Ouma, jong kinders in Piet Retief vermoor

Die landdroshof in Piet Retief, Mpumalanga. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ʼn 71-jarige vrou en drie jong kinders van onderskeidelik drie, agt en tien jaar oud is Donderdag in Piet Retief in Mpumalanga vermoor. ʼn Vyfde slagoffer het die voorval oorleef en word tans in die hospitaal behandel.

Die slagoffers, glo familielede, het almal skietwonde opgedoen.

ʼn 32-jarige verdagte, vermoedelik die kleinseun van die bejaarde slagoffer, is intussen in hegtenis geneem.

Geen name is bekendgemaak nie.

“Die slagoffers se lewelose liggame is deur ʼn manlike familielid aangetref nadat hy glo aan die deur geklop het en daar geen antwoord was nie. Die man het glo gedwonge toegang tot die huis verkry en op die gruwelike toneel afgekom,” het Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, gesê.

“Die polisie het ʼn 32-jarige verdagte in hegtenis geneem wat na verwagting Maandag in die landdroshof op Piet Retief sal verskyn.”

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in dié provinsie, het die “sinnelose” en “wrede” voorval veroordeel.

“Ons kan nie bekostig om voortdurend lewens op hierdie wyse te verloor nie. Wat nog erger is, is dat weerlose kinders vermoor word deur dié wat veronderstel is om hulle te bekerm.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.