Ouetehuise in Wes-Kaap moet sluit weens Covid-19

(Foto verskaf deur CPOA aan ANA)

Die Covid-19-pandemie het die Kaapse skiereiland se organisasie vir bejaardes (CPOA) finansieel só hard getref dat hy drie van sy tehuise se deure moes sluit.

Inwoners in omliggende gebiede is ontstoke en gemeenskapsleiers het Maandag verskeie stille betogings gereël buite die CPOA se fasiliteite in Bonteheuwel, Bishop Lavis en Heideveld. Die betogers is vasbeslote om te verhoed dat die tehuise sluit, het gemeenskapsleier Moerieda Moerat aan die African News Agency (ANA) gesê.

“Talle van die bejaardes is swak, blind, gestremd en het sielkundige probleme. Ons het probeer om die situasie met die bestuur te bespreek, want ons wil weet of die families in kennis gestel is,” het sy gesê. “Volg hulle Covid-19-protokol wanneer die inwoners geskuif word? Het hulle met die gemeenskap in gesprek getree waar hierdie seniors deel word van ons lewens? Mens kan nie net namens hierdie persone besluit om hulle te skuif nie.”

CPOA sê die pandemie het ʼn ernstige finansiële impak gehad op die niewinsgewende organisasie, insluitend bykomende koste vir persoonlike beskermingstoerusting vir al sy fasiliteite, streng ontsmettingsvereistes en ʼn verlies aan inkomste. Die organisasie moes sy bedrywighede hersien.

Oakhaven Place (Foto verskaf deur CPOA aan ANA)

“Die CPOA het besluit om drie van sy vyf welsynshuise te sluit,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Die besluit is nie ligtelik geneem nie, maar die voortgesette druk weens die Covid-19-pandemie het dit baie duidelik gemaak dat dit finansieel nie volhoubaar is om vyf sub-ekonomiese tehuise met ʼn gekombineerde jaarlikse tekort van R33,5 miljoen te bedryf nie.”

Alhoewel die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling oor die jare heen subsidies verskaf het, beloop gesamentlike verliese vir die CPOA se tehuise die afgelope 10 jaar reeds R265 miljoen.

Die huise wat gesluit word, is Nerina Place in Bishop Lavis, Lily Haven Place in Bonteheuwel en Oakhaven Place in Heideveld. Al dié tehuise is in hoërisiko-misdaadgebiede en hou ʼn bedreiging in vir personeellede en inwoners.

Volgens die CPOA het hy kontak gemaak met die families van die betrokke inwoners deur ʼn brief wat op 7 Desember uitgestuur is. Verplegingsbestuurders en departemente van maatskaplike welsyn is voortdurend in kontak met die families, alhoewel daar in sommige gevalle nie kontak gemaak kon word met naasbestaandes nie, omdat familielede nie opgespoor kon word nie of omdat familielede nie reageer het op die korrespondensie nie.

“Die proses het nou begin om in gesprek te tree met die 300 betrokke inwoners en hul families. Behoorlike berading sal deur die CPOA- departement van maatskaplike welsyn verskaf word en alle inwoners sal in die oorblywende CPOA-tehuise opgeneem word,” het die organisasie bygevoeg.

Die organisasie is bereid om die persele van die drie tehuise, wat gesluit gaan word, insluitend meubels en ander inhoud, te skenk aan nieregeringsorganisasies sodat dit steeds as outehuise of vir ander welsynsdienste gebruik kan word.

“Ons besef dit is ʼn moeilike besluit, maar ons wil hierdie geleentheid gebruik om die CPOA se toewyding tot welsyn te bevestig,” het uitvoerende hoof dr. Michael Zipp gesê. “Die maatskappy sal steeds sy ouetehuise by Erica Place en Lotus River Place bedryf, bestuur en finansier. Dié twee tehuise het saam 200 beddens vir verswakte bejaardes en is albei geleë in gebiede waar misdaadvlakke laer is.”

Vyf inwoners sal per keer na alternatiewe fasiliteite oorgeplaas word om ʼn gladde oorgang te verseker en die proses sal na verwagting eers aan die einde van die jaar afgehandel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Nou waarheen gaan hulle nou met die bejaardes? Sal daar nòg sluit? Wat sê ‘our people’ se pres en dept. Tjoepstil?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.