Ouers wil ander help ná dogter (12) se selfmoord

Anneke Mostert. Foto: Instagram

Anneke Mostert. Foto: Instagram

“Dit is nou vier maande ná haar dood. As ek terugkyk na die afgelope vier maande, weet ek nie hoe ons daardeur gekom het nie. Maar hier staan ons. Ek sou nooit kon dink dat ek een van my kinders aan die dood sou moes afstaan nie.”

Só sê Daan Mostert, pa van die 12-jarige Anneke wat in Julie vanjaar haarself met sy rewolwer doodgeskiet het. Maroela Media het vroeër berig hoe Anneke, terwyl haar ouers oorsee was, ʼn paar blokke weg van haar ouerhuis in Quellerina in Johannesburg gestap en haarself geskiet het. Langs haar het sy ʼn boks met briefies gelos waarin sy vertel het hoe sy by haar skool geboelie word.

Nou het Daan en sy vrou, Margha, besluit dat hul dogter se dood nie tevergeefs moet wees nie, maar aanleiding moet gee tot groter bewusmaking oor depressie by kinders en die uitwerking van boeliegedrag.

“Ons glo daar is ʼn groot mate van onkunde oor depressie by kinders en omdat ons self hierdeur moes gaan, wil ons graag die lesse wat ons hieruit geleer het aan ander ouers oordra,” het Daan gesê.

Hy verduidelik dat hy en Margha die Anneke Alert-veldtog begin het waardeur hulle groter bewusmaking oor hierdie kwessie wil skep. Hulle beplan om verskeie kenners by die veldtog te betrek en praatjies by skole te lewer om kinders te leer hoe om boeliegedrag te hanteer en tekens van depressie by hul vriende raak te sien.

Hulle wil anders ouers ook leer dat depressie nie noodwendig net by ʼn sekere tipe kind voorkom of ooglopende tekens soos humeurigheid of onttrekking uit sosiale situasies tot gevolg het nie. Dit kan soms baie meer subtiel wees, het Daan gesê. Die bekende skrywer, dr. Rodney Seale, is reeds by die veldtog betrokke en het ook sy jongste boek oor tienerselfdood aan Anneke opgedra.

“Anneke was tot die dag van haar dood ʼn doodnormale, borrelende, uitbundige kind. Tog het sy baie donker gedagtes gehad en uitgereik na haar maatjies en haar karate-afrigter, wat nie die tekens raakgesien het nie,” het Daan gesê. “Dit is die grootste les wat ons geleer het. Enige kind is ʼn potensiële slagoffer van depressie. Geen ouer moet ooit dink dat dit nie met hul kind kan gebeur nie. Enige kind kan in depressie verval.”

Volgens Daan het die gesin baie ondersteuning gekry sedert Anneke se dood. Hulle het ook verskeie hulpmiddels om hulle die verlies te help verwerk. Die egpaar het ook ʼn 20-jarige dogter en vyfjarige tweelingseuntjies.

“Dit bly maar baie moeilik om ʼn kind se dood te verwerk. Ons het sedertdien met ander ouers kontak gemaak wat ook ʼn kind aan selfdood afgestaan het en in ʼn mate is dit gerusstellend om te weet daar is ander ouers wat dieselfde deurmaak as jy,” het hy gesê.

“Ek het sedert haar dood ook baie navorsing gedoen en wyd gelees om die rouproses beter te verstaan en te begryp waardeur ons reeds is en wat nog vir ons voorlê. Ons gesin sal hierdie Desember met ʼn lang vakansie gaan om ons koppe skoon te kry en ’n bietjie rustigheid te ervaar. Maar dit sal nooit maklik word nie.”

Die webwerf van die Anneke Alert-veldtog word tans ontwikkel en sal binnekort beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ek was self ook daar ·

Sterkte vir julle. Die feesseisoen bring sy eie hartseer want dis wanneer mens jou kind erg mis. Ek weet waarvan ek praat en wens jul net seënwense toe.

Die lewe ·

Dis baie tragies as so iets gebeur, veral op so ‘n jong ouderdom. ‘n Mens sal nooit regtig weet wat hulle op daardie stadium gedink of gevoel het nie, maar as iemand nie meer wil lewe nie help behandel ook net so ver.
Mense stap uit ‘n Dr se kames of hospital na hoeveel weke en pleeg selfmoord. Ek se altyd as jy dit wil doen gaan jy dit doen maak, en niks en niemand gaan jou keer nie.

SNEL ·

Ek weet die berig van haar selfmoord was al geplaas, maar soos ek hierdie een lees wonder ek net weer, daardie boelies moet weet wie hulle is, hulle moet besef dis oor hulle doen en late wat sy nou nie meer daar is nie, ek wonder net of dit hulle ooit pla en of hulle aangaan asof niks verkeerd is nie. Dit maak my woedend as mense dink omdat ons almal nie dieselfde lyk, optree, talente en kennis het dat ons nou verdien om op getrap te word nie. Die kinderboekie; Jy is Spesiaal van Max Lucado, kom nou by my op met die berig. Die storie laat mens dink hoe ons veg om almal van ons te laat hou, terwyl ons spesiaal is net soos God ons gemaak het. Ons laat so vinnig wat mense dink en van ons sê op ons klou, maar om seer woorde af te gooi is nie maklik nie, veral nie as mens fyn besnaard is nie, en ander dink nooit hoe hul woorde deur murg en been kan sny nie. Ek wens skole wil ernstiger optree as kinders mekaar sleg sê, of as hulle negatiewe goed oor mekaar sê en selfs n geskinder moet hok geslaan word, maar onderwysers luister nie en maak kinders te vinnig stil as hulle met n klagte na hulle toe kom en daar word niks aan boelies gedoen nie. Dis iets wat regtig ernstiger na gekyk moet word in skole. As jy wil boelie moet jy tas pak en gaan, dit moet glad nie geduld word nie. Ek skryf hier en dit klink seker of ek iewers in my lewe geboelie was, maar nee, ek was nie, maar dis nou iets wat ek op my lysie van goed wat ek verpes kan skryf, boelies en mense wat neer kyk op ander en fout vind in ander.
Baie sterkte aan die ouers, mag die Here julle toevou en dra.

joey ·

My dogter ook verloor deur selfdood. Jy kom nooit oor dit nie. Seer wat nooit weg gaan nie. Feesgety is die ergste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.