Ouers veg verbete om vierjarige te red

Ruan Wolhuter. Foto: Verskaf

Ruan Wolhuter. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar van Pretoria is in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om vir hul vierjarige seuntjie, wat aan ʼn seldsame siekte ly, ʼn beenmurgskenker te kry.

Ruan Wolhuter was net nege maande oud toe hy met Langerhans-selsindroom (LCH) gediagnoseer is, ʼn seldsame kanker wat veroorsaak dat sy liggaamselle sy immuunstelsel aanval. Hanli, Ruan se ma, het aan Maroela Media vertel hul stryd teen die siekte het in Junie 2012 begin.

“Ruan het ʼn uitslag op sy vel gekry, veral op sy kopvel en tussen sy boudjies. Dit het soos ekseem gelyk en ons was nie juis bekommerd daaroor nie,” sê Hanli. Hulle is nietemin met Ruan dokter toe waar ʼn velbiopsie die LCH-diagnose bevestig het.

Ruan moes dadelik chemo-behandeling ontvang en in ʼn stadium het dit gelyk asof die siekte opgeklaar het, maar ʼn paar maande later was dit terug en meer aggressief.

“Ruan was gedurig in die hospitaal en het chemo en bestraling ontvang,” sê sy. “Hy is ook op kortisoonbehandeling wat veroorsaak dat sy gesiggie koeëlrond is. Hy was nooit regtig gesond nie en moes maar nog altyd mediese behandeling ontvang.”

In Augustus vanjaar het dokters gesê die enigste hoop is om Ruan se immuunstelsel te “herlaai” deur middel van ʼn beenmurgoorplanting. “Hulle het my en my man getoets om te kyk of een van ons ʼn gepaste skenker kan wees en ons behoort binnekort die uitslae te hê. Die kans dat die ouers egter ʼn gepaste skenker vir ʼn kind is, is baie skraal,” sê Hanli.

Ruan Wolhuter tydens 'n onlangse familievakansie. Foto: Verskaf

Ruan Wolhuter tydens ‘n onlangse familievakansie. Foto: Verskaf

Sy verduidelik dat die volgende stap is om deur die nasionale beenmurgskenkerslys te soek vir ʼn gepaste skenker, waarna hulle na die internasionale skenkerslys sal gaan. “Die nasionale skenkerslys is baie beperk en die kans is natuurlik beter dat daar ʼn geskikte skenker in die buiteland sal wees. Maar dit beteken die prosedure sal net nóg duurder wees as wat ons verwag.”

Volgens Hanli dek die gesin se mediese fonds slegs tweederdes van die beenmurgoorplanting-prosedure wat na raming sowat R1,6 miljoen sal kos. “Dit beteken ons moet nog R500 000 insamel sodat Ruan dadelik die oorplanting kan kry sodra ons ʼn skenker opspoor,” sê sy. Die gesin het intussen ʼn Facebook-blad begin om Ruan se verhaal met potensiële donateurs te deel en is in die proses om ʼn volwaardige stigting op die been te bring.

“Voorlopig gaan Ruan net aan,” sê Hanli met ʼn glimlag. “Hy is op ʼn instandhoudings-chemo- program waarmee die siekte op die oomblik net beheer word. Hy is nog klein, so hy verstaan nie regtig dat hy siek is nie. Hy gaan net aan en speel en lag soos enige normale kleuter. Ek dink dit is juis wat ons voete op die grond hou,” sê sy.

“As hy by die kleuterskool moeg raak, sal hy vir sy juffrou sê hy wil graag ʼn bietjie slaap. Hy moet soms rus en kan nie altyd alles doen wat die maatjies doen nie. Maar met sy gees en sy lewenslus is daar niks fout nie.”

Die Ruan Wolhuter-stigting-blad kan besoek word vir meer inligting en skenkingsbesonderhede.

Vir meer besonderhede om as ‘n beenmurgskenker te registreer, besoek die Sunflower Fund se webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Cecile ·

Ons bid dat hierdie pragtige seuntjie gou gehelp en gesond sal word!!

ZIA ·

Mh hart bloei vir julle!! ek is op die meenmurg registry en sal sonder om te dink julle help as ek n moontlike match is!!

Lindi ·

Ek het sopas na die lees van hierdie artikel by die Sunflower Fund geregistreer!

Eliza-beth ·

Mooi so julle ouens, ek het lankal aangesluit en elke persoon kan ‘n verskil maak. Hoop sommer almal doen dit gou!

Rozanne ·

Ek het ook na die storie by sunflower flund geregistreer…

Joggir ·

Wat is ‘n donateur? Is dit wat ons in Afrikaans ‘n skenker noem?

Piet Pere ·

Ja jong, dis mos deesdae hoog mode om die afrikaanse woorde te vervang met engelse woorde.

Joggie ·

Wat is donateurs? Is dit wat ons in Afrikaans skenkers noem?

Mariette ·

Waar laat toets ek my om te sien of ek dalk geskikte skenker is.

M B ·

Wens meer mense besef hoe maklik dt is om beenmurg te skenk…. dis dood eenvoudig soos om bloed te skenk. Hulle trek in die eenkant jou bloed, sit sirkuleer deur n masjien wat die beenmurg onttrek en plaas aan die anderkant weer die rea van jou bloed terug. Beenmurg skenking klink vreesaanjaend as jy nie weet wat dt is nie. Min moeite om iemans se lewe te red. Ek was self ongelukkig nie n match vir my suster wat dit nodig gehad het nie, en in SA kon ons ook nie een kry nie. Maar nou is ek geregistreer as n skenker en kan dalk eendag iemand anders help. Kontak gerus die SABMA vir inligting rondom beenmurg skenking.

Martie ·

Ek sal my ook laat toets. Se net hoe en waar. Iemand moet geskik wees

Cindy ·

Ek wou graag registreer as ‘n skenker, maar kan ongelukkig nie oor die feit dat ek self kanker gehad het 15 jaar gelede. Baie sterkte aan die gesin, ek hoop regtig julle kry die regte persoon

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.