Ouma het ‘gesoebat’ om nie vasgebind te word

Die 76-jarige Martha Marais se familie het haar vasgebind in die hospitaal aangetref. (Foto: verskaf)

Die 76-jarige Martha Marais is nog erg getraumatiseer nadat sy verlede week met haar hande agter haar rug aan ʼn stoel vasgebind in die wagkamer van die Mamelodi-hospitaal in Pretoria aangetref is.

“Sy herhaal gereeld wat met haar gebeur het. Sy vertel dan hoe sy [die hospitaalpersoneel] gesoebat het dat hulle haar nie moet vasbind nie en toe later om haar los te maak,” sê Virginia Keppler, woordvoerder van die Marais-familie. “Sy het gister vir die LUR en die Menseregtekommissie (MRK) verduidelik dat sy net heeltyd gebid het dat haar kind haar moet kry. Toe haar dogter by die hospitaal aankom, het sy net gesê ‘Dankie Here’.”

Dr. Bandile Masuku, nuutaangestelde LUR vir gesondheid in Gauteng, en Buang Jones, provinsiale bestuurder van die MRK, het die bejaarde vrou by haar huis in Eersterust besoek nadat sy Saterdag uit die hospitaal ontslaan is.

Die LUR het tydens dié besoek opdrag gegee dat Marais tuis berading moet ontvang om dié nare ervaring te verwerk.

Die MRK het op sy beurt onderneem om Marais se familie in ʼn siviele saak te verteenwoordig nadat die familie verlede week ʼn kriminele aanklag teen die hospitaal by die Pretoria-Oos-polisiestasie aanhangig gemaak het.

“Ons wil seker maak dat dit [wat met Marais] gebeur het, nooit weer met iemand gebeur nie,” het Keppler gesê.

Volgens Keppler is Marais se familie tevrede met die LUR se spoedige reaksie nadat ʼn video van die voorval op sosiale media versprei is.

“Ons is baie tevrede oor hoe die saak hanteer word. Die LUR het van die begin af ingespring. Hy was skaars aangestel [as LUR] toe moes hy die saak takel. Hy het gister gesê dat hy nog nie eers by sy nuwe kantoor was nie,” vertel sy aan Maroela Media.

Die familie is veral tevrede met die optrede teen die vier personeellede van die Mamelodi-hospitaal wat op spesiale verlof geplaas is ná die voorval.

Maroela Media het vroeër berig twee dokters, ʼn verpleegster en ʼn veiligheidswag is op spesiale verlof geplaas hangende verdere ondersoek.

Keppler vertel dat die familie self nog getraumatiseer is na die voorval en dat die hospitaal aangebied het om ook vir hulle berading beskikbaar te stel.

Dít nadat ʼn video en foto’s verlede week op sosiale media versprei is waarin gesien kan word hoe Marais op die vloer spartel terwyl sy aan die stoel vasgemaak is. Haar dogter, Stephnie Marais, is woedend in die video en eis dat haar ma onmiddellik losgemaak word.

Zweli Mkhize, die nuutaangestelde minister van gesondheid, het binne ure ná sy aanstelling sy skok uitgespreek oor die voorval. Mkhize en Masuku het kort daarna die betrokke hospitaal besoek om antwoorde van personeel te eis asook te verseker dat Marais gehalte sorg ontvang.

Die departement het tydens die besoek bevind dat Marais sleg behandel is en die standaard prosedure nie gevolg is nie. Mkhize en Masuku het ʼn volledige ondersoek na die voorval aangevra en ook versoek dat die personeel wat by die voorval betrokke was, nie meer interaksie met pasiënte mag hê nie.

Marais is verlede week Dinsdag by die Eersterust-kliniek na die Mamelodi-hospitaal verwys weens naarheid en ʼn maagaandoening. Sy is met ʼn ambulans na die hospitaal vervoer.

Die hospitaal maak voorsiening vir pasiënte van Mamelodi, Nellmapius, Eersterust, East Lynne, Cullinan, Pretoria-Oos, Nkangala en Bronkhorstspruit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

HM ·

Wat n skande. Kyk na die manier wat sy vasgebind was. Koue vloer. Wat het geword van respek en trots in die beroep. Wat het geword van die matrone in daardie afdeling….. dokters. Wat van n spook besoeker wat hospitale besoek en klagtes ondersoek .

Ron ·

Wat my bitter ontstel is dat 4 mense hierby betrokke is!
Hoe kan 4 mense dit toelaat , doen , goedkeur en toekyk??????
Waar is menslikheid . . . . ek kan nie eers verby n bakleiery in die straat ry tussen skoolkinders of ander kleurigers sonder om te wil stop en te wil help of red nie!!!!
WAT BAIE DUIDELIK HIER IS DAT MENSE SOOS DIE WOORD VAN GOD Sê SONDER LIEFDE IS!

Hansie Slim ·

Spesiale verlof.. asseblief!!
Hulle moet geskors word as hulle aandadig is!! Hulle moet net eers seker maak!!

Onnie ·

Dis erg maar nog nie so erg soos “ander gevalle” in ons land waar mense gemartel word tot die dood. Die storie kry nou skielik die regering se aandag, wat van die ander ….

GN ·

Die geval is erger omrede n siek bejaarde mens veronderstel is om versorg te word in n hospitaal. Nie in winter vasgemaak te word aan n yster bank op die vloer nie.
Geen onskuldige mens verdien om gemartel of vermoor te word nie.
Ek wonder hoeveel mense, hetsy publiek of personeel, het verby die dame geloop sonder on n oog te knip. Waar is die naasteliefde wat van ons verwag word?

???????????? ·

Hy kan gerus Bethal Hospitaal…Mphumalanga..gaan ondersoek. My pa is daar oorlede. Toe my pa in die ongevalle opgeneem is het hulle hom op ‘n vuil bed…nog nat met bloed van die vorige pasiënt…laat lê. Hulle het my pa so hard hanteer….en hy was net vel en been. Jy mag geen fotos neem nie…hulle wil jou foon dan vat. Daar is geen lykshuis….hulle het vir my broer gesê….if your father dies here,you wil have to make a plan toe get him out of here. My broer vra toe…hoekom is daar nie ‘n lykshuis…ehh it was demolished 5years ago and has not been rebuild…het. Toe gebeur dit. My broer moes my pa gaan uitken…daai kamer waar my pa en ander lyke was…het so gestink…my broer sê hy wou flou word van die reuk…die lyksbesorger het gevra dat hulle asb moet help om my pa op hulle trollie te kry….sorry it’s not my job…was hulle antwoord. My skoonsuster moes die slaapklere wat my pa aangehad het verbrand…dis hoe vol bloed dit was van die ongevalle bed. Toe my pa saal toe is het hulle darem vir hom skoon slaapklere aangetrek. Daar is geen deure by die badkamers of toilette op nie..baddens ens is so vuil. Die hospitaal stink blykbaar verskriklik…. Hoop hy die nuwe een van gesondheid doen ook ‘n rondte by Bethal Hospitaal

Leon Hall ·

So iets sou nooit voor 1994 gebeur het nie. Oortuig my andersinds as jy kan. Jy kannie.

Irene Snell-Carroll ·

As organisasie (Age-in-Action: Weskaap) wat spesifiek werk met bejaardes, is ons geskok deur die voorval. Dit juis in hierdie maand waar ons spesiaal Wêreld Bejaarde Mishandeling Bewusmakings dag(15 Junie) vier. Dit toon dat baie mense geen respek en deernis het vir bejaardes nie. Hierdie mense wat hul lewe opgeoffer het vir die land en nou op so ‘n manier gehanteer word is verre gaande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.