Ouma, kleindogter slagoffers van huishoudelike geweld

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn 32-jarige man wat verdink word van die moord op sy 17-jarige meisie en haar 63-jarige ouma, is onder polisiebewaking in die hospitaal. Die twee vroue is Maandag by hul huis in Emadamini naby Ermelo in Mpumalanga dood aangetref.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê familielede het ondersoek ingestel toe die meisie se werkgewer laat weet het sy het nie vir werk opgedaag nie.

“Met hul aankoms by die ouma se huis was daar nie enige antwoord toe hulle aan die deur geklop het nie. Niemand het op hul oproepe reageer nie en die bure het ook nie geweet waar die ouma en kleindogter hulself bevind nie.”

Hulle het glo die dogter se kêrel gekontak sodat hulle die huissleutel by hom kan kry, maar hy het ontken dat hy enigiets van ʼn sleutel af weet. “Toe hulle vir hom vra waar sy meisie is, het hy glo gesê sy is in die hospitaal omdat sy vroeër gesê het sy voel olik.”

Teen 18:00 was die familielede rasend van bekommernis en het een van die huis se ruite gebreek om toegang te bekom. “Hulle het op die liggame van die twee vroue afgekom. Hulle was met komberse bedek. Albei het kopbeserings en verskeie kneusplekke opgedoen.”

Lede van die gemeenskap het ʼn soektog van stapel gestuur na die kêrel om inligting te bekom oor wat gebeur het. “Die man is Dinsdagoggend in die vroeë oggendure opgespoor en hulle het hom omstreeks 02:00 aan die polisie oorgegee. Hy het beserings opgedoen en die gemeenskap het gesê hy het homself met ʼn mes gesteek.”

Die man is tans in die hospitaal onder polisiebewaking vir verdere ondervraging.

Intussen ondersoek die polisie in Protea Glen, Gauteng, ook ʼn dubbele moord en ʼn saak van brandstigting.

Kol. Dimakatso Sello, woordvoerder van die polisie, sê ʼn 44-jarige vrou en haar sesjarige seun is op 27 Augustus glo deur haar kêrel aan die brand gesteek.

“Die verdagte, Lerato Sefekedi (44), het van die toneel gevlug en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Enigiemand met inligting oor die verdagte word versoek om die polisie in Protea Glen te kontak by 011 986 9272/9575 of die SAPD se misdaadlyn te skakel by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook op die MySAPS-app ingedien word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Ek is baie jammer en hartseer oor die geweld teenoor vroue en kinders. Sommige mans is net monsters wat moor asof dit ‘n stokperdjie is. Iets in die DNA het ‘n afwyking. en akademici behoort navorsing daaroor te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.