Oues, gestremdes ly weens foutiewe kragrekening

[Foto: Facebook]

Die bestuur van Kwaggasrand Reddingsdaad in Danville, Pretoria-Wes, is moedeloos oor gereelde kragonderbrekings wat die inwoners se lewens ontwrig. Die onderbrekings is weens ʼn dispuut met die Tshwane-stadsraad oor onakkurate meterlesings.

Kwaggasrand Reddingsdaad is ʼn plek van versorging vir bejaardes en gestremde mense wat geen ander heenkome het nie. Hierdie is ʼn nie-winsgerigte gemeenskapsprojek van die Afrikaanse Toekomstrust (ATT). Die fasiliteit berei ook kos voor vir haweloses in die gemeenskap en dra kos by vir die plaaslike sopkombuis.

Volgens Gerhard Erasmus, regs- en administrasiebeampte van die ATT, het die krag Vrydag afgegaan en die inwoners het teen Dinsdagoggend steeds sonder elektrisiteit gesit. Dit is kwansuis omdat die sentrum aan Tshwane geld skuld. Die sentrum voer egter aan die kragrekening is nie akkuraat nie en weier om te betaal voordat die rekening gewysig word met die regte bedrag.

“Die vrieskaste met kos loop af en die bejaardes en gestremdes by die fasiliteit is oorgelewer aan hul eie genade. Dit is gevaarlik vir die inwoners om in die donker te bly. Hulle moet in die aand toilet toe loop, wat buite die Wendy-huisies, waar hulle woon, geleë is. Die bejaardes sukkel om te loop en sukkel nog meer in die donker,” sê Erasmus.

Die onderbrekings het ʼn finansiële impak op die bestuur en beïnvloed ook die inwoners se moraal.

“Die bestuur doen alles in sy vermoë om die probleem te bestuur, maar sonder behoorlike hulp en kommunikasie van die Tshwane-stadsraad is ons hande afgekap,” sê Erasmus.

Die fasiliteit beskik ook nie oor ʼn kragopwekker nie en het nie die nodige finansies om een te koop nie. Die bestuur is afhanklik van donasies.

“ʼn Kragopwekker is ook net ʼn tydelike oplossing. Ons kort ʼn permanente oplossing.”

Volgens Erasmus is die Tshwane-metro se kragmeter by die fasiliteit al vir byna ses jaar stukkend en die munisipaliteit “skat” maandeliks die fasiliteit se kragverbruik. Die krag is intussen al verskeie kere afgeskakel.

Volgens die munisipaliteit skuld die fasiliteit hulle al ʼn halfmiljoen rand, maar Erasmus sê die metro het jare laas die fasiliteit se kragverbruik gemeet. Die fasiliteit erken hy is geld verskuldig aan die munisipaliteit, maar versoek die munisipaliteit om eers die presiese bedrag te bepaal voordat hulle sal betaal.

“Reddingsdaad het vir lank R 10 000 per maand aan die munisipaliteit oorbetaal ondanks die probleme met die meter. Ons kan egter eers betaal wanneer ons weet wat die werklike kragverbruik is.”

Erasmus sê die bestuur se versoek dat die munisipaliteit ʼn nuwe kragmeter installeer en die krag dan akkuraat meet, val al vir jare op dowe ore.

“Ons het al hordes briewe vir die stadsraad gestuur, maar hulle trek net skouers op. Hulle verwag ons moet die probleem regmaak.”

Volgens Erasmus mag die munisipaliteit in terme van art. 102 van die Munisipale Stelselswet nie die krag afskakel nie. Dit is omdat daar ʼn dispuut in terme van hierdie artikel verklaar is wat die munisipaliteit verbied om die dienste te beëindig totdat hulle die probleem regstel.

“Hulle doen egter net wat hulle wil.”

Maroela Media het Maandag ʼn navraag aan Tshwane-metro gerig, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

As ek mnr Erasmus kan raad gee, moet hulle die munisipaliteit gaan sien by 373 Pretorius straat betreffende die problem,aangesien die meter al vir so lank buitewerking is.Briewe stuur gaan nie help nie of bel die munisipaliteit op die nommer 012- 358 9999 en luister na opsies sodat ‘n oudit van die meter gedoen kan word.

pompies ·

Seker weer iemand wat n pakkie onder die tafel deur wil kry, voordat enige werk aan die meter en rekening gedoen sal word. Nou ja wat se die DA nou, dit is oumense wat onder julle lei omdat julle ook nie julle werk wil doen nie.

koos ·

Hier in my tuisdorp is die DA die amptelike opposisie, en ons stadsraad is tegnies bankrot sedert Mei hierdie jaar. In die belang van “goeie verhoudings” weier die DA om stappe teen die anc stadsraad te neem, terwyl dit genoem word dat ons nou in dieselfde gemors as Emfuleni is. Dus, die bestuur van Kwaggasrand Reddingsdaad moenie op politieke partye reken om hulle tot hulp te snel nie. Eers oor twee jaar sal daar weer beloftes gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.