Oulike grapjas se dood nie verniet, glo ouers

KLein Dehun was die oulikheid vanself, vertel sy pa. Foto: Facebook

“Ons seuntjie het twee en ʼn half jaar geleef en toe op sy sterfbed mense wêreldwyd op hul knieë saamgebring en in gebed verenig.”

Dit is ʼn gesin van Windhoek se troos nadat hul jongste seun, Dehun de Wet, vier en ʼn half dae lank in ʼn doodstryd gewikkel was nadat ʼn sebraslang hom Woensdag in sy bed gepik het.

“God vat die slegte en maak dit goed,” het sy pa, Louw de Wet, Dinsdagmiddag telefonies uit die Namibiese hoofstad aan Maroela Media gesê. “God het Dehun gebruik en die wêreld op hul knieë te laat sak en hulle bymekaargetrek, ongeag hul geloof of agtergrond.”

Hy vertel dit was bitter moeilik vir hom en sy vrou, Denené, om tydens hul jongste se verbete oorlewingstryd te sien hoe “sy liggaam vernietig word, al het sy niere nog gewerk en dit ons hoop en geloof gegee het” dat die dapper kleinman teen die verwagting in sou oorleef.

De Wet vertel hy was Woensdagaand omstreeks 21:00 alleen tuis in die woonbuurt Elisenheim saam met Dehun en sy ouboet, SJ (4), terwyl sy vrou hokkie geoefen het. Kort nadat hy die seuns in die bed gesit het, het hy ʼn gil uit hul slaapkamer gehoor.

Ek het eers gedog dit was ʼn nagmerrie. Ek het hom opgetel en sy gesiggie verwoed begin vryf, maar hy wou nie getroos word nie.

“Toe ek uit die sitkamer in die gang kom, het Dehun begin skree. Ek het eers gedog dit was ʼn nagmerrie. Ek het hom opgetel en sy gesiggie verwoed begin vryf, maar hy wou nie tot ruste kom nie.”

Dit was toe dat sy pa die ligte rooi swelling aan sy oogbank sien. “Hy het vreeslik geskreeu. Ek het hom neergesit om sy beddegoed uit te skud en te kyk of daar nie dalk ʼn spinnekop op sy bed lê nie, maar ek kon niks sien nie.”

Toe De Wet weer by sy seuntjie kom, was sy oog erg opgeswel. “Ek het sy broer gekry, hulle albei in die kar gelaai en met hulle hospitaal toe gejaag.”

Terwyl sy in sy kamer besig was om ʼn paar goedjies bymekaar te kry, het sy iets in die gang vir haar hoor blaas.

Uit die ongevalle-eenheid het De Wet sy vrou gebel om te sê sy moet ʼn oornagtassie vir Dehun pak, want hy sou in die hospitaal moes bly sodat hulle kon vasstel wat hom gebyt of gepik het.

Terwyl sy in sy kamer besig was om ʼn paar goedjies bymekaar te kry, het sy iets in die gang vir haar hoor blaas.

“Ek het al baie slange vir mense gevang en doodgemaak,” vertel De Wet, “maar dit was die eerste keer dat ʼn sebraslang, wat baie hier voorkom, op ons erf kom, al woon ons teen ʼn berg en langs ʼn rivierloop.”

Sy vrou het die slang in die stort ingejaag sodat sy hom daar kon toemaak, maar hy was te groot om ʼn emmer oor hom te sit. Sy het dadelik haar man gebel om te sê sy het dit as ’n sebraslang herken.

Gewoonlik word die deel van jou lyf geamputeer waar só ʼn slang jou byt, maar omdat hy Dehun op sy oogbank gepik het, moes ons sit en wag en hoop die liggaam kry die gif uitgewerk.

“Toe ek hoor dis ʼn sebraslang, het ek dadelik geweet ons het ʼn baie groot probleem, want daar is geen teengif nie.

Dehun de Wet

“Gewoonlik word die deel van jou lyf geamputeer waar só ʼn slang jou byt, maar omdat hy Dehun op sy oogbank gepik het, moes ons sit en wag en hoop die liggaam kry die gif uitgewerk.”

De Wet vertel hy en sy vrou het net ʼn paar mense na aan hulle laat weet wat gebeur het en gevra dat hulle vir Dehun bid. “Van daar af het die ketting begin loop en gou het mense wêreldwyd vir hom gebid. Waar daar ʼn rokie is, is ʼn vuurtjie, en waar ʼn vuurtjie is, begin ʼn veldbrand.”

