Ouers waak by seun (3) ná kameelperd hom trap

Finn Williams. Foto: Verskaf

Dr. Katy Williams (35), die vrou wat ernstige beserings opgedoen het nadat sy en haar driejarige seuntjie deur ʼn kameelperd op ʼn wildlandgoed buite Hoedspruit in Limpopo getrap is, is uit die hospitaal ontslaan.

Katy waak nou saam met haar man, dr. Sam Williams (36), by hul seun Finn se hospitaalbed in die Busamed Modderfontein-hospitaal in Johannesburg. Finn wys egter ook tekens van beterskap en sy arbeids- en fisioterapeut is gelukkig met sy vordering. Die neurochirurg wat Finn behandel het intussen gesê hy sal na verwagting tussen ses tot 12 maande se rehabilitasie moet ondergaan.

Katy kon vroeër, nadat sy van die hoësorgeenheid na ʼn algemene saal oorgeplaas is, die eerste keer vir Finn besoek sedert die voorval. Finn het vir Katy, wat vroeër die week verjaar het, geglimlag.

Hy word steeds in die hoësorgeenheid behandel, maar sal na verwagting binnekort na ʼn rehabilitasiesentrum verskuif word waar daar bepaal sal word hoe sy herstelproses verder sal verloop.

Finn se ouers is egter vol vertroue dat Finn met hul hulp ten volle sal herstel. Katy ontvang intussen steeds behandeling in die hospitaal hoewel sy ontslaan is en sal sy na verwagting later nog ʼn operasie moet ondergaan.

ʼn Familielid het die Williams-egpaar as ongelooflik toegewyde ouers beskryf wat al hul aandag aan hul seuntjie gee en soveel as moontlik tyd saam met hom deurbring. Die egpaar is egter ook as baie privaat beskryf, maar nederige mense wat ʼn groot liefde vir die natuur het.

Katy en Sam Williams. Foto: Verskaf

Die Williams-egpaar het hul dank teenoor die publiek uitgespreek en vir almal wat ʼn bydrae gemaak het nadat ʼn vriend van hulle ʼn skarefinansieringswebwerf op die been gebring het om die gesin te help met mediese onkoste en te verseker dat die ouerpaar by hul seun kan bly tydens sy herstelproses.

Die egpaar het ook hul hartseer uitgespreek oor die kameelperdkalf wat dood is nadat daar gepoog is om hom en sy ma na ʼn ander reservaat te verskuif. “Ons is so hartseer oor die kalf se dood. Ons verneem egter dat die verskuiwingspan alle veiligheidsmaatreëls gevolg het. Dit is sleg dat so iets kan plaasvind tydens selfs die mees noukeurig beplande prosedures.”

Die voorval het op 3 September in die Blyde Wildlife Estate sowat 15 km buite Hoedspruit gebeur, waar die gesin woon. Dr. Williams het gaan draf en toe hy omstreeks 18:00 terugkeer, het hy op die toneel, sowat 150 m van die gesin se huis, afgekom waar die kameelperd steeds besig was om sy vrou en seuntjie aan te val. Finn wag gewoonlik op dié plek vir sy pa om terug te keer wanneer hy gaan draf.

Sam kon die kameelperd verjaag. Katy en Finn is hierna na ʼn nabygeleë vliegveld gehaas waar die mediese span onverpoosd gewerk het om hulle te stabiliseer. Finn is eerste met ʼn ER24-helikopter na die Busamed Modderfontein-hospitaal geneem, gevolg deur sy ma in ʼn tweede helikopter.

Dit het later aan die lig gekom dat die kameelperd onlangs gekalf het en dat die aanwesigheid van haar twee maande oue kalf waarskynlik haar gedrag beïnvloed het.

Besoek die gesin se skarefinansieringswebwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ek is positief ·

Ek is baie positief oor jul seuntjie. Gee net baie liefde, aanraking, physio, geduld & geloof -hy sal die beste word wat klein Finn kan wees en as ek so lees tussen die lyne gaan dit dalk meer as 100% wees van wat hy voorheen was.

christa ·

Diere liefhebbers maar weet nie dat wild Wilde diere is nie.

Nita ·

As al die mense net wil besef. Ons land is gevaarlik. Die diere is wild en gevaarlik. Die mense is wild en gevaarlik. Gaan weg van hier as jy kan. Moenie hiernatoe kom, as jy dit kan verhelp nie. Toeriste gaan kuier in ander pragtige, beskaafde lande.

GM ·

Ek hoop die seuntjie herstel gou.
Ek kan net nie help om te dink dat almal hulself ‘troos’ aan die feit dat die korrekte prosedures tydens die verskuiwing, gevolg is nie.
Mense wil altyd oral bou en diere wild laat rondloop, want dit is so pragtig, en dan moet die dier dit ontgeld as daar ‘n insident is.
En hul praat van die seuntjie wat 150m van die huis af wag as sy pa gaan draf. Wag die ma saam, of het sy agterna gaan probeer help, en is toe ook beseer?

Regtigwaar! ·

Het jy die berigte gevolg om ten minste te weet wat gebeur het voordat jy die eiertjie lê? Ken jy die mense dat jy sommer so ‘n oordeel vel? Hoekom moet mense ALTYD ander afkraak? Probeer tog net ‘n bietjie positiwiteit – dalk skyn die son eendag dan vir jou ook. Dit is wonderlik dat hierdie ma en kind aan die herstel is na hulle beproewing. Sien dit raak en los die negatiwiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.