Ouma (71) saam met gesin aangehou; later ontvoer

Denise Bartlett (Foto: Facebook)

ʼn Oos-Kaapse gesin sê hulle is “baie bekommerd” oor die veiligheid van Denise Bartlett, hul 71-jarige ouma van Sterkstroom in dié provinsie, nadat sy Dinsdagaand ná ʼn huisroof deur ʼn groep verdagtes ontvoer is. Sy word sedertdien vermis.

Lindy Bartlett, Denise se dogter, het Woensdag aan Maroela Media vertel die familie “kon weens erge bekommernis nie ʼn oog toemaak” Dinsdagaand nie.

Volgens Bartlett was Denise saam met ʼn kleindogter en dié se vriendin tuis toe die verdagtes toegeslaan het.

“My ma [Denise], my dogter en haar vriendin was vir ongeveer 20 minute tuis toe hulle ʼn man onder die tafel opgemerk het. Toe die man sien dat hulle hom gewaar het, het hy onder die tafel uitgespring en hulle toe met ʼn wapen aangehou,” sê sy.

Bartlett sê sy en een van haar ander dogters het later die aand by haar ma se huis aangekom en is deur nog ʼn gewapende man oorval. Volgens haar het die man haar en haar dogter met ʼn wapen tot in die badkamer gedwing.

“Die man het ons eers gevra vir ons selfone. Ek het my selfoon op die grond gegooi, maar gesê my dogter het nie ʼn selfoon nie. Hulle het ons daarna in die badkamer ingeboender en die deur agter ons gesluit. My dogter het haar selfoon uitgehaal en ons het die polisie gebel, maar hulle kon ons nie aan die ander kant van die lyn hoor nie. Ons het toe my derde dogter en haar vriendin gebel wat toe die polisie in die hande kon kry wat toe na die toneel gekom het.”

Volgens haar kon sy en haar dogter later uit die badkamer ontsnap en was hulle net betyds om te sien hoe die verdagtes met Denise in haar motor wegjaag. Lindy sê haar ma is in die kattebak van die motor ingeboender.

“Ons kon net sien hoe hulle wegjaag, waarna die polisie later opgedaag het. Hulle was nie betyds nie, maar kon ons verklarings neem en het dadelik die inligting begin opvolg. Ons weet nie watter rigting om in te slaan nie want daar is nog nie enige beduidende bewyse nie. Die familie kort in dié stadium gebede,” sê sy.

Lindy sê forensiese deskundiges en ondersoekbeamptes kon intussen daarin slaag om ʼn sein van Denise se selfoon tussen Sterkstroom en Queenstown op te spoor, maar die selfoon is glo deur die verdagtes daar agtergelaat.

Die polisie het intussen Denise se motor, ʼn lemmetjiegroen Chevrolet Spark, in Queenstown opgespoor. Daar is egter nog geen teken van Denise of die verdagtes nie.

Genl.maj. Funeka Siganga, polisiebevelvoerder, het die voorval bevestig. “Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting om die misdaadnoodlyn te bel by 0860 010 111,” het hy gesê.

Die polisieondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Bokkie ·

Ek bid dat die ouma veilig gevind sal word. Daar is geen ontsag meer vir n bejaarde nie.

Santie Kotze ·

‘klink’ sketchy…..hoekom net die tannie ontvoer? Omdat sy dalk ‘n “bekend persoon” is. Sterkte Vir familie. Bid vir veilige terug keer ❤

Mimi ·

Ons hoop en bid regtig dat die ouma, Mev. Bartlett veilig en ongedeerd gevind sal word. n Mens kan jou net die angs van die famie voorstel. Wat op aarde sal die motivering wees om die ouma te ontvoer? Baie sterkte aan die familie, ons hou jul almal in ons gebede.

mimi ·

Ons hoop en bid dat ouma Bartlett veilig en ongedeerd gevind word! Dis n raaisel hoekom hulle so ou dame wil ontvoer. Sterkte vir die familie in die angstige tyd, ons dink aan u in ons gebede.

Cassie ·

Bokkie,wat kan die ou dame hulle bied of het hulle haar ontvoer om haar te dwing om geld te onttrek by die kitsbankDie feit dat daar nog geen spoor van haar is nie en geen beloning ge-eis is nie maak my bekommerd.Moontlik kry hulle nog vir ouma lewend.Sterkte aan die familie.Ons hoop en bid saam met julle

Chrisjan ·

Ek merk op dat daar n toenemende aanslag is op plattelanders. Paar jaar gelede was dit absoluut uitsonderlik. Hierdie ding is georganiseer en mense met goeie militêre kennis is beslis deel van die “operasie”.

Sam ·

Hierdie hele storie maak nie sin nie. Hierso is iets aan die gang.

Gesiggie ·

Jesus bewaar asb vir Denise, bring haar veilig terug na haar Familie… kan net dink wat jul als moet deurmaak en hoe bekommerd jul moet voel,,, Kom ons Bid vir n wonderwerk… God is in Beheer.. ek Bid vir goeie nuus binnekort…

Piet Pompies ·

Die berig maak nie sin, daar was een verdagte onder die tafel, later in die berig word na verdagtes verwys… die Chevrolet spark se kattebak is 170 liter, hoe kry jy ‘n volwasse persoon in so ‘n klein plekkie.
Ons hoop die Ouma word gevind wat sekerlik oor die waarheid beskik.

Hannelie ·

Hierdie wettelose land is nie meer ‘n plesier nie. Jy vrees jou lewe elke liewe dag. Ek bid dat die tannie ongedeerd gevind word.

Ai tog ·

Ai tog dit is jammer, sterkte. Ek vererg my eers vir almal wat negatief reageer en besef, hul denke is nie so ondenkbaar, met alles wat ons die laaste 5 jaar beleef is enige iets moontlik. Ek hoop egter regtig Ouma is ongedeerd en jul vind haar so gou moontlik.

Theresa B ·

Ons bid almal vir Ouma se veilige terugkeer. Groot asseblief, hou ons op hoogte.

Leonie ·

Dis ‘n goeie vriendin van my tannie. Hoop regtig hulle kry haar spoedig. Sterkte aan die familie. MM hou ons asb op hoogte sou julle iets hoor.

bb ·

Ai, ek moet uit my foute leer om nie al die kommentaar te lees nie. Die nare gedagte is dat ons volkie soos ‘n verskrikte klomp hoenders klink wat ‘n vreemde ding in die hoenderhok gewaar. Almal kloek sinneloos heen en weer. Hoop die gesin kry spoedig antwoorde.

Theresa ·

Dalk verskrik, maar wragtie, daar is ‘n vreemde ding in die hoenderhok. Wrede misdade en ontvoering soos nog nooit van te vore in die hoenderhok nie.

Gesiggie ·

Is daar al enige nuus aangaande Denise… sien geen opvolg?.. as iemand iets gehoor het… hoop sy is veilig…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.