God het ons seun gebruik om mense op hul knieë te bring,” glo De Wet. “Ons kind het ʼn doel gehad om mense weer te kry om te bid.

Hy weet self nie mooi hoe dit gebeur het nie, maar gebedsgroepe is oral gevorm. Groepe mense het selfs by die hospitaal opgedaag om vir Dehun te kom bid. In sommige gevalle het mense in gebed verenig en 24 uur aaneen gebid.

“God het ons seun gebruik om mense op hul knieë te bring,” glo De Wet. “Ons kind het ʼn doel gehad om mense weer te kry om te bid.”

Hy sê toe hy en sy vrou besef die einde is naby, het hulle besluit Dehun se naam moet voortleef. Dis toe dat hulle besluit het om ʼn trustfonds in sy naam te stig wat die ontwikkeling van ʼn teengif vir sebraslange kan finansier, en ook bestaande teengiwwe kan verbeter en so menselewens kan red.

“Of hy nou geleef of gesterf het, ons kind het mense regtig aangeraak, selfs tot aan die anderkant van die wêreld. Die groot ding is dat ons God steeds verheerlik.”

Of hy nou geleef of gesterf het, ons kind het mense regtig aangeraak.

De Wet vertel dis ʼn wonderwerk dat sy seun 108 uur lank oorleef het, al was die gif sterk genoeg om twee volwassenes binne twee dae dood te maak.

Hulle sal hom onthou as “cute en koddig” en as ʼn ware klein grapjas wat oral in mense se harte gekruip het. “Jy kon nooit met hom raas nie, want jy het te veel gegiggel vir sy koddige maniere,” onthou sy pa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andrea ·

Hierdie is so tragies. Eks só jammer vir julle! Mag jul versterk en vertroos word.

Abe ·

Guve,
Namibie en s. Dele van Angola, maar hy is ‘n subspesie van die Swartnek Spoegkobra wat wyd in SA voorkom. Slaan na: Naje nigrocollis nigrocincta. Al die subspesies van N. nigrocollis is maar baie gevaarlik.

Johannes ·

Iets van dit waardeur julle gaan laat my vreeslike baie aan 1 Petrus 1:7 dink: “…Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Ek bid vir julle vir alle sterkte toe in hierdie geweldige vuur toets. Mag julle die vrede wat net God kan gee eervaar, en mag julle geloof die lof en eer en heerlikheid waardig wees by Christus se wederkoms.

Piet ·

Mooi stuk Johannes. Ek wou nog n vraag of 2 vra oor die slang, maar dis seker nie nou die tyd nie. Ek glo daars n plan. Sterkte Piet (Petrus Johannes)

Abe ·

Piet,
Slaan na; Naje nigrocollis nigrocincta. (Swartnek spoegkobra, subspesie, sebrakobra)

Nettie ·

@Piet, net ter inligting – die sebraslang (‘n soort kobra – “naja nigricincta nigricincta”) kom net in Noord- en Sentraal Namibië voor. Baie algemeen in voorkoms, báie giftig en die tipe slang kan ook gif spuug. Die gif is sito-toksies en tot hede is daar – a.g.v. kostes – nog nie ‘n teengif ontwikkel nie. Min sterfgevalle kom voor, a.g.v. die feit dat die gif stadigwerkend is en mediese ingryping (amputasie) dikwels geskied voor die gif kan versprei. Die arme seuntjie is ongelukkig in sy gesiggie gebyt, daarom was amputasie nie ‘n opsie nie.

Zebra slang ·

Nee, Zebra slange kom in dele van Suidelike Afrika voor. Insluitend Suid-Afrika, Angola, Botswana en Zimbabwe. Hulle is familie van die spoeg kobra

Charles ·

Ek het nog nooit van ñ sebraslang gehoor nie! Wil iemand nie ñ foto van een stuur nie? Rus sag Dehun.

Abe ·

Charles,
Slaan na of google; Naja nigricollis nigricincta. (Johan Marais, A Complete Guide to the Snakes of Southern Africa, p110,112) Daar is baie variasies van die volksname: sebraslang, sebrakobra, gestreepte swartnek spoegkobra, ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.