Ouers verpletter ná dogter sterf, ander dogter om lewe veg

Mark en Telani Dedekind saam met Lara (18) en Amy (15) (Foto: Facebook)

ʼn Verpletterde egpaar van Pongola in KwaZulu-Natal “klou verbete vas aan hulle geloof” nadat een van hul “lieflingdogters” onlangs ná ʼn gru-ongeluk dood is en hul ander dogter steeds om haar lewe veg in ʼn hospitaal.

Mark en Telani Dedekind, ouers van Lara (18) en Amy (15), sê hulle het nét hul geloof en die ondersteuning van vriende, familie en weldoeners om hul staande te hou nadat die gesin se lewe in ʼn enkele oomblik aan skerwe gelaat is.

Freddy Robertson, Telani se broer wat as woordvoerder vir die gesin optree, het Dinsdag aan Maroela Media vertel die Dedekind-egpaar kan steeds nie sin maak van die presiese gebeure wat hul lewe handomkeer verander het nie.

Lara en Amy, albei leerders aan die Hoërskool Pionier in Vryheid, was op 7 Oktober omstreeks 11:00 saam met ʼn vriend op pad terug skool toe ná die skoolvakansie, toe hulle in ʼn ongeluk betrokke was.

Volgens Robertson was daar dié spesifieke dag digte mis in die omgewing. Hul motor het van agter teen ʼn stilstaande ligte vragmotor gebots en Lara en Amy in ʼn kritieke toestand gelaat. ’n Vriend van Lara het die motor bestuur en het geringe beserings opgedoen.

“Hulle is na ʼn hospitaal in Vryheid geneem waar hulle gestabiliseer en ondersoek is. Hul beserings was baie ernstig, hulle het albei bloeding op die brein en skedelbreuk opgedoen. Albei dogters se beserings was van die nek af boontoe. Mediese personeel het hul ouers aangeraai dat hulle na ʼn privaat hospitaal in Umhlanga geneem moet word, en hulle is dieselfde aand [op 7 Oktober] met twee ambulanse vervoer omdat die weer steeds te sleg was,” sê Robertson.

Lara (links) en Amy (Foto: Facebook)

Lara het op 8 Oktober ʼn beroerte gehad wat haar in ʼn koma gelaat het. Volgens Robertson het haar toestand bly versleg. Mediese personeel het haar konstant gemonitor, maar daar was geen teken van verbetering nie. Drie spesialiste het Lara ondersoek en haar breindood verklaar. Sy is intussen oorlede.

“Lara wou ʼn verskil maak in die lewe – sy was onderhoofmeisie by Pionier en kaptein van die eerste hokkiespan. Sy het geleef vir God en wou altyd met mense oor God praat. Sy en die vriend wat bestuur het, wat in dié moeilike tyd deel van die gesin geword het, het maar net ʼn week voor die ongeluk juis gepraat oor wat hulle sou verkies indien hulle in só ’n ongeluk sou wees. Sy wou nie gekoppel wees aan masjiene nie. Dis nie wat sy sou wou hê nie.”

Robertson sê Amy, tans in gr. 9, het intussen ʼn vyf uur lang rekonstruktiewe operasie ondergaan om veral skade aan haar kakebeen reg te stel. Hy sê die mediese personeel het die skade aan haar gesig as “gruwelik” beskryf.

“Amy is nog nie buite gevaar nie as gevolg van die omvang van haar beserings, veral omdat dit kopbeserings is. Die dokters is egter positief oor haar herstel. Ons sal dalk binne ʼn week kan bepaal hoe die toekoms lyk en sy sal dan ook buite gevaar wees. Sy was intussen by haar bewussyn gewees in die hospitaal, maar die dokters het haar ouers aangeraai om haar nié van Lara se afsterwe te vertel nie omdat dit dalk ʼn groot terugslag vir haar gesondheid kan beteken. Dit is vir hulle geweldig erg.”

Die Dedekind-egpaar het intussen besluit om Lara se organe te skenk omdat sy juis ander wou help met haar lewe. Robertson sê die gesin is stukkend, maar kry elke dag nuwe hoop in hul geloof.

“Die wonderwerk waarvoor ons gebid het vir Lara is nie die wonderwerk wat God in gedagte gehad het nie. Ons wou haar hier hê, maar nou kan sy talle ander lewens aanraak as orgaanskenker. Die verlies van ʼn kind is geweldig traumaties en die ouers is albei stukkend, maar hulle is baie sterk in hul geloof en hulle kry ondersteuning van reg oor die wêreld. Hulle klou aan God en Sy beloftes en hoop dat hulle eendag weer heel kan wees. Al wat hulle in dié stadium benodig, is gebede.”

Daar is nog geen begrafnisreëlings vir Lara getref nie. Robertson sê die gesin fokus in die stadium net op Amy se herstelproses.

ʼn Facebook-blad, Bid vir Lara & Amy Dedekind, is geskep om nuwe inligting oor die gesin en Amy se vordering te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Adel ·

Dit is harts verskeurend. Ons dra julle op aan ons Hemelse Vader vir vertroosting en dat jul jongste volkome sal herstel ??

Christine ·

Dis baie hartseer en dit is so mooi om te hoor dat hulle tydens hierdie hartseer tyd so gelowig kan bly, ek hoop in my hart dat Jesus vir Amy sal aanraak die die familie sal versterk en deurdra as ‘n moeder myself weet ek nie hoe nie!

Arsène Lupin ·

Pragtige meisies. Sterkte aan die familie gedurende hierdie tyd.

