Oukersdag-moord: Man erken skuld vir sy aandeel

Dion Dumas

Een van die ses beskuldigdes in die moord op Dion Dumas het in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuld erken vir sy aandeel aan die misdaad.

Mzwondeleli Dasheka (32) het ingevolge ʼn pleitooreenkoms met die staat skuld erken op aanklag van roof met verswarende omstandighede. Hy het erken dat hy deur sy vyf medebeskuldigdes genader is om Dumas se gesteelde motor te koop.

Dumas, ʼn polisiebeampte verbonde aan die Malmesbury-polisiestasie, is op 24 Desember die laaste keer gesien toe hy ʼn geskenk by sy ma se dokter se huis gaan aflaai het. Dumas, die bekende sangeres Jennifer Zamudio se neef, se liggaam is op 27 Desember in Atlantis, noord van Kaapstad, gevind.

Dit het tydens die hofverrigtinge aan die lig gekom dat Dumas die dag van sy verdwyning reeds dood is nadat hy oorval en met ʼn mes gedreig is. Hy is vasgebind, gesleep, versmoor en verwurg. Hy is van geld en sy BMW beroof.

Dasheka is tot drie jaar tronkstraf gevonnis as deel van die pleitooreenkoms. Hy is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Dasheka het in die pleitooreenkoms erken die ander vyf beskuldigdes het op die dag van die moord na sy huis in Atlantis gekom en hom gevra vir hulp om die BMW te verkoop. Volgens Dasheka het hy vir een van die beskuldigdes gevra wie se motor dit is waarop die beskuldigde gesê het dit is syne. “Ek erken dat ek vermoed het die motor is dalk gesteel aangesien ek die beskuldigde baie goed ken en geweet het hy het nie ʼn motor nie.”

Dasheka het saam met die ander vyf beskuldigdes na Khayelitsha gery om die motor te probeer verkoop. Dasheka het erken hy wou deel in die opbrengs van die verkoop van die voertuig aangesien hy kommissie sou ontvang.

Volgens Dasheka kon hulle nie daarin slaag om die motor te verkoop nie en het dus teruggery na Atlantis waartydens een van die beskuldigdes erken het die motor is gesteel. Hulle is terug na Dasheka se huis waar almal oornag het. Een van die beskuldigdes het Dasheka gevra om vir sy ouers te sê die voertuig behoort aan hom. Dasheka het ingestem en die beskuldigde se ouers ook gevra of hy die motor by hulle kon parkeer.

Dasheka se vonnis is versag aangesien hy ʼn eerste oortreder is, twee kinders het, skuld erken en berou getoon het. Hy was ook reeds 10 maande in aanhouding en het nie die hof se tyd gemors nie.

Lees alle vorige berigte oor Dion Dumas op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HENNA ·

Skokkend 3 JAAR !!!! het 2 kinders maar dit is moord ? ‘n Liewe mens is vermoor.

Veritas ·

Lees weer. Hy het niks met die moord te doen gehad nie. Hy het hulle slegs gehelp om die kar te probeer verkoop.

At ·

Geen respek vir enige manteldraer in hierdie patetiese land nie. Al wat hul doel is, is geld te melk en skuldiges as engeltjies te laat lyk. Gaan vee strate en word wys!!

Joker ·

Ag dit is ‘n joke, so kom moordenaars en mense wat saam met moordenaars gewerk het of skotvry of met die minimum tronkstraf weg. Laat gaan hulle maar almal, lyk nie of hier ‘n misdaad gepleeg is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.