Ouers vies oor naamsverandering van skool

Die Hoërskool DF Malan in Kaapstad. (Foto: Hoërskool DF Malan-webblad)

’n Nuwe, meer insluitende naam wink dalk binnekort vir die Hoërskool DF Malan in Kaapstad.

Hoewel daar nog nie op ’n nuwe naam besluit is nie, het talle lede van die skoolgemeenskap reeds te kenne gegee dat hulle nié ten gunste is van die verandering van dié skool, wat in 1957 geopen is, se naam nie. Dié ouers en oudleerders meen ’n naamsverandering sal uiteindelik aanleiding gee tot ’n verval van die skool se Christelike etos en diskriminasie teen Afrikaanse, Christelike leerders teweeg bring.

Die skool se beheerliggaam het die proses enkele maande gelede van stapel gestuur en sê daar is in oorlegpleging met lede van die skoolgemeenskap, wat leerders, onderwysers, ouers en alumni insluit, besluit om sekere aspekte van die skool se simboliek te hersien.

Volgens André Roux, beheerliggaamvoorsitter, is dié gesprekke in “goeie gees” gehou, met drie dinge wat duidelik uitgestaan het.

“Ons skoolgemeenskap is dit eens dat ons ’n skool is wat Afrikaans en moedertaalonderrig hoog op prys stel op ’n manier wat alle Afrikaanssprekendes in die gemeenskap dien, terwyl dit ook die meertalige vermoëns van ons leerders bevorder op ’n manier wat hulle in staat stel om in ’n multikulturele wêreld sukses te behaal.”

Roux sê voorts dat die hoërskool die tradisionele grense van die Afrikaanse gemeenskap wil deurbreek deur ’n insluitende skoolgemeenskap te wees waar alle Afrikaanssprekendes ewe welkom voel.

“Ons is ook ’n skool wat die Christelike etos van die gemeenskap erken en ondersteun terwyl ons leerders en ouers met ander godsdienstige oortuigings respekteer en insluit.”

Roux sê die skoolgemeenskap het aangedui dat hulle graag die skool se etos en identiteit wil uitbou en op maniere uitbeeld wat die gemeenskap kan inspireer en waarmee hulle beter kan identifiseer.

Verskeie oudleerders en ouers skop egter volstrek teen dié verandering vas en twee Facebook-groepe, “Behou DF Malan se naam” en “Trots DF Malan”, is vir dié doeleindes gestig.

Die groepe het gesamentlik meer as 1 000 ondersteuners.

Bern Rautenbach, ’n oudleerder en ouer van die skool, meen dat ’n naamsverandering net die oortjies van die seekoei is.

“Dié soort ding begin altyd met goeie bedoelings en mooi beloftes, maar ontaard baie gou in ’n volskaalse transformasie-agenda.

“Eers die naam, dan die wapen, dan die leuse, dan die skoollied en langs die pad val die Christelike etos weg. Alles onder die vaandel van inklusiwiteit, maar eintlik beteken dit daar word teen sekere kultuurgroepe gediskrimineer en vryheid van spraak word onderdruk.

“Die val van Afrikaans sal ook eindelik volg, asook openlike diskriminasie teen Afrikaanse Christenkinders terwyl standaarde en dissipline in duie stort,” sê Rautenbach.

Hy meen dat daar net met sowat 150 mense oor die naamsverandering oorleg gepleeg is, terwyl duisende die naam sal wil behou. Boonop, sê Rautenbach, was ’n naamsverandering aanvanklik nie eens ter sprake nie, maar bloot gesprekke oor die skool se toekomsvisie.

“Dit het nie gegaan oor die verandering van die skool se naam nie, maar oor die skool waaroor ons droom. Toe ons egter ons oë uitvee, verskyn die voorsitter in die media en maak die uitlating dat daar besluit is die naam moet verander.

“Al wat ons sê, is dat daar op ’n demokratiese wyse oor die naamsverandering besluit moet word.”

Roux sê die beheerliggaam is bewus dat ’n naamsverandering ongemaklikheid by sommige mense kan skep, maar dat hulle die proses as ’n “opwindende geleentheid” beskou.

“Terwyl ons erken dat dit ’n sekere mate van onrustigheid by die skoolgemeenskap kan meebring en by sommige selfs ’n krapperige gevoel kan laat, beskou ons dit eerder as ’n opwindende geleentheid om voort te bou op ons skool se sukses.

“Dít op ’n manier wat sal verhoed dat ons aandag voortdurend afgetrek word deur kwessies wat uiteindelik bitter min te doen het met die uitnemende onderwys waarvoor ons skool tereg deur die hele land bekend is.”

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer die proses afgehandel sal wees nie. Daar is ook nog nie voorstelle vir ’n nuwe naam nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Chris dupreez ·

Hoeveel van daardie mense weet wie DF Malan was. As mens oor n skool praat dan dink jy aan die skool nie aan sy naam of waar kom die naam vandaan nie. Die naam is n bysaak. Net so as jy van n persoon praat. Dit gaan oor die persoon of dan die skool en sy prestasies wat jy onthou , nie die naam nie. So los die skool se naam. Ten minste word daar nog Christelikheid aan gekoppel.

Elinette ·

Dr. Daniël François Malan was wel ‘n Apartheidstyd-leier en die land se 1ste Eerste Minister na die 1948-verkiesing waarin die NP skoonskip gemaak het, maar hy het ten minste iets BYGEDRA tot die samelewing en die land. As jy nie weet wie hy was nie, moet jy miskien maar weer SA Geskiedenis gaan leer. Almal verfoei Dr. Hendrik Verwoerd so (as stigter van Apartheid), maar eintlik was dit Dr. Malan wat Apartheidswetgewing begin en deurvoer het. Tog verdien hy om erken te word. Hoërskool D.F. Malan was nog ALTYD Hoërskool D.F. Malan. Een van die prestige skole in die Wes-Kaap en land. Hou op om verdekselste name van dorpe, stede, strate en skole te verander en konsentreer op dít wat werklik belangrik is: om SA weer terug te bring na die staat van ‘n ontwikkelde land waarna daar opgesien kan word!!!!

Cherokee ·

Veralgemening veroorsaak vele stryerye. Waar kom jy aan die feit dat ‘almal’ Hendrik Frensch Verwoerd’ verfoei? Dit is absoluut misgevat! Dr. Verwoerd het hom ook nie op apartheid beroep nie, maar op afsonderlike ontwikkeling, wat steeds ‘n edel gedagte is.

SjN ·

Bou jul eie en vernoem dit nat wat jul goed dinkl, los die bestaandes wat in elk geval verval onder jul beheer.

marius ·

Bern is heeltemal reg . Stuk vir stuk word alles afgebreek , en niemand doen iets daaraan nie . Elke ding wat Afrikaners as deel van hul lewenswyse beskou moet vernietig word . Roux is van die pad af . Dis die waarheid .

Elize ·

Dis so asof hulle dink dat naamsverandering die verandering sal meebring waarna hulle smag. Naamsverandering dui nie op verandering nie maar name word eerder gekoppel aan waarvoor daardie persoon gelewe of na gestrewe het.

Jessey ·

Ai toggie, nog ‘n naamsverandering, nog ‘n skool se identiteit daarmee heen, en raai wat, meeste plekke wat se name verander is, het verval. Oud leerders stel nie meer belang om betrokke te wees nie, hulle trots word weggevat. Die persoon na wie die plek vernoem is kan nie omgee nie, want hy is nie daar nie. Die wat kawansuis “offended” voel het geen idee van die waardes nie. k onthou nog hoe trots almal was op Hugenote Seunskool in Springs. Miskien moet Maroela ‘n paar fotos gaan neem van hoe die seunskool nou lyk teenoor hoe dit 30 jaar terug gelyk het en dan ‘n artikel skryf oor die normes en waardes van skole

Elinette ·

Ek het ‘n oplossing: die ouers wat nie saamstem met die verandering van die skool se naam, waardes, logo, haal hul kinders uit die skool, begin met tuisonderrig of skryf hul in by ‘n ander skool in die omgewing. Die oomblik wat die skool sien hul leerdertal verminder, sal hulle dalk hul besluit heroorweeg.

Marius ·

Wil julle nie sommer my naam ook verander nie , want dit is ook nie in lyn met die nuwe SA nie ??
Dink julle n naam maak die plek of gee die instansie ander waardes en normes ? Dit is tyd dat die mense begin groot word en aanvaar !!!

Harley Davidson ·

Hierdie is totale vertrapping van die Afrikaner se geskiedenis, bou ‘n nuwe skool en noem hom wat jy die behoefte het maar los die skool in vrede.

Frederik C ·

Beter dat die Wes Kaap afstig. Dan kan ons vir Roux Limpopo toe verban. Dis waar hy hoort.

Andre ·

So beteken dit ook dat alle mense genaamd Jacob ook skelms en skurke is?

Cecilia ·

As jy as ouer nie vd skool se naam hou nie. SIT JOU KIND IN N ANDER SKOOL! Laat d ANC dan vir jou n skool bou wat jy d naam kan gee v een of ander useless ANC veteraan se naam drae!
D skool se naam het NIKS met appartheid of diskriminasie te doen nie Naams verandering gaan nie skielik jou kind laat presteer nie!

Vernon ·

Stem saam. Bern is heeltemal reg met sy stellings,dit sal n geleidelike val wees. Dit begin met klein stappies. Die Beheerliggaam mense wil maar net hul aansien behou ,want oor n jaar of wat is hul kinders nie meer daar nie en dan voel hulle n veer. Sodra jy tale meng..is dit n gemors en die skool se tradisies is weg .

Sarel ·

Hier is kans vir die Ouers om ‘n voorbeeld aan die
Leerders te stel

Malan ·

Julle het vir André Roux en meelopers gekies. Julle sal maar mou die gelag moet betaal. Weet hierdie beheerliggaam nie dat die naam maar net die begin is nie? Waar was julle die laaste 25 jaar?

JohanR ·

Soe in soe 50 jaar se tyd sal Winnie Mandela weer Branfort word. Dis nou te se as die ANC oor 50 jaar ge #Voertsak het!

annie ·

… en die DA is tjoepstil hoewel die stemme van die ouers darem baie welkom is vir die party. Swak, swak DA. ‘n Regte draadsitterpary en as dit reeds te laat is kwaak-kwaak hulle kamma-bietjie…

Elinette ·

Nou wat het die DA te doen met iets wat ‘n SKOOLBEHEERRAAD se “transformasie-inisiatief” is, huh, my liewe annie?

Mariana ·

Roux en sy gevolg wat hierdie naamsverandering wil laat gebeur kan daar by Lesufi vir hulle gaan werk soek. Hy sal mal wees oor hulle. Julle moet die skool se naam uitlos, dis net soos om die geskiedenis te wil herskryf. Daar word te veel gepeuter aan die Afrikaans en christelike goed in die land. Wonder of die Roux ooit deel was van die skool en of sy kinders daar skoolgegaan het.

Alissa ·

Kan nie wag om die nuwe naam te hoor nie! Wonderlike nuus en die oorgrote meerderheid vd skoolkinders stem saam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.