Ouma en kleinseun wat alles in brand verloor, se projek roer harte

Alexander Stawiszynski en sy ouma, Lucy, van Knysna, het alles in die Knysna-brand verloor (Foto: Facebook)

Nadat sy ouma tydens die Knysna-brande te voet met net haar papegaai en hondjie van haar brandende huis moes vlug, het Alexander Stawiszynski nou ʼn projek begin wat duisende harte op sosiale media aanraak.

Stawiszynski het op sosiale media gesê hy is dankbaar dat sy ouma – Lucy, wat al ʼn geruime tyd lank in Knysna woon – lewe, aangesien haar motor onklaar geraak het toe sy van die brand probeer vlug het. Dit het toe daartoe gelei dat Lucy te voet na veiligheid moes vlug.

Stawiszynski het op sy Facebook-blad gesê hy was nie tuis ten tyde van die voorval nie, en het op sosiale media ’n beroep op mense in die omgewing gedoen om sy ouma tydens die brand by te staan.

Haar buurman het haar glo opgelaai en na veiligheid geneem. Lucy se huis is in die brand verwoes met byna alles wat sy in haar lewe besit het. Haar motor het ook uitgebrand.

Alexander Stawiszynski en sy ouma, Lucy, van Knysna, het alles in die Knysna-brand verloor (Foto: Facebook)

“Ons het alles verloor, insluitend die motor. Gelukkig is my ouma deur haar buurman gered. Sy en die troeteldiere is nou veilig, en die res kan ons herbou,” het hy gesê.

Ten spyte daarvan dat hulle alles in die brand verloor het, beywer dié ouma en kleinseun hulle egter nou om voëlhuisies te bou en kos bymekaar te maak vir wilde voëls wat na die area terugkeer, maar nie meer blyplek of kos het nie.

“Ons is baie besorg oor die wilde voëls wat deur die brande geraak is. Ons wil graag waterpunte en voerhouers vir die voëls by verskeie dele in die Eastford-natuurreservaat, en ook reg oor Knysna, plaas.”

Alexander Stawiszynski en sy ouma, Lucy, van Knysna, het alles in die Knysna-brand verloor (Foto: Facebook)

Hy het op sosiale media ’n beroep gedoen op vrywilligers wat voëlvoerders kan skenk of help maak om dit oor die dorp te versprei. ʼn Facebook-blad, Garden Route Bird Relief Program, is intussen ook gestig.

Stawiszynski het Langstraat op Thesen Island in Knysna as ʼn versamelpunt vir enige water, voëlsaad of voëlvoerders geïdentifiseer.

Hy het intussen ook gesê vrywilligers van reg oor die land het sy ouma gehelp om ʼn nuwe tuiste en ʼn splinternuwe klerekas te kry.

Vir meer inligting oor hoe om by te dra tot sy projek, besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarie ·

Dis ñ wonderlikke inisiatief. Ek bid dat dit daar sal reën, sodat die gras, bome & àlles wat daarvan afhanklik is, weer kan uitspruit!!! My hart pýn as ek dink aan àl die insekte & diere (àlle variìteite) wat daar omgekom het…. Ek het vanoggend op RSG gehoor dat die inheemse bome beter daarvan afgekom het as die aangeplante spesies… Kan iemand wat daar woon, moontlik die stelling bevestig asb?

Susan ·

Dit is ñ voorbeeld vir ons almal. Mag die Here jul seën met al die nodige hulp. ????

Nene ·

Alexander… Die Grootte
Lucy in the skye with diamonds… !♢♢♢
Hoe lekker om vir n slag te hoor van opbou en nie afbrand. Wat n voorbeeld is julle nie vir ons almal.
Self alles verloor maar tog het julle genade vir die diere. Seën vir julle.

Lollie ·

Uitstekende idee! Wie het vir een oomblik gedink om iets vir die voëls te doen? Die Here sal hulle seën vir hierdie wonderlike gebaar! Pragtig nuus!

Louis ·

Ek het ouma Lucy ontmoet na die brand en by haar gaan inloer op George voordat haar kleinseun Alex arriveer het. Pragtige persoon en gaan eersdaags weer inloer op Knysna.

Neelsie ·

Die voëls en diere was ook my bekommernis van die begin af. Baie dankie dat julle omgee en hulle help. Ons moet die inisiatief op facebook verder neem asseblief? Mag daar reën kom en daardie wêreld mooier as tevore word!!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Diere is altyd my bekommernis wanneer ongelukkge gebeur. In die winter sit ons kos uit vir die voeltjies maar wie dink bv daaraan om water uit te sit in droogtetyd en wanneer erge hittegolwe ons tref. Mense kry altyd hulp maar wie het al gedink om sakke dierekos te voorsien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.