Oujaarsongeluk eis 5

Foto verskaf deur SAPD Limpopo

Vyf persone is dood toe ʼn motor en ʼn petroltenkwa op Oujaarsaand op die N1 suid van Polokwane (Pietersburg) gebots het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die ongeluk het omstreeks 20:30 plaasgevind. Vier persone is op die toneel dood en ʼn vyfde persoon het ná middernag in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Al vyf die oorledenes het in die motor gery.

Die petroltenkwa het ná die botsing aan die brand geslaan en die bestuurder het brandwonde opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Hy was alleen in die vragmotor, het Mojapelo gesê.

“ʼn Kia-motor met vyf insittendes het na bewering skielik in die aankomende baan inbeweeg en met die petroltenkwa gebots. Die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.”

Die polisie ondersoek ʼn klag van strafbare manslag. Die oorsaak van die ongeluk sal tydens die ondersoek bepaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.