Veronica ·

Mark & Telani, my innige simpatie!!! Ek bid dat GOD jul vrede sal gee wat ALLE verstand te bowe gaan want LARA is by HOM . . . haar lewe getuig dan daarvan as ek hier lees.
Saam BID ek nes ander vir AMY se herstel in so mate dat GOD alleen hierdeur verheerlik sal word.

Elke Janse van Rensburg ·

Here Jesus, help hierdie gesin!!!! Dankie dat Lara nou by U is.

Sommer net verskriklik hartseer ·

Dit is sommer net verskriklik hartseer, wens daar was ‘n groot genoeg pleister vir hierdie diep seer. Sterkte en mag jul omvou word deur omgee en liefde ens terkte vir hierdie pop wat nog veg, mag sy oorwin. Mag Sy genade met julle wees.

Leni ·

Sterkte aan die familie, die keuse wat julle gemaak het ten spyte van die pyn om ander mense ‘n tweede kans te gun, daar is net een word: genade!

Theresa ·

Innige simpatie. Mag Amy sterk en gesond word en jul almal die krag ontvang wat nodig is om hierdie seer te verwerk.

Marlene Oosthuizen ·

*** Vryheid se mense, oud en jonk, gee aan U Here, al die lof en eer vir U Genade en die Herlewewing wat plaasvind, veral tussen ons skoliere te Vryheid Pionier skool en Vryheid Hoër, van Saterdag met die ongeluk waarin Lara, Amy en jongman was. U is altyd goed Here. Almagtige Heer en Koning van ons harte, Ons dra Amy, haar ouers Mark en Telani asook jongman, opnuut aan U op Here. Wees Amy genadig Vader, omvou hul met U Liefde, vul hul met U innerlike krag, herstel & genees Here. Dit vra ons nie omdat ons dit verdien nie Here, wel omdat U Genade oneindig groot is. Skenk hul nuwe hoop & moed vir elke dag Here. ..Die verpleegkundiges en dokters betrokke, ons Vader gee jul krag en die wysheid van Bo, Ons bid sonder ophou vir al ons kinders wat hartverskeurend aangaan en sterkte vir elke leerling met eksamens en wees met elke personellid en hoof van skole. Lara, veilig in ons Hemelse paradys. Dankie Here vir Lara se tyd hier op aarde, sy het soveel aangeraak met haar liefde vir U asook haar liefde en omgee vir ander. GOD SE GENADE ONBESKRYFLIK GROOT.

Urma ·

Baie sterkte ons Bid en Weet God sal julle krag en leiding gee

Stella ·

Dit is altyd so hartseer om sulke nuus te lees. My innige simpatie ook aan die familie en vriende. Ek bid ook vir Amy dat die HERE met haar sal wees. Ons moet ook nie vir die vriend wat motor bestuur het vergeet nie. In watter toestand moet hy nie wees nie, mag die HERE ook met hom wees. Sterkte en moedhou en hou vas aan jul geloof.

Tanya Kruger ·

Sterkte. Die pyn gaan nooit weg nie, mens leer net om daarmee saam te leef. Geen woorde wat enige iemand kan spreek kan dit beter maak nie.

Rene ·

Dis baie baie hartseer, so pragtige gesin. Ek kan ook net Amen se op Stella se boodskap.

Mariette ·

Ek gaan hierdie artikel beslis nie deel nie. Ek kan dink dat dit verskriklik vir ‘n ouer moet wees om gedurig herinner te word hoe jou kind se lewe geeindig het. Maar ek sou se vier eerder haar lewe en haar nalatenskap. Sy gaan steeds die groot verskil in lewens maak, net die op die manier wat sy gedink het nie. Ek glo sy sou tevrede wees met die keuses wat haar ouers nou gemaak het.

ECT ·

Aan die Dedekind-egpaar: sterkte aan julle twee en die hele familie. En baie dankie ……. dankie dat julle grootmoedig genoeg was om jul dogter se organe te skenk – wees verseker dat ten minste 7 mense se lewens deur hierdie grootmoedige en baie dapper daad gered is en dat julle dogter deur hulle leef.

Henk Stander ·

Kan niks meer se as simpatie en sterkte nie. Die Here sal vertroosting bring.
Baie sterkte vir julle

Henk Stander ·

Woorde is nie genoeg nie Baie sterkte Ek bid dat julle vertroosting van Die Vader sal ontvang.
Ek bid vir julle .

Charmaine ·

Sterkte Mark en Telani,mag God sy genesende Hand oor klein Amy uitstrek.Rus in vrede Lara.

Eben ·

Baie baie hartseer vir die ouers en familie. Hoop en bid vir die gesin en hoop hulle word bygestaan met die tragiese gebeurtenis.

Mariaan ·

HARTVERKEUREND! Die lewe is maar net nie n maklike pad nie….te veel om in te neem…hoekom moet sulke goed gebeur…mag Amy asb gespaar wees Here…hierdie ouers kan nie nog meer hartseer kry nie….dink aan julle

Charlene ·

Liewe Jesus wees hierdie gesin genadig gee hulle asb vertroosting in hierdie tyd. As dit U wil is dat Amy volkome sal herstel.Lara is nou een van die mooiste engele daar by U in die hemel.

Marlien ·

Ek is self n ma van twee seuns, 16 en 18 jaar oud. Ek kan myself nie eers indink deur watter hartseer en pyn die ouers moet gaan nie. Mag ons Hemelse Vader julle dra in hierdie tyd. Julle is in ons harte en gebede!

Beryl Gioia ·

Sjoe ek is vandag soo ontsteld oor FNB my te na gekom het en gedink dis erg tot ek hierdie lees!! My probleem is niks!!
Die pragtigste kinders. Baie sterkte en BAIE GENADE!!
Beryl

BOLANDER ·

Mag HY julle versterk in hierdie vreeslike treurige tyd.
Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.