jou beskerm, jou genees…veg Meisie… jy sal weer gesond word… en aan Mamma en Pappa en daai 2 mooi ou Babba sussies van Imke…. Mag Jesus aan jul elke dag die krag gee… jul met Sy krag omvou, en jul Gebede verhoor… Kan nie wag om die goeie nuus van Imke te lees…GOD IS GROOT EN BY HOM IS: ALS MOONTLIK……

My se ·

My hart is sooo seer vir hierdie mense. Ek bid God se genade oor julle toe. Dis so “close to home” vir my, toe ons nie te lank terug my skoonsus se seuntjie agv kanker aan die dood moes afstaan op 3. Ek haat kanker! Dis nie reg dat enige mens dit moet kry nie, maar so kleine kindjie…ai my hart breek van voor af. Daar is so baie skatryk mense in die wereld…hoekom kan meer van hulle tog nie hul miljoene deel nie…

Johannes Meintjes ·

Dit is jammer dat bewese alternatiewe behandelings vir bv. kanker geminag word of deur die geldgedrewe mediese stelsel ontken word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.