Ouers verpletter toe babaseun skielik sterf

Juvan (Foto: Facebook)

Juvan (Foto: Facebook)

Dit het té vinnig gebeur – só vinnig dat Coenie en Chantel Botha van Alberton steeds nie die gebeure kan verwerk nie. Drie maande gelede, ná die geboorte van hul jongste kind, was hulle die ouers van ʼn gesonde babaseun. Ses weke daarna is klein Juvan vir die eerste keer in die hospitaal opgeneem, kort daarna is sy been geamputeer en Sondagaand is hy dood.

Dié egpaar is in stukke nadat hul seun tot op ses weke heeltemal gesond was, en daarna in minder as twee maande van hul weggeneem is.

Hulle wou nog vir hom ʼn blad op sosiale media skep sodat mense kan help om geld in te samel ná die amputering, vertel Coenie.

Hulle is egter nooit dié kans gegun nie.

Juvan is op 27 Julie gebore. Coenie vertel daar was geen komplikasies tydens die geboorte nie, en dat hy ʼn “doodgewone, gesonde babaseun” was.

Coenie en Chantel saam met Juvan (Foto: Facebook)

Coenie en Chantel saam met Juvan (Foto: Facebook)

Die gesin se lewe het egter drasties verander nadat Chantel hom vir sy sesweekse inspuitings geneem het. “Die suster het vir my gesê ek moet hom na die pediater neem. Die dokter het op 13 September sy suurstof gemeet en ons aangesê om hom na die kindersaal te neem. Sy suurstof het 68 gemeet, maar moes 90 wees.

“Die masjiene het egter niks gehelp nie, en die dokter het gesê hy vermoed daar is iets fout met sy hartjie, ons moet dadelik by ʼn hospitaal uitkom,” het Coenie gesê.

Die weke daarna is ʼn klomp toetse gedoen. Juvan het onder meer drie skanderings en ʼn kateterisasie ondergaan. Toetse het egter steeds gewys hy makeer niks nie.

“Ná die kateterisasie het die dokters ons ingeroep en gesê hulle kry nie die slagaar van sy hart na die longe toe nie en dat daar niks is wat hulle vir hom kan doen nie. Hulle sou hom na twee dae ontslaan omdat daar glo geen rede vir hom was om daar aan te bly nie.”

Dokters het later tog ʼn hoofslagaar tussen die hart en longe opgespoor, maar gesê die pypie is baie dun.

Chantel het die volgende dag opgemerk dat sy beentjie baie koud gevoel het, maar dokters het dit glo weggepraat. Dieselfde oggend het sy been met pers kolle begin uitslaan. Verskeie toetse kon nie wys dat daar enigiets verkeerd was nie. Ná die vyfde dag met dié kolle het sy groottoontjie begin swart word.

Child Medi Organisation het ingespring en hom laat oorplaas, maar dit was te laat. Juvan se been is bokant sy knieg geamputeer. Hy het goed begin herstel, en die naweek wou Coenie en Chantel begin om geld in te samel sodat hy ʼn prostese sal kan kry.

Sondagaand is hy dood en die egpaar is flenters en op soek na antwoorde.

Amor Schoeman van Child Medi het Woensdag aan Maroela Media gesê Juvan is glo dood omdat daar nie bloed deur die hoofslagaar kon beweeg na die hart nie.

Coenie sê dit was net so onverwags. “Ons het gedink ons sou hom hierdie week huis toe kon bring. Nadat hy sy laaste asem Sondag uitgeblaas het, het ons nog ʼn paar uur by hom bly sit. Sy gesiggie het verander, en hy was nie meer die kind wat ons geken het nie.

“Ek moes daarna my seun se doodsertifikaat teken, en teken dat hulle sy klein liggaampie kan veras. Ons was nog nooit so stukkend nie. ʼn Mens het nie eers woorde nie,” het hy gesê.

“Hy is dalk nou fisiek weg van ons, en dalk kan ek eendag daarmee vrede maak, maar hy sal altyd in my hart bly. Hy sal altyd ons champion bly,” het Coenie gesê.

Besoek die Child Medi Organisation-webwerf vir meer inligting oor skenkings vir die begrafnis of hoe om op ander wyses betrokke te raak. Lees meer oor Juvan.

Coenie en Chantel wil nie die name van die hospitale in die media noem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Wilma ·

Dit is hartverskerend… sterkte vir die mamma en die pappa….

Soekie ·

My hart is seer vir julle. Mag die Here julle vertroos en versterk om hierdie groot verlies te verwerk.

Soekie ·

My hart is seer vir julle. Mag die Here julle vertroos en versterk om hierdie groot verlies te verwerk. So jammer.

Adele ·

Sterkte vir die Mamma en Pappa julle het n bitter seer wat iemand kan wegwat nie. Mensies sit julle seer in God se hand en glo en vertrou op God . Mensies julle babatjie was die mooiste blommetjie in God se Tuin en God het hom gepluk . Weer eens sterkte

Christien ·

Ag Siestog. Dis sò hartseer. Die trane het geloop toe ek hierdie Lees. Ek voel so jammer vir die ouers dat dnge so vinnig kan skeefgaan. Baie Sterkte.

Sonja ·

My mamma hart breek vir julle ! Ek kan my nie indink watter seer julle moet deurmaak nie. Baie sterkte, ek kan net vir julle bid..

Denise ·

Dit is vir my n baie hartseer storie dit is vir elke ouer die grootste pyn as iets met jou kind oor kom maar dit was net n baba wat al n amputasie moes deur maak liewe tyd dit is erg mag julle twee baie krag van jul Hemelse Vader kry en sterkte !!!!

Anoniem ·

Hartverskeurend….Ons trane loop saam julle…Sterkte vir nou en vir altyd. Hy gaan altyd in jul harte bly voortleef…..Mag God jul vertroos en met jul wees.

Jean ·

Ag foei tog, nee dit is verskriklik hoor, so ‘n klein babatjie se been wat geamputeer moes word en reeds so swaar moes kry op die ouderdom. Ek kan glo julle harte is stukkend. Baie sterkte op die pad vorentoe, dit is so ongelooflik hartseer. RIV klein Juvan, niks sal jou ooit kan vervang nie, jou mamma en pappa sal altyd lief wees vir jou!

Celeste ·

Selfde hartstoestand het met ons baba seuntjie gebeur. Niks was ooglopend fout nie, totdat hul dit uiteindelik iets agtergekom het.Maar Hy het net 4 daggies gelewe.
Dink aan julle En bid dat julle harte rustig sal word….

Anel Griffiths ·

My hart breek vir de ouers dit is so tragies as ouers hulle kinders aan die dood moet afstaan. My dogtertjies is ook met ‘n hart probleem gebore, maar ons was baie gelukkig dat ons pediater dit opgetel het by geboorte. Sy het op 11 maande ‘n ope hart operasie gehad, en is gelukkig nou gesond. Een ding wat BAIE opvallend was in die hospitaal was hoeveel kindertjies daar was in ernstige kondisie want hulle hart probleme is nie opgetel by geboorte nie. Mense moet begin aandring dat babas se hartjies ook na gekyk moet word by geboorte soos daar na die longe ens gekyk word, dit kan dalk net een ouer paar baie hartseer spaar.

oumie ·

Ag Vader my hart breek in stukke RIP kleinman en so baie sterkte aan mamma en pappa

mel ·

Genade dis verskriklik hartseer, ek dink aan julle as sy ouers, koester al di Pragtige herinneringe, hy is in Gees by julle en veilig in ons Vader se genade. Mag jul vertroosting bring in hierdie hartseer tyd

Carin Hele ·

My skoonsus is Vrydag hospitaal toe en Sondagaand oorlede. Sy was blou van kop tot tone. Bloedvuris
Meningococolla decease……..dot is so onwerklik. So vinnig. Google dit mense dit is iets vreesliks

EvW ·

Geen woorde kan die seer wegvat wat hulle het nie maar met tyd verstaan mens net beter oor hkm….

cindi ·

Ai my niggie.. dit is baie hartseer kan nie glo julle moes daar deur gaan nie… my hart bloei vir jou dis moeilik om n kind teverloor.. ek lief julle

WeesWys ·

Liewe Coenie en Chantel
Ons oupa- en oumaharte huil vir julle en julle liefseuntjie. Ons ken nie die bitter van die pad wat julle nou stap nie, maar die foto’s van julle dierbaarste kleinman breek ons harte. Mag dit troos om te weet dat hy vir altyd júlle kindjie sal wees, en julle vir ewig sy éie liefpappa en mamma. Mag die grootste troos die wete wees dat hy veilig en sonder pyn by Jesus vir sy pappa en mamma wag. Ons bid met groot liefde vir julle vir genade op genade op genade in hierdie dae en elke dag wat kom.

Mariette Hammann ·

Die ergste wat enige ouer kan tref. Baie, baie sterkte en liefde.

Buitestander ·

Ons dra julle op aan God in ons bede.
Hoekom moes die ouers teken vir verassingm? Is dit nie bietjie baie gevra nie. Kan ‘n nadood se ondersoek nie help met ander sortgelyke gevalle nie?

estee ·

So pragtige seuntjie, jammer oor julle verlies. Mag die Here julle vertroosting wees. :'(

Sarie ·

Hierdie het my in trane en angs aanval. My seuntjie is in 2012 eers verkeerd gediagnoseer met mangelonsteking en 4ure later na ons terug gejaag het hosp toe het n dr doodsbleek geskree hul moet hom intibeer,menigitis met waterhouse ferdrieschen syndroom (die perskolle wat vrot word) is gediagnoseer,11 dae in koma 31 dae in icu,6 veloorplantings,3 hart stildande later het ons seun oorleef,dit is n Wonderwerk en ek dank elka dag die Here v daardie dr wat die kennis gehad het. Later gehoor hy was die enigste 4jarige wat daardie jaar die strain gekry het wat oorleef het. Mamma ,pappa ek bid v jul v genesing

Tinktinkie ·

Eks verheug vir julle EN terselfde tyd hartseer oor d gesin se groot verlies. Ekt nie woorde nie maar wel n vraag. Waarom sal God 1 klein mensie se lewe kort knip maar n ander sin laat aangaan? Hoe kies Hy. Is daar n antwoord wat troos kan bied?

Gerda ·

My innige meegevoel…!!!My Trane vloei vrylik oor julle pragtige mensies se Groot verlies en pyn….Ek dra julle op aanons Groot Hemelse Vader….

MissDemeanor ·

Dit is vreeslik hartseer. Ek dink ook dit is jammer dat hy verras is. Dalk kon hul nog verdere ondersoek gedoen het om uit te vind wat was fout… Ek voel vreeslik jammer vir hulle dat hul hul baba verloor het en sonder antwoorde sit

Johann ·

Ons het ses jaar gelede een van ons identiese tweeling seuntjies aan die dood afgestaan. Ek huil vanoggend van voor af toe ek na die foto’s kyk… Mag God nou en vir altyd met julle wees.

Dirk Botha ·

Hierdie is so hartseer. Mens verstaan nie hoekom gebeur die dinge nie. Jys n yster my maat en daai laatie sal altyd jou champion bly, niemand kan dit van jou weg vat nie

Marelise ·

My hart bloei vir julle. Ons klein lyfie is nou vier maande oud, ek kan nie dink hoe mens deur so iets moet gaan nie. Dis hartsverskeurend :(

treurgrond ·

God is met julle – met julle elke dag wanneer julle aan Juvan dink. Ek het ook my een tweelingdoggertjie verloor en dit is al 23 jaar terug en ek dink baie aan what could have been. My gebede en God se arms is om julle.

Liza ·

Liewe Vader hou U hand oor hierdie ouers wat deur die seerste seer ooit moet gaan. Sterkte aan die mamma en pappa, my hart huil saam hulle!

Elize Botha ·

Ouma sal jou nooit vergeet nie jy het die geveg, geveg so ‘n sterk fightertjie. ons sonskynkind met jou liefie lyfie veilig in die engel se arms net te gou van ons weg geneem. Lief jou my klein mannetjie XXX

Ilse ·

Dis vreeslik hartseer. Die selfde ding het my vriendin oorgekom. Ok hospital toe want haar suurstof telling was laag en toe sit hulle haar regter been af onder die knieg en sy is kort daarna oorlede. Dit maak net nie vir my sin nie.

Johanna ·

Hartseer vir julle. arme kleinding wat so moes swaarkry. Veilig by God. ek het nie meer woorde nie.

Liefdeskind ·

Ja, daar is al te veel verslae wat bewys die goet is gemors.

Ansie Geldenhuys ·

Bitter seer en ontsteld. Ons kleinkind was 19 jaar oud en is 2 jaar gelede skielik oorlede. Die hartseer wolk omvou ons . Hierdie geval kan ons net die ouers sterkte toebid en verseker dat hy by sy Maker is. Ai, mens wil he die lewe moet gaan stilstaan tydens so ‘n tragedie. Bid vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.