Ouers vra ‘net gebede’ ná baba byna by dagsorg sterf

Klein Mienke (Foto: Facebook)

ʼn Egpaar van Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga is vas oortuig dat “die krag van gebed” hul ses maande oue dogtertjie weer volkome sal laat herstel nadat sy onlangs by ʼn dagsorgsentrum “by die dood omgedraai het” en tans in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal is.

Verna Rheeders Mulder het aan Maroela Media vertel sy en haar man, Ryno, het in dié stadium nét hul geloof om aan vas te klou in hul hoop dat hul dogtertjie, Mienke, weer sal herstel.

Mulder sê die egpaar, wat vir dieselfde sakeonderneming in Nelspruit werk, se donkerste nagmerrie het waar geword toe die dagsorgsentrum hulle op 25 Augustus met die nuus bel: Mienke is na die hospitaal gehaas.

Volgens die dagsorgmoeder het Mienke aan melk verstik en was sy geruime tyd sonder suurstof terwyl hulle haar na die hospitaal gehaas het.

“Die dagsorgmoeder het my histeries gebel. Toe ek die telefoon antwoord, het ek onmiddellik geweet iets is nie reg nie,” sê sy. “Sy het net gesê iets is fout met Mienke en ons moet kom voordat sy die telefoon neergesit het. My wêreld het inmekaargetuimel – ek het histeries begin skree en Ryno het na my toe gehardloop in my kantoor. Ons het in die motor gespring en na die dagsorgsentrum gejaag, maar sy was reeds na die hospitaal geneem.

Klein Mienke voor die ongeluk by die dagsorg (Foto: Facebook)

“Ryno het voor die hospitaal stilgehou en ek het ingehardloop. Die verpleegpersoneel het my na haar toe gevat, waar ek Mienke vir die eerste keer gesien het. My kind was dood. Daar was niks lewe in haar nie. Die dokters het vir my gesê hulle het hul bes probeer, maar ek het histeries aanhou gil: ‘Julle beste is nie goed genoeg nie!’ Een van die susters het my uit die vertrek geneem en gesê hulle sal aanhou probeer om haar hart weer te laat klop.”

Die mediese personeel kon sowat 15 minute later daarin slaag om Mienke se hart weer aan die gang te kry. Sy is aan suurstofmasjiene gekoppel en per helikopter na ʼn Johannesburgse hospitaal gevlieg omdat die hospitaal in Nelspruit nie die nodige fasiliteite gehad het om haar aan die lewe te hou nie.

Die egpaar het per motor na Johannesburg gereis.

“Dokters se nuus by ons aankoms by dié hospitaal was selfs meer verdoemend. Hulle het ná verskeie toetse gesê ons moet onsself voorberei dat sy gaan sterf en dat sy dit waarskynlik nie nog ʼn dag sal maak nie. Maar ons het geweier om op te gee – ons het gebid en God om genade gesmeek. Mense van reg oor die land het vir ons gebid en tot dusver het God haar vir ons gespaar,” sê sy.

Die mediese span is nog besig met die ondersoeke en die presiese omvang van haar mediese toestand is nog nie bekend gemaak nie. Dit is nog nie seker of sy permanente skade sou hê nie. Intussen is Mienke steeds op suurstofmasjiene, maar die egpaar glo gebede sal hul dogtertjie weer heeltemal laat herstel.

“Haar toestand is in dié stadium baie op en af. Die dokters wou nog nie ʼn prognose maak nie – hulle wil in elke geval niks vir ons sê tot sy wakker is nie. Sy het Dinsdag vinnig haar oë oopgemaak, en in my hart is dit ʼn goeie teken hoewel die dokters ons nie wil hoop gee nie. Ons glo egter in die krag van gebed, daarom hou ons net aan bid vir haar lewe. Ons vat dit dag vir dag, môre sal ons weet watter kant toe.”

Mulder sê die egpaar wil ander ouers én dagsorgpersoneel waarsku om voorbereid te wees op soortgelyke situasies en om te weet wat om in só geval van lewe en dood te doen.

“Mense moet ingelig wees. Hulle moet weet wat om in só situasie te doen wat dalk ʼn kind se lewe kan red of die moontlikheid van ʼn volkome herstel kan vergroot,” sê sy.

ʼn Facebook-blad is vir Mienke gestig om daagliks meer inligting oor haar vordering te gee. Vir meer inligting besoek Please pray for Mienke op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Lezhanne Hartwell ·

Mienke, pop. God het groot planne vir jou! Jy moet deur druk jong. Ons bid sterk dat God jou tenvolle gaan genees en dat jy sommer gou weer saam jou mamma, pappe en sussies tuis sal wees. Baie liefde aan julle elkeen en hou moed. God is in volle beheer.

Anneline L ·

Skatlam.. tannie bid vir jou ek glo dat jy ten volle sal genees. Maar ek wil vra nie vra nie iets sterker as vra.. smeek.. kyk weereens na jou dagmoeder? Gaan kyk op ongereelde tye wat daar aangaan.. het jou dagmoeder volgens wetgewing die nodige noodhulp kursusse gedoen? Is daar genoemsame toesig vir die aantal babas bv een volwasse opsigtiger vir elke 5 babas? Mammas dis julle verantwoordelikheid om seker te maak… ja ek weet ongelukke gebeur.. maar maak seker … dis jou stukkie goud daardie en niemand gaan jou stukkie goud as kosbaar en raar sien soos net jy nie.. gaan maak seker .. val ongereeld in.. kyk of jou kind se boudjies gebrand is.. vra as jou kind met n blou kol by die huis kom.. asb mammas ons kiddies is so kosbaar…

Johan ·

Miskien moet ouers eerder hulle kosbare kinders self grootmaak? Veral as hulle nog babas is wat nie eers ‘n jaar oud is nie?

Lee ·

Baie sterkte vir die ouers. Ons bid vir Mienke vir volkome herstel. God is Groot!

liefde ·

My hart gaan uit na julle, die mooiste liefde poppie. Ek bid vir die beste vir haar. Dit is enige dagsorg, skool, ouer, oupa, ouma se grootste vrees en dit kan met enige een gebeur. Dit is goed dat alles dagsorg sentrums en skooltjies ‘n noodhulpkursus doen, maar die verstik gebeur so onverwags en as hul net met ‘n ander 1 doek omruil intussen kan dit so slegte nadraai hê. Mens moet maar in hierdie tyd saamstaan, saambid en saam waak, dit is almal se pyn, eweneens ons wat hier lees , wat dit al beleef of gesien het self en naaste vriende. Dit bly hartseer en mens kan net liefde gee.

Gerrie Erasmus ·

Ek wil graag die vlg sê/vra: Dit is baie hartseer wat met Mienke gebeur het maar daar is baie ander kindertjies/ouers wat ook soortgelyke hartseer beleef. Ek wou net gou my kleinkind se speelmatjie regtrek wat ongeveer 2 sekondes geduur het en het hom in die stootkarretjie gesit en skielik hoor ek ‘n slag en het hy uit die waentjie geval met slegs ‘n knop op die kop en bietjie gehuil. In my geval was dit dus nie so ernstig nie, maar kyk net hoe vinnig gebeur sulke dinge. Ons bid vir Mienke en haar ouers, maar ook vir al die ander kindertjies/ouers wat dit al moes deurmaak, maar ons bid ook asb vir al die instansies wat die kindertjies versorg en oppas sodat hulle ook bystand en die regte insig kan ontvang om sulke hartseer te probeer voorkom. Sterkte aan julle almal en mag God sy beskermde hand oor julle almal hou.

Christine ·

Sy is die pragtigse ou kindjie, dankie Here ons aanbid ‘n Lewende Waaragtige Hemelse Vader, wat Alom teenwoordig is en by Magte is om elke gebed te verhoor, mag sy spoedig herstel, sterkte vir die Mamma en Pappa en familie

Go Mienke ·

Liewe klein Mienke, my gebed is dat jy sal aanhou veg. Aan jou ouers en groot ouers, vriende en familie, besoek klein Mienke soveel as moontlik, gesels met haar, die dagsorg ook, baie belangrik, dit is die stemme wat sy ken. Vryf haar handjies, armpies, beentjies en enige plek op die lyfie, stimileer haar soveel moontlik, die brein is ‘n fantastiese orgaan. Moenie dink omdat sy net toe oë lê dat daar geen funksie is nie, dit is wel eenvrou of eenman gesprekke, maar ek het al ‘n wonderwerk gesien gebeur. n Ma wat nooit ophou glo het nie, pluk vandag die vrugte.

Glo ·

Ons bid vir julle. Ons God en Vader is magtig. Laat sy wil geskied. Ons glo en vertrou hy sal vir Mienke volkome herstel. Ons hou aan bid vir haar en sterkte aan die ouers en dagmoeder. Dit kan nie maklik wees nie.

Heidi ·

Dit het met my kleinseun gebeur en ek het die lewe uit hom sien vloei. Gelulkig was my skoonsus hier en het vinnig ingetree en ons gewys wat om te doen in so ñ geval. Dit het weer gebeur, maar nou weet ons wat om te doen..

Joh 11:40 ·

En JESUS sê: “Het ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die Mag van GOD sien nie”.
Jes 41: 10 “Wees nie bevrees nie, want EK is met jou, kyk nie angstig rond nie, want ek is jou GOD, ek versterk jou, ek help jou en ondersteun jou met MY Regterhand”.

Marisa ·

My hart wil breek! Elke mamma wil haar eie kind grootmaak, maar die finansiële eise is oorweldigend. Sterkte aan die ouers.

Petro ·

Ek kan my lewe nie in dink sonder my dogtertjie nie. STERKTE. Ek hou julle in my gebede.

Jackie ·

Hou net aan glo sonder twyfel!!! Sy gaan heeltemal herstel!! AMEN

Alida ·

Jammer om te hoor en sterkte. N baba moet regop gehou word as hy bottel drink en nie le nie. Ek oordeel nie en weet nie wat het gebeur nie.

MARTIE ·

Al wat mens kan se is sterkte en ons glo sy sal ten volle herstel.

Myra ·

My gebede is met julle.
Here ons vra nou op U om U se hand oor Mienke te plaas sodat U die wonderwerk doen wat U op elke sekond doen, wees ook by ouers om hul sterk te maak sodat hul sonder twyfel aanhou glo.
Ons vra dat ons gebed verhoor sal word Amen.

Ruiter ·

Hoe hartseer. Ons ken die pyn….. Vandag is sy 8 jaar en serebraal gestrem. Niks kan jou daarop voorberei nie. Een van die swaarste swaar. Sterkte.

Tahlitia ·

Please share what to do on her facebook page. Awareness is so important.

Petro ·

Ek spreek lewe oor haar uit. Dankie God vir haar volkome genesing!

Doris ·

Mamma ek wil net vir jou sê hou aan bid en glo'” DiE JESUS WAT ONS DIEN KAN WONDERWERKE DOEN EN VOLKOME GENEES , AMEN.

dovaz ·

Mienkie jy is Jesus se engeltjie en Hy het jou nodig om vir Hom groot dinge te doen. Jy is Sy perel en Hy gaan jou gesond maak sodat jy ‘n getuienis vir Hom kan wees.
Mamma en Pappa-moed hou en moet nie jul oog van Jesus afhaal nie. Hy is die Groot Geneesheer.
?Ouers op hul kniee hou kinders op hul voete!?
Ons het klaar Mienkie en jul twee op ons gebed groep gesit gesit en glo dat die Here klaar die genesing gedoen het.
Mienkie jy is ‘n pragtige groot bruin oog pop word gou gesond!!
Jesus Liefde!

Lothar ·

Moet nooit vir God onderskat nie. Hy is nie verniet die Almagtige nie

Cindy de Bruyn ·

Mienke poppie ons bid vir jou en jou hele familie. Lewe Jesus sal jou toe vou in sy liefde en jou kosbare lyfie volkome herstel.

Janine ·

My hart het gebreuk toe ek die berig lees ek sal bid en bid op jou lewetjie poplap.. Jys kosbaar en mamma hul het die regte mind set want die Here is almagtig … Vinnig volkome herstel

Ricky Barnard ·

Daardie oop ogies is vol lewe❤️❤️❤️ Hoop mamma kan die lees. Ons laasjaar Oktober ook by dr. Bartlett gewees met ons kleinste. Ons bid vir Julle op die to walk on water (verdrinking groep) . Wil Graag in kontak kom met jou mamma ❤️❤️

Rika G ·

By die Vader is alles moontlik sterkte aan die gesin ek bid vir julle.

Erika ·

Mienke, vandag spreek ek lewe uit oor jou kleine liggaampie. Prys die HERE, AMEN. God is die GROOT GENEESHEER, by HOM is niks onmoontlik nie. My gebed vir hierdie pragtige dogtertjie is, dat GOD haar sal gesond maak, en haar sal spaar vir haar ouers. Vir die ouers wil ek sê, BLY IN GESPREK MET GOD. Moet nie julle oog laat dwaal van al sy goedheid nie. BY GOD IS NIKS ONMOONTLIK NIE. Liewe Jesus, raak U hierdie kleine lyfie aan, en maak haar ten volle gesond. AMEN

Niccy ·

Dankie Dierbare Heer vir haar genesing. Sterkte aan die ouers.

Jan ·

Genade deur gebed het my vrou onlangs lewendig uit hospitaal laat kom. Hou aan vra dat die wil van God sal geskied. As dit Sy wil is sal sy volkome herstel. Laat alles in sy hande en eer Sy Naam afgesien van wat Sy besluit is. Here laat u wil geskied. Amen

oumie ·

Die mooiste ding! Word gou beter, Kleinding. Kyk op, Pappa en Mamma. Ons vertrou.

Nelspruit ·

Dit is soooo mooi om te sien hoe almal saam staan in gebed vir die pragtige bruinoog poppie en haar ouers. Maar vandag vra ek nie… Vandag se ek DANKIE HEER dat U haar volkome gaan genees. Dankie dat U haar gaan genees sodat sy ook eendag haar storie kan getuig, en almal kan vertel hoe ALMAGTIG U IS! Waar meer as 2 persone in gebed staan daar is die Here teenwoordig en luister Hy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.