Oues, siekes sonder krag in Nigel

Kriminele het boute en moere – wat dié 30 meter hoë kragmas regop hou – gesteel. (Foto: Verskaf)

Inwoners van Nigel sit al sedert Sondagmiddag sonder krag nadat kragtoevoer na die dorp onderbreek is toe ʼn kragmas omgeval het – vermoedelik omdat boosdoeners met dié mas gepeuter het.

Dié onderbreking ontwrig omstandighede vir siekes en bejaardes, kos word sleg in winkelyskaste en skoolkinders moet by kerslig leer vir die eksamen.

Inwoners is uiters gefrustreerd met die munisipaliteit wat glo sloer om die probleem op te los. Talle sakeondernemings moes hul deure sluit en plaaslike klinieke kan slegs beperkte dienste lewer. Volgens die munisipaliteit kan dié toedrag van sake boonop tot einde volgende week duur.

Die krag het Sondag omstreeks 16:30 afgegaan nadat die kragmas omgeval en die kragtoevoer na die dorp afgesny is.

Volgens Wollaston Labuschagne, DA-wyksraadslid in die Ekurhuleni-metro, het kriminele boute en moere – wat dié 30 meter hoë kragmas regop hou – gesteel.  Die gewig van die kabels en spanning het veroorsaak dat die mas eindelik omgeval het.

“Daar is ook nie alternatiewe kragtoevoer na die dorp beskikbaar nie. Dit is weens die munisipaliteit se skynbare versuim om oor die jare die infrastruktuur te onwikkel en te verbeter. Die munisipaliteit het ook nie kontrakteurs of planne gereed vir wanneer ’n situasie soos dié een voorkom nie,” sê Labuschagne.

“Dit is weer eens ’n bewys van infrastruktuur wat ten gronde gaan weens ʼn gebrek aan instandhouding deur die munisipaliteit.”

Volgens Labuschagne het die munisipaliteit nou kontrakteurs geïdentifiseer om die herstelwerk van die mas te onderneem en beoog hulle om binne die volgende 48 uur met herstelwerk te begin. Die herstelwerkprojek kan egter so lank as tien dae duur.

“Die dorp verkeer tans in ’n noodsituasie en indien die munisipaliteit nie gou gaan ingryp nie, kan dit in ’n ramp ontaard,” sê Labuschagne

Die kerse en kos raak op

Verskeie inwoners van Nigel het aan Maroela Media vertel dat talle ondernemings in die dorp weens die kragonderbreking gesluit is. Van die kruidenierswarewinkels wat wel oop is, se yskaste werk nie en inwoners kan dus nie kos koop nie. Volgens Labuschagne het dit ’n groot impak op die dorp se ekonomie.

An du Plessis, ’n inwoner van Nigel, sê sy kry nêrens in die dorp kerse te koop nie. By die algemene handelaar waar daar wel kerse beskikbaar is, kan sy nie met ’n kaart betaal nie omdat die kaartmasjien nie werk nie. Sy kan ook nie kontant trek nie omdat die ATM’s ook af is.

Van die inwoners wat sonder ’n kragopwekker moet klaarkom, sit met groot skade omdat die kos in die ys- en vrieskaste begin vrot.

’n Ander inwoner vertel haar gesin is wel geseënd met ’n kragopwekker, maar hulle moet ongeveer R260 per dag opdok om petrol daarvoor te koop.

Mense raak siek, skole sluit

’n Inwoner het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media vertel sy kan nie haar tienjarige seun wat ’n asmalyer is van stoom voorsien nie. Sy vertel omdat hy by die dag sieker raak, kan hy ook nie meer skool toe gaan om toetse te skryf nie.

Dié inwoner se 60-jarige ma, wat in ʼn woonstel in Nigel woon, is ook siek omdat sy in koue water moet bad en nie ’n gasstoof besit nie.

Talle bejaardes wat van suurstof afhanklik is, ly ook onder die kragonderbreking.

Volgens Reinette Scholtz, nóg ʼn inwoner, sit een van die dorp se laerskole ook sonder water. Dit is omdat die reservoir wat water aan die skool voorsien, nie sonder krag die water na die skool kan pomp nie.

“Die leerders gaan skryf hul eksamenvraestelle in die oggende en gaan dan weer huis toe,” vertel Scholtz.

Die inwoners kla dat die kragonderbreking ontwrigtend is vir die kinders wat nou eksamen moet skryf. Hulle het nie internet vir hul leerwerk nie en hulle moet by kerslig sit en leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Werner ·

Dit is net die begin onbewkaam en bee our people los die beste vir laaste

Kokerboom ·

Dit gaan net my verstand te bowe dat inwoners/ belastingbetalers die status quo netso aanvaar? Rerig

Jakkie ·

Ons aanvaar dit nie, maar wat moet ons doen, toi toi of bande brand? Of het jy dalk ‘n ander oplossing?

Judy ·

Kokerboom, ons aanvaar dit nie. Ons kan toi toi en bande brand maar waar gaan ons opeindig hmmmm? Dink voor jy praat kokerboom…..

Kakamiet ·

Nog n Paar punte weg vir die anc. Ek is so bly hulle pad is amper op n end. Mense moet maar nou saam staan en strategies hul stemmed vir die DA leen met nou se verkiesing soda die municipaliteite uit anc se hande kan kom. Ja die ander party raak Meer maar realiteit het ons 1 groot oposisie wat so ver alles reg kry. Ons sal moet so saam staan tot die volgende verkiesing 2024

JM ·

Hierdie boewe wat die diefstal gepleeg het, behoort van hoogverraad aangekla te word. Hulle is absoluut gewetenloos.

Saartjievandiebosveld ·

Alles waaraan die mense vat…verander in ‘n ramp

Keith ·

Ons is nou erger as n’ 3de wereld land. Seker nou al n’ 4de wereld land.

Leonard ·

Stem saam!
In Australië word mense BEBOET wat nie op sypaadjie loop.
Straatlopers!!

Alet ·

Ons het twee weke terug 4 dae sonder krag gesit. Dit is uuters frustrerend. En skelms loop so in die donkerte

Ovelia ·

Miskien mut die wittes en swarte en bruinmense die rasse ding omdraai die verdagtes en krimmenele mut nou deur die nie bevoiregtes on sulke sake opstaan. Wat ht die kriminele nog vir die land beteke??

Keelvol ·

Ek weet presies hoe die mense van Nigel voel. Ekurhuleni munisipaliteit sleep hulle voete wanneer dit by die krag krisis kom. Daar word geen plan van aksie inwerking gestel om dit te bowe probeer kom. Jy is gelukkig as die krag binne n uur weer aan kom.

Judy ·

Dit is frustrerend, ons het wel n krag opwekker maar dit kos R338.20 per dag om hom te laat loop. Wat van die mense wat nie het nie. Dan sloer hulle nog om aan die gang te kom. Dis pateties.

#013 ·

Hul is besig om vir tyd te speel. Wil jy vir my se hul het nie Maandag al geweet hul moet toestemming kry van die land eienaars nie? As daar al Maandag aan die probleem begin werk is was alles in plek. Dis omdat mense in poste is wat nie weet wat hul doen nie.

Samuel ·

Cyril sal weer grootoog en heel verbaas lyk/klink as hy hiervan hoor. En die people gaan sowaar weer vir die cANCer stem.

Skillie ·

Maar die meerderheid trek nog steeds hul kruisie agter die cANCer

Danie ·

En so val die goed om kort kort jaar na jaar.
Maar niemand het die sense om daaraan te dink om die boute en moere vas te sweis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.