Ouers wat eie baba wil verkoop skuldig bevind

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Egpaar van Pretoria is Maandag skuldig bevind op ʼn reeks aanklagte nadat hulle verlede jaar hul eie baba, wat toe net ʼn paar maande oud was, verwaarloos, aangerand en vir ʼn skrale R500 wou verkoop het.

Die Pretoriase hooggeregshof het Wayne Loubser (36) en Justine Loubser (32) skuldig bevind aan kinderverwaarlosing, aanranding en versuim om ʼn kind se geboorte te registreer. Justine is ook skuldig bevind aan mensehandel.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die ouers aanvanklik in hegtenis geneem nadat hulle die kind aan ʼn vrou wat ʼn koswa in Booysens, Pretoria, besit, wou verkoop.

“Die vrou het die egpaar in Augustus verlede jaar ontmoet nadat Wayne vir kos gebedel het. Hy het die volgende dag teruggekom saam met sy vrou en kind. Die kind was op daardie stadium twee maande oud,” sê hy.

“Wayne het die vrou gevra vir R50 om vir die baba doeke te koop, maar sy het in stede daarvan haar skoondogter gestuur om die doeke te kry en vir hulle te gee. Die vrou het voorts vir die baba doeke en formulemelk gekoop.”

Dit het in die hof aan die lig gekom dat die egpaar by verskeie geleenthede individueel hul kind aan die vrou probeer verkoop het.

“Wayne het in November verlede jaar die vrou genader en R2 000 vir die baba gevra. Justine het toe weer die vrou gevra om haar kind teen ʼn bedrag van R2 500 te koop. Die volgende dag het Wayne die bedrag na R1 000 verminder, terwyl Justine dit met nog R500 verminder het.”

Nadat die egpaar vir dae lank die eienaar van die koswa geteister het om die kind te koop, het Wayne vir ʼn laaste keer gedreig om sy kind dood te maak indien die vrou hom nie by hulle koop nie.

Later dieselfde dag het Justine weer die vrou genader, dié keer sonder die kind. Sy het die vrou in kennis gestel dat sy die kind by die huis gelaat het omdat hy van die bed afgeval het.

Daar is later dieselfde dag met die polisie kontak gemaak en ʼn plan is beraam om saam met die koswa-eienaar te werk om die twee vas te trek.

“Dae later het die polisie R500 aan die vrou gegee en haar opdrag gegee om die egpaar se baba by hulle te koop. Justine het die geld by die vrou gevat en die baba aan haar oorhandig,” sê Mahanjana.

“Die polisie het onmiddellik die egpaar se huis binnegegaan, beslag gelê op die geld en die egpaar in hegtenis geneem.”

Die baba, wat toe skaars ses maande oud was, is na ʼn gesondheidsfasiliteit vir waarneming geneem. Hy is steeds in veilige sorg.

Wayne en Justine is sedert hul inhegtenisneming verlede jaar in polisieaanhouding. Hulle sal agter tralies bly tot 1 Februarie vir vonnisoplegging.

Baba erg mishandel

Die twee ouers het in die hof erken dat hulle nie die kind by binnelandse sake geregistreer het nie omdat hulle nie wou hê dat hy na hulle teruggespoor kan word nadat hy verkoop is nie.

Dit het ook later aan die lig gekom dat Wayne die baba se formulemelk gedrink het, terwyl die kind moes klaarkom met ʼn paar slukkies koeldrank.

Die egpaar het by verskeie geleenthede hul baba herhaaldelik aangerand, of by allerlei kuierplekke afgelaai terwyl hulle glo besope was.

ʼn Dokter wat die baba ten tyde van die twee se inhegtenisneming ondersoek het, het verskeie kneusplekke op sy kop, bors en regterarm gevind. Die kind het ook nie betyds die nodige inentings ontvang nie, glo sodat verpleegsters nie sy kneusplekke moes sien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Hennie ·

Sulke ouers het nie n reg op lewe nie….. verleentheid vir alles wat lewe.

ooknetmens ·

Here, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.
As ouer, was ek in my lewe nog nooit so ontsteld nie. Die enigste ding wat sin maak, is dat die ouers van hulle kop af moet wees van te veel dwelmgebruik. Die arme, arme kind.

Annelize ·

Onsteld? Ek is verby boosaardig kwaad! Ons het jare terug ‘n pap baba in pleegsorg geneem, uit net sulke haglike omstandighede, vandag die mooiste kind denkbaar. Ek sal moor vir hom. ‘n Baba is nie verdomde vuilgoed of iets wat aan jou skoen se sool vasgeplak het nie, dis ‘n klein mensie.
Goddank hierdie babatjie het op die ou einde in die regte hande geland, ek sidder om te dink wat sou gebeur het as die voornemende “verkopers” se pad met die verkeerde “kopers” s’n gekruis het. Onbevoeg is ‘n understatement, wens daar was wetgewing wat sulke mense dwing tot sterilisasie.

Racheltjie Debeer ·

Ek stem 100% saam. Daar is regtig baie paartjies wat smag na ‘n kind en glad nie kinders kan hê nie en dan is daar dié gemors wat duidelik onbevoeg is as ouers, maar kinders het.

SlinkseKoljander ·

Straatmense kan nie vir die kind sorg nie. Hopenlik sal die nou `n beter tuiste kry.

Skappie ·

Ai, Ai, hoekom het hulle in die eerste plek die kind gehad, as hulle nie na hom of haar kan of wil kyk nie. Die arme kind, hoop hy word nou in goeie ouers se sorg gelaat.

Anoniem ·

Mense wat nie in staat is om vir hulle kinders te sorg nie, behoort gesteriliseer te word sodra die eerste baba gebore word. Kinders verdien nie om mishandel te word nie.

Kiewiet ·

Onmenslik!!.. goeie mense sterf en sulke mense soos hierdie lewe!!

Wielspore ·

My dogter en skoonseun is al jare kinderloos en het al heelwat geld betaal om swangerskap te probeer bewerkstellig. In die berig het die man en vrou ‘n kind liefdeloos in die lewe gebring, hulle beskik nie oor die nodige ervaring en finansies vir ouerskap. Nou word die kind in ruil vir geld aangebied net om die geld te gebruik om hulle slegte gewoontes te befonds. Ek hoop van harte dat die kind in goeie sorg geplaas word en dat die ouers die nodige straf sal ontvang sodat hulle genoeg tyd sal hê om oor hulle swak optede te dink.

Sarel ·

Nie ” Ouers” nie.Deel van ongewensde Spesie wat.ons
Gemeenskap besoedel

Misky ·

Vir 9 maande groei daardie kleine, onskuldige babatjie in jou baarmoeder en jy bou reeds ‘n band. Hoe kan enige vrou nie daai kindjie lief hê met alles in haar en hom net wil beskerm nie. Die naam “ma” nie werd nie!!!!

VaalDonkie ·

Maar laat hulle dan maar die kind verkoop? Die weeshuise is nou nie juis die beste plek om in groot te word nie. Ek en my vrou het jare lank gesukkel om ‘n kind te kry en ek sou enige tyd R500 uitgehaal het en vorms ingevul het om daai kind wettiglik aan te neem en ‘n goeie huis te gee.

Misky ·

Ek dink die probleem kom in by die verkeerde hande so onskuldige kindjie kry en niemand sal eens weet as nie eens gerigistreer is nie

Irene ·

Ek hoop die 2 word vir lank toegesluit en dan voel ek die vrou aan wie hulle die baba wou verkoop het moes dadelik opgetree het. n Minuut langer in die hande van daai 2 monsters was n minuut te veel. Ek dank die Vader dat die baba nou veilig en versorg is.

Yvonne ·

Hoe wreed is die gemors nie…Here wees hierdie ou seuntjie genadig

Mariska ·

Siek man, Hulle moet toegesluit word en die sleutels moet weg gegooi word!!!! Daai arme klein kindjie

Belinda ·

Is beter as hul die kind verkoop as wat hul die baba langs die pad los of erger. Dink hy sou in elk geval beter af wees sonder ouers soos dit.

Mariana ·

As hulle hom nie wou hê nie of nie kon versorg nie, kon hulle die welsyn genader het, maar nee hulle het hom mishandel en toe aangebied asof hy ‘n sak aartappels op ‘n straatmark was, vir geld wat hulle binne dag sou uitrook of uitsuip of in hul neuse kon optrek. Sies, hulle moet sommer lank in ‘n donker gat gaan sit. Vuilgoed, geen verskoning of jammer gevoel vir hulle nie.

Charl ·

Hemel weet, waarom moet daar sulke mense wees ?? Maar toemaar, GOD slaap nie, gelukkig het iemand kopgehou